Geen hulp aan kommersiële boere ‘skokkend’

Boere moet mooi dink voor hulle hierdie seisoen op aanbevelings kunsmis toedien. (Foto: Argief)

TLU SA sê hy het met skok kennis geneem van die antwoord van Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, dat die regering in hierdie krisistyd van duur insetkoste net hulp aan kleinbestaansboere afgewentel het.

Die minister het dit verlede week in reaksie op ʼn vraag deur ʼn VF Plus-LP in die parlement gesê. Fanie du Toit wou weet of Didiza se departement in die lig van die oorlog tussen Rusland en Oekraïne, asook die gevolglike styging in kunsmispryse enige stappe gedoen het om te verseker daar is bekostigbare kunsmis in die land.

Dit raak al hoe meer duidelik dat Suid-Afrika se regering geensins aan voedselsekerheid vir hul inwoners dink nie. Die volhoubaarheid van die land se landboubedryf kry hoegenaamd nie die aandag wat dit benodig nie. Sy het geantwoord dat haar departement nog net ondersteuning aan bestaansboere gebied het.

TLU SA het gevolglik ʼn versoek aan die regering gerig om landbou te bemagtig om selfvoorsienend te wees, deur ʼn vergunning om in goeie jare wins belastingvry te kan spaar. Sodoende sal die land se voedselvoorsieners tydens krisistye bepaal wat hulle self kan doen in die lig van ʼn afwesige regering.

TLU SA is van mening dat die onlangse verklaring deur Didiza bewys dat die Suid-Afrikaanse regering nie kommersiële landbou se belange op die hart dra nie en dat dit nou die tyd is vir landbou om grootliks selfversorgend, waar moontlik, te wees.

“Die grootste dilemma wat ons tans ervaar, is die regering se beleidsomgewing en sy afwesigheid tydens rampbestuur. Daarom sal daar met nuwe oë gekyk moet word na die pad vorentoe,” het Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, gesê.

“Terwyl die Suid-Afrikaanse regering op ʼn pad van selfvernietiging is, moet hy besef dat landbou in die belang van ekonomiese stabiliteit nie saam durf ondergaan nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.