Geen borgtog vir Vaalharts-verdagtes

Elzabie, Breggie en Dan Brand.

Die vyf verdagtes wat vasgetrek is in verband met die moord op die Brand-gesin in die Vaalharts-omgewing in die Noord-Kaap, is borgtog geweier.

Maroela Media het vroeër berig die 83-jarige Dan Brand, sy 79-jarige vrou, Breggie, en hul dogter Elzabie (54) is in Julie op ’n kleinhoewe in die Vaalharts-omgewing naby Hartswater oorval, ontvoer en later vermoor. Een van hul twee gesteelde voertuie is later verlate naby die Majaneng-nedersetting in Taung aangetref.

Volgens Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Noord-Kaap, het die vyf verdagtes, Khomotso Mpumlwana (43), Tshepo Visagie (36), Tshepo Seolesang (20), Tshepaone Melato (19) en Realeboga Manyedi (18), Donderdag in die Hartswater-landdroshof in verband met die moorde verskyn. Hulle staan tereg op aanklag van moord, ontvoering en roof.

Die vroueverdagte, Mpumlwana, se borgtogaansoek is reeds begin Maart van die hand gewys. Dit is die tweede keer wat haar borgtogaansoek geweier is. Sy het reeds verlede jaar September haar eerste borgtogaansoek ingedien.

“Die verdagtes sal in aanhouding bly tot hulle weer op 22 April in die hof moet verskyn,” sê Senokoatsane.

Die Brand-egpaar se liggame is op 28 Julie in die omgewing van die Takaneng-nedersetting in Taung in Noordwes gevind. Elzabie se liggaam is vroeër in dieselfde omgewing opgespoor. Die drie is vermoedelik reeds die Sondagmiddag ontvoer tydens ʼn aanval op ʼn kleinhoewe in die Vaalharts-omgewing naby Hartswater. Daar was tekens van ʼn struweling en bloedspatsels in die huis.

ʼn Sahara-skootrekenaar en ʼn Samsung J5-selfoon wat aan die Brand-gesin behoort het, is in ʼn pandjieswinkel in die Taung-omgewing gevind. Hierdie items is vir R400 aan die pandjieswinkel verkwansel. Die polisie het ook ʼn handsak by Mpumlwana se huis gevind. Die handsak het verskillende kaarte, waaronder rybewyse, identifikasie van dokumente en winkelkaarte, bevat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

SomeOne ·

stem ook daarmee saam, hoop hulle kry NOOIT borg nie, om moord te pleeg is nie een van God se gebooie nie

SomeOne ·

laat die 5 ook maar elk “borgtog van sowat R16 miljoen betaal” dan kan daar dalk iets oorweeg word

Toetsie ·

Dankie tog daarvoor! Hul hoort agter tralies. Nog beter, hul behoort almal die doodstraf te kry! Ons regsstelsel in hierdie land is n klug en soms baie onregverdig. Doodstraf vir moord! Doodstraf vir verkragting!

JohanR ·

Jy kan moes nou self kies in SA hoe lank jy graag wil tronk toe gaan. Daar word ‘n veerpyltjiebord en vuurpyltjies die hof in gebring dan kan jy gooi van ‘n bietjie ver af, vir die 6uur, 6 dae, 60dae of 60 jaar. Jy moet net nie die regter raak gooi, en nie vra vir ‘n tweede of derde kaans vra as jy 60 jaar raak gooi!

Yvonne ·

Johan R jy is reg…dit is hoe dit deesdae gaan….die grootste klug ooit…..gelukkig weet ons waar ons in lewe en dood gaan wees en die oordeel sal verseker kom….dit kom vir ons almal , skape en bokke sal geskei word

Cherokee ·

Wat is die oorwegings vir borgtog? Borgtog behoort oorweeg te word slegs indien daar ‘n moontlikheid van onskuldig-bevinding kan wees. Die handsak in haar besit gevind, en sy vra steeds borg? En pandjieswinkeleienaars behoort ook bevraagteken te word wanneer waardevolle(r) items vir ‘n appel en ‘n ei verkoop word, en hulle koop dit sonder om enige vrae te vra.

melW ·

Hulle is nog nie eens gevonnis nie … Sal interessant wees om te hoor hoe lank hulle gaan sit!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.