Geen onluste in Kaapstad; staak fopnuus

Argieffoto van Kaapstad se hawe Foto: luxury-safari.net

Hoewel sommige winkelsentrums in Kaapstad hul deure as voorsorgmaatreël gesluit het, is daar volgens die Stad Kaapstad nog géén aanduiding dat die onluste in Gauteng en KwaZulu-Natal na die Moederstad oorgespoel het nie.

Die metro doen ook ’n ernstige beroep op die publiek om nie fopnuus oor openbare geweld in Kaapstad te versprei nie.

JP Smith, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, sê ’n voorval van diefstal by ’n winkelsentrum in Mitchells Plain waarop polisiebeamptes vroeër gereageer het, het Dinsdag onnodige paniek onder Kapenaars gesaai.

“Sommige mense het paniekbevange begin hardloop en hierdie beelde het op sosiale media begin versprei. Daar was géén plundery of geweld nie en die polisie het die verdagtes in hegtenis geneem,” het Smith beklemtoon.

“Ek doen ’n ernstige beroep op die publiek om ons asseblief te help om die verspreiding van fopnuus rakende valse bewerings oor openbare geweld in Kaapstad, wat gegrond is op ou video’s wat in omloop is, te stuit. Dit maak dit moeilik vir wetstoepassers om na behore op insidente te reageer.”

Smith sê voorts die metro is wel bewus van ’n toenemende gevoel van angs onder inwoners wat vrees dat die geweld na Kaapstad kan oorspoel.

“Dit is belangrik om vooraf te noem dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) verantwoordelik is vir die polisiëring van openbare orde. Die Stad se wetstoepassingsagentskappe werk egter te alle tye nou saam met die SAPD.”

Al die hoofde van die Kaapse wetstoepassingsagentskappe, waaronder die metropolisie en verkeersdiens, is reeds aangesê om geïntegreerde ontplooiingsplanne op te stel in gebiede wat moontlik geteiken kan word sou geweld in die Moederstad uitbreek.

Die gebiede word ook gereeld gepatrolleer en personeel op sogenaamde “rusdae” sal opgeroep word om soveel moontlik hulpbronne op die grond te verseker.

“Die Stad sal alles in sy vermoë doen om polisiëringspogings te ondersteun indien dit nodig sou wees. Ons doen egter ’n beroep op die nasionale regering om daadwerklik op te tree om die voortslepende geweld elders in die land te hanteer,” sê Smith.

Die leiers van al die politieke partye in die Wes-Kaapse provinsiale parlement – behalwe die EFF – het intussen in ’n gesamentlike verklaring ’n beroep om vrede en stabiliteit in alle gemeenskappe gedoen.

Dié leiers waaronder Alan Winde (premier van die Wes-Kaap), Albert Fritz (provinsiale minister van gemeenskapsveiligheid) en Beverley Schäfer (adjunk-speaker van die Wes-Kaapse provinsiale regering) het ook ’n beroep op alle Suid-Afrikaners gedoen om hulle te weerhou van die verspreiding van fopnuus en onwaarhede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Thom ·

DA-beheerd , doeltreffende bestuur , min korrupsie , min probleme .

tweeling ·

Thom, dis armoede wat onder andere die ding dryf. Gaan kyk maar in kaya, langa, gugu, nyanga, heideveld ens hoeveel armoede daar is. Daar is ANC minusipaliteite ook in die Kaap en dinge gebeur ook nie daar nie.

Harley Davidson ·

Die sosiale media asook die sa media is bekend om sensasie uit te buit en die meeste gebruikers hiervan glo alles wat hulle lees,maar terug by die weskaap die provinsie is in goeie hande met bevoegde leiers en al val die res van die piesang Republiek sal die weskaap sterkstaan

Jaco ·

Wat doen “die rassistiese DA” in Kaapstad dan reg, wat die hoogheilige ANC nie in die res van die land reg doen nie?

Elinette ·

Hulle het verstand en die vermoë om eerder pro-aktief as reaktief te regeer.

Harley Davidson ·

Regeer met ‘n eerlike en doelgerigte manier om die weskaap ‘n beter plek te maak vir almal wat daar woon.

Elinette ·

Snaaks, die leiers van al die politieke partye in die W-K provinsiale parlement, behalwe die EFF, het ‘n gesamentlike beroep gedoen …

Hmmm, laat my wonder. Is dit nie die outjies in die rooi pakkies wat dalk hieragter sit nie?

Tokkel ·

Ons EFF leier respekteer die Kaap al wil hy dit nie erken…Het mos ‘n lekker vakansie huis in Velddrif.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.