Gedwonge administrasie vir Vrystaat-munisipaliteit, sê hof

Mafube- plaaslike munisipaliteit. (Foto: Google)

Die Vrystaatse hooggeregshof het Donderdag die premier verplig om die Mafube- plaaslike munisipaliteit nie net onder gedwonge administrasie te plaas nie, maar ook dringend ʼn finansiële herstelplan te implementeer.

Intervensie by dié munisipaliteit moes reeds plaasgevind het, maar die Vrystaatse premier was glo laks en het nie sy verpligtinge nagekom nie.

Morné Mostert, bestuurder van plaaslikeregeringsake by AfriForum, sê die premier het al sedert 2017 versuim om die basiese grondwetlike beginsels te beskerm.

“Dit sluit in basiese regte soos om dienste op ʼn volhoubare wyse te lewer, ʼn gesonde en veilige omgewing te verseker en te verseker dat gesonde finansiële en bestuurspraktyke geïmplementeer word.”

AfriForum en die Mafube‑sakeforum het namens die inwoners van Frankfort die aansoek om die plaaslike munisipaliteit onder administrasie te plaas, voor die hof gebring.

Frankfort ontvang reeds jare lank nie meer behoorlike munisipale dienste nie en die munisipaliteit is amptelik bankrot.

Jacques Jansen van Vuuren, skakelbeampte van die Mafube-sakeforum, sê die inwoners van hierdie dorp is keelvol vir die munisipaliteit se swak dienslewering en algehele onbevoegdheid.

“Slaggate, gereelde watertekorte, ʼn gebrek aan vullisverwydering en ʼn wanfunksionerende rioolstelsel is maar enkele van die probleme wat inwoners van dié dorp ervaar. Die munisipaliteit het ook vir etlike jare geen munisipale rekeninge aan inwoners gestuur nie,” sê hy.

Mostert meen dat dit daarop neerkom dat die president eindelik moet intree indien die premier verder versuim om die hof se uitspraak na te kom.

“Hoewel plaaslike owerhede outonoom is, is daar steeds binne die Grondwet ʼn oorsigbevoegdheid van die provinsiale regering om te verseker dat dienste gelewer word,” sê hy.

“In hierdie geval was die provinsiale regering bewus van die munisipale probleme, maar niks is egter daaraan gedoen nie. Indien die premier nie hierdie probleme oplos nie, bly dit steeds die president se verpligting om te verseker dat dienste in die Mafube-omgewing gelewer word.”

Tesame met die gedwonge administrasie, het die hof beveel dat daar ook dadelik by die rioolinfrastruktuur tussenbeide getree moet word om die besoedeling van die Vaal- en Wilgerivier te stuit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.