Geen borgtog vir Corrie Pretorius

(Foto: Corrie Pretorius in die Groblersdal-landdroshof. Tania Heyns/Maroela Media)

Corrie Pretorius, die man van Groblersdal wat glo onlangs ’n tienerseun by ’n kitskosrestaurant op dié dorp aangerand en ’n vuurwapen op hom gerig het, bly agter tralies.

Landdros Nancy Mathavha het Pretorius se aansoek om borgtog Woensdagmiddag in die landdroshof op die dorp geweier.

Mathavha het eindelik met die staat saamgestem dat Pretorius (49) se lewe in gedrang sou wees, sou hy op borgtog vrygelaat word en die saak tot September uitgestel.

Adv. JJ Venter, Pretorius se regsverteenwoordiger, het intussen aan Maroela Media bevestig dat die verdediging hom binne die volgende paar dae na die hooggeregshof sal wend om teen die uitspraak te appelleer.

‘Jy sal nie weer aan my wapen vat’

Die verdediging se aansoek om sy saak te heropen op grond van nuwe feite is vanoggend voor die uitspraak toegestaan en Venter het ’n verklaring van ’n ooggetuie in die hof voorgelees.

Volgens die betrokke ooggetuie, ’n klant van Fat Cake City waar die voorval afgespeel het, was die tienerseun en sy vriende die aand dronk nadat hulle ’n rugbywedstryd bygewoon het. Dit wil ook voorkom of Pretorius uitgelok is.

“Ek het by Fat Cake City ingegaan en ’n geraas van buite gehoor,” lui die verklaring. “Twee jong mans het by die restaurant ingehardloop gekom. Hulle het drank in hulle hande gehad.”

Die ooggetuie vertel dat hy sy kosbestelling geplaas en weer in sy motor geklim het om te gaan elektrisiteit koop. Pretorius en sy dogter het met die ooggetuie se terugkoms by die toonbank gestaan om vir hul kosbestelling te betaal.

’n Groep jong mans het in daardie stadium by die sout en souse gestaan. Die seuns het ’n groot lawaai en met die sout en souse gemors. Een van die werknemers het hulle gevra om sagter te wees.

Die seuns het glo nie daarop ag geslaan nie. Dit is toe dat Pretorius glo omdraai en hulle vra om minder geraas te maak.

Luidens die verklaring het die seuns Pretorius genader, maar Pretorius het eenkant toe gestaan. Die tieners is toe na buite voordat een tiener teruggekeer en om verskoning gevra het.

Die ooggetuie vertel dat hy in daardie stadium sy kos ontvang het en huis toe is. By die huis gekom het hy besef dat hy nie sy volledige bestelling ontvang het nie. Hy is toe weer terug na Fat Cake City.

Pretorius en sy dogter het in dié stadium buite die restaurant vir hulle kos gewag. Een van die werknemers het Pretorius na binne geroep om sy kos te ontvang. Pretorius is vandaar na die toonbank met die sout en souse.

“Kan ek ’n tjip kry, oom?” het een van die tieners glo vir Pretorius gevra. Volgens die ooggetuie het Pretorius aan die tiener gesê dat hy sy eie kos bestel het en hom gevra om hom uit te los.

Die tiener het weer vir ’n tjip gevra en Pretorius het weer gevra dat die tiener hom moet uitlos.

Foto: Corrie Pretorius in die Groblersdal-landdroshof. Tania Heyns/Maroela Media)

Volgens die ooggetuie het die tiener sy hand in die houer kos in Pretorius se hand gesteek.

“Een van die [tieners] het omgedraai en iets vir sy vriende gesê. Van wat ek kon hoor en verstaan, het die [tieners] die beskuldigde gevloek en begin lag.”

Dit is toe dat Pretorius glo een van die tieners aan die bors gryp en by die winkel uitboender. Die tiener en sy vriende het buite die winkel om Pretorius gaan staan, “op hom geskree en hom gedreig”.

Pretorius het glo sy vuurwapen uitgehaal en die tieners het weggedraai. Luidens die verklaring het Pretorius weer sy vuurwapen gebêre en sy kos in die restaurant gaan haal.

“Een van die [tieners] het teruggegaan en op hom geskree. Iets oor sy pa en sy ma.”

Luidens die verklaring is Pretorius toe weer na buite en die tieners het sy vuurwapen by hom probeer afvat.

“Jy sal nie weer aan my wapen vat nie,” het Pretorius aan een van die tienerseuns gesê. Een van die tienerseuns het Pretorius glo aangerand voordat Pretorius die tienerseun opgetel en op die vloer gegooi en toe geskop het.

Dié gedeelte van die gebeure is op video vasgevang en sedertdien wyd op sosiale media versprei.

Volgens die ooggetuie het Pretorius nooit sy vuurwapen op enige van die tienerseuns gerig nie en het hy ná die voorval in sy motor geklim en weggery.

Hy is kort daarna by sy huis op die dorp in hegtenis geneem op aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer en die rig van ’n vuurwapen.

Die staat het vanoggend aangevoer dat die verklaring “niks verander nie” en bloot daarop dui dat Pretorius wel die tiener aangerand het. Die verklaring bevestig volgens die staat ook dat hy ’n sterk saak het.

Die verdediging glo egter dit dui daarop dat sy kliënt nooit ’n vuurwapen op die klaer gerig het nie en ’n verweer vir sy optrede het.

“Dit is duidelik dat hy geterg en uitgelok is. Dit moet in ag geneem word,” het Venter volgehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Saartjievandiebosveld ·

Ek het gedink die man was uitgelok. …een deel van ‘n video vertel né die Hele storie nie. Ek hoop hy dagvaar hulle…

Fluisterwind ·

Nadat Pretorius die persoon by die tweede geleenteid gewaarsku het om nie aan sy wapen te vat nie, het Pretorius reg opgetree om eerder die persoon fisies te verweer eerder as om sy wapen te kon gebruik, want as die aanvaller die persoon se wapen probeer afvat dui dit op ontwapining, wat Pretorius nie sal weet wat die aanvaller met sy wapen wil doen nie. Vir my is dit die logiese gevolge in hierdie situasie.

Jean ·

Al het die man als gedoen wat die “tieners” sê, moet hy nogsteeds borg kan kry. Maar nee nou gee die regter om oor sy veiligheid.

NWT ·

Ek het geweet dat daar nog feite kort. Ek hoop dat daardie restuarant kameras aan die binnekant en buitekant het . Indien wel , moet die verdediging dit kry om hul die getuienis van die oggetuie te versterk. Ook kry n getuie van die werkers van die ook aan diens was . Snaaks dus wat die speuders moes gedoen het.
Dus die probleem in SA. Mense mag uit selfverdeding optree om jou lewe , of die lewe van jou gesin te beskerm nie. N mens moet dit toelaat anders word jy aangekla. Dan se ek kla my maar aan , want my gesin sal ek beskerm.

SjN ·

Geen mens sal sommer net so optree as hy nie uitgelok, getart en leed aangedoen word nie, waar is ander getuies.

gpsa ·

Dankie aan persoon wat bereid was om getuie te lewer, hoop dit help die man in die situasie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.