‘Geen student sterf’ tydens NWU-betoging

Die NWU se Vaalkampus. Foto is bloot ter illustrasie. (Foto: Facebook / NWU Vaal Campus Updates)

Die Noordwes-Universiteit (NWU) het sosialemediagerugte verwerp dat ʼn student tydens ʼn onwettige protesaksie op die Vanderbijlpark-kampus op 27 Februarie dood is.

“Geen student is dood soos kwaadwillig deur gewetenlose individue aangevoer is nie,” het die universiteit Vrydag gesê.

“Dit is wel ʼn feit dat ʼn groep studente die universiteit se akademiese program en ander aktiwiteite op die kampus ontwrig het. Personeel en studente is ook verhoed om vrylik rond te beweeg nadat alle in- en uitgangspunte versper is.”

Volgens die universiteit het die optrede van dié studente ʼn bedreiging vir studente, personeel en universiteitseiendom ingehou. Die universiteit sê sy beskermingsdienste en die polisie het ingegryp nadat die betrokke studente gewelddadig geraak het.

“Traangas en rubberkoeëls is deur die polisie afgevuur om die skare uiteen te jaag. Sommige studente is tydens hierdie chaotiese voorval in hegtenis geneem.

“Twee studente is na bewering deur ʼn motor omgery toe ʼn ander student van die skare probeer wegkom het. Dié twee studente is na die hospitaal geneem en ná ʼn mediese evaluasie ontslaan.

“Een van hulle moes op 28 Februarie vir ʼn verdere mediese ondersoek terugkeer, maar is nooit opgeneem nie.”

Die universiteit sê ondersteuning is reeds aan betrokke studente gebied.

“Alle voorvalle wat op 27 Februarie plaasgevind het, word tans ondersoek, insluitend die voorval waartydens studente na bewering deur ʼn voertuig getref is.

“Ons veroordeel die onnodige en onwettige protesaksie wat tot hierdie ongeluk gelei het, en doen ʼn  beroep op studente om nie valse inligting kwaadwillig te versprei nie.”

Die universiteit sê hy sal ook toepaslike stappe doen teen diegene wat die instelling se naam doelbewus probeer beswadder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Christine ·

Die universiteit het nog kwalik begin en daar is protes aksies
Die wat skuldig bevind word moet uitgeskop word en NOOIT WEER BY ENIGE INSTANSIE TOEGELAAT WORD NIE

Nicky ·

Nie een university is meer betroubaar nie vernaam nie vir Afrikaners nie kan nie glo dat hulle ook geval het vir Kommuniste

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.