Geen ‘doodloopspore’ vir dié raaiseljagter

Wouter Botes maak dit sy lewenstaak om Suid-Afrika se geheime te ontrafel. (Foto: Wouter Botes/Facebook)

Sporejagter. Raaiseloplosser. Storieverteller.

“Ek glo nie iets kan nie opgelos word nie. Daar is altyd spore wat jy moet volg en as hulle begin doodloop moet jy net verder aangaan. Dit is miskien ʼn bietjie toegewaai of toegegroei. Maar as jy die gras wegkap en jy vee met ʼn besem, kry jy die res van die spore…

“Daar is altyd ʼn manier.”

Aan die woord is Wouter Botes, vlieënier, ondersoeker en vervaardiger van die TV-reekse Flights to Nowhere, Plane Wreck Hunter en nou ook die splinternuwe reeks Doodloopspore wat vir AfriForumTV vervaardig word.

Doodloopspore handel oor sommige van Suid-Afrika se tergendste geheime. Die onopgeloste moord op Jacoba “Bubbles” Schroeder in 1949. Die raaiselagtige verdwyning van Rosalind Ballingall – vermoedelik in die Knysna-bos in die laat 1960’s. Die Kruger-miljoene. Meerminne in die Kalahari. Die 1980-verdwyning van twee jong soldate op ʼn vlug van die Wonderboom-lughawe na Graskop. En die geheime van die Anglo-Boereoorlog.

“Dit is een van die interessantste gedeeltes van die reeks – die geheime van die Anglo-Boereoorlog. Ek dink dit is een van die episodes wat mense die meeste gaan geniet. Die konsentrasiekampe, Siener van Rensburg…”

Botes is ook ‘n ervare vlieënier. (Foto: Wouter Botes/Facebook)

Die verfilming het die span op boeiende ou spore laat terugstap. Deur lykshuise, op plaaspaaie, by die Voortrekkermonument verby, deur ou tronke en tot diep in die Knysna-bos.

Sy eie fassinering met onopgeloste raaisels begin 14 jaar gelede toe hy die boek Verlore skakels: Onverklaarde geheime van Suider-Afrika in ʼn tweedehandse boekwinkel optel, vertel Botes. Die boek, deur Rob Marsh, was vir Botes die sleutel tot ʼn wonderwêreld van misterie wat hy nie anders kon as om te probeer oplos nie.

Sedertdien is hy op die spoor van alles en enigiets onverklaarbaar (of dalk nie so onverklaarbaar nie).

“Ek wil die stories bewaar vir die nageslag. Daar is sommige van die stories waarvan mense regtig niks weet nie en dit is vir my lekker as ek vir hulle nuwe stories kan vertel. ʼn Mens gaan dit nie alles oplos nie, maar ons kan ʼn bydrae tot die geskiedenis maak,” sê Botes.

Raaisel van die Rietbok

D Vickers Viscount-vliegtuig van die Suid-Afrikaanse Lugdiens. (Argieffoto: Facebook)

Een van die grootste bydraes tot die geskiedenis was waarskynlik die deurbraak wat Botes en sy span medewerkers gedoen het in die ontdekking van die wrak van wat bekend staan as die Rietbok-rampvlug.

Vandeesweek, presies 56 jaar gelede, het die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se vlug 406, ʼn Vickers Vicount, in die see naby Oos-Londen neergestort. Aan boord was 25 siele. Nie ʼn enkele mens het oorleef nie.

Die ligging van die wrak was tot dusver onbekend en die destydse ondersoek kon geen volstrekte bevinding oor die oorsaak van die ongeluk maak nie.

As ervare kommersiële vlieënier en kanniedood-ondersoeker het hy alles moontlik gedoen om die spore van die vliegtuig met die hulp van nuwe tegnologie op sy laaste noodlottige vlug te volg.

Danksy dié moderne tegnologie, ʼn paar geheimsinnige wenke en maande lange en diepgaande navorsing en fisieke soekwerk, het die span nie net vasgestel waar die wrak sy laaste rusplek gevind het nie; Botes se ondersoek het ook gewys dat ʼn vlieëniersfout – en nie sabotasie of selfs die neerskiet van die vliegtuig (soos jare lank al beweer word) nie – die oorsaak van een van die grootste raaisels in Suid-Afrikaanse lugvaartgeskiedenis was.

Die ligging van die wrakstukke het verskil van die plek waar die amptelike verslag aangedui het dit waarskynlik sou wees. Botes-hulle het dit eindelik op ʼn diepte van 68,4 m in die see naby die dorpie Kayserstrand, suid van Oos-Londen, opgespoor.

Dit lê vandag steeds daar. ʼn Watergraf vir almal aan boord.

Agter die skerms tydens verfilming. (Foto: Wouter Botes/Facebook)

“Daar is twee wrakstukvelde. Die groot wrakstukke lê hier en die klein wrakstukke lê daar,” verduidelik Botes. “Dit maak presies sin, want toe die vliegtuig die water tref, gaan die groot stukke af en die seestrome skuif dit ʼn bietjie dieper.

“Die kleiner stukke wat afbreek, gaan lê saam met die stroom in die kleiner wrakstukveld.”

Hulle beoog om eindelik twee stukke van die wrak van die seebodem te verwyder en die onderskeie stukke by die Oos-Londen-museum en die Suid-Afrikaanse Lugdiensmuseum by die Rand-lughawe uit te stal.

Botes sê daar is ook toenemende belangstelling van die Oos-Kaapse Provinsiale Owerheid vir Erfenishulpbronne, die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Erfenishulpbronne en die Oos-Londense museum om saam te werk om sommige van die Rietbok se wrakstukke te help verwyder.

Daar sal slegs tydens ʼn spesifieke vensterperiode – waarskynlik nog tot die begin van Mei – kans wees om sommige van die wrakstukke suksesvol te verwyder. Indien dié poging onsuksesvol is, sal hulle weer maande lank moet wag vir toestande om ʼn herwinningspoging moontlik te maak.

“Ons is in ʼn wedloop teen tyd om dit vir die nageslag te bewaar. Ná 56 jaar is die wrak stadigaan besig om te disintegreer.”

Niks bly verborge

(Foto: Wouter Botes/Facebook)

Moet elke geheim opgelos word?

“Ek aanvaar nie dat iets nie opgelos kan word nie. En as dit nie vandag is nie, dan is dit dalk ná my dood.

“Maar tyd is ons grootste vyand, want goed verdwyn. Tegnologie ontwikkel vinnig, maar nie vinnig genoeg om die tyd te stop nie. Dit is wat my tweeuur in die nag laat wakker lê en laat wonder of ek nie nog dit of dat moes gekyk het nie. Dan klim ek in my kar en gaan kyk. Ek het baie goed ontdek wat vir te lank weg was.

“Ek glo glad nie dat iets verborge moet bly nie. Mense moet weet.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.