Geen water of krag in Parys

Inwoners staan in rye om gas te koop (Foto: Verskaf)

Inwoners van Parys sit al sedert Vrydag sonder krag nadat Eskom se kragnetwerk op dié Vrystaatse dorp oorlaai is. Die oorlading het veroorsaak dat die krag uitskop en Eskom weier om dit te herstel tensy die munisipaliteit R1 miljoen vooraf opdok.

Boonop was daar teen Vrydagmiddag nie ’n druppel water in die krane nie, aangesien die waterpompe krag nodig het om water van die reservoirs na verbruikers te pomp.

Sommige inwoners, wat van krag afhanklik is om mediese toerusting te laat werk, se lewe is nou in gedrang.

Eskom het die afgelope naweek geweier om die skade aan die kragnetwerk te herstel voordat die Ngwathe-munisipaliteit – wat Parys en Vredefort bedien – hom vir die herstelwerk betaal.

Eskom eis R1 miljoen van die munisipaliteit. Die munisipaliteit is glo ook agterstallig met die betaling van sy kragrekening.

Volgens Saal de Jager, stigterslid van die ontwikkelingsforum op Parys en ook ’n DA-raadslid, sê die munisipaliteit het ná samesprekings met Eskom onderneem om die geld te betaal, maar vra dat Eskom dit van sy lopende rekening moet aftrek. Eskom het egter nie hiertoe ingestem nie.

“Die munisipaliteit het oor die naweek ’n waarborg van die bank probeer kry om die betaling te doen, maar hierdie transaksie kon nie oor die naweek geskied nie. Die munisipaliteit kan ook nie volgende munisipale regulasies betalings oor naweke doen nie,” sê De Jager.

Die munisipaliteit gaan vandag (Maandag) weer met Eskom se prokureurs vergader en die betaling vandag probeer afhandel.

Dié onderbreking ontwrig inwoners, veral siekes en bejaardes wat afhanklik is van krag om mediese toerusting, soos suurstofmasjiene, aan die gang te hou.

“Mense wat afhanklik is van masjiene vir slaapapnee kon vir vier aande nie ’n oog toemaak nie,” sê ’n inwoner op voorwaarde van anonimiteit.

Inwoners kla ook op sosiale media dat winkelrakke leeg is en op sommige plekke is daar nie ʼn bottel water of brood in winkels te koop is nie.

Nog ’n inwoner sê hulle is aangewese op barmhartige samaritane om hulle deur hierdie donker tyd te dra.

“Inwoners met boorgate help met watervoorsiening en diegene met kragopwekkers help ook waar hulle kan,” sê die inwoner.

Volgens De Jager het boere in die omgewing ook handjie bygesit om die inwoners te help met water.

De Jager sê die munisipaliteit versuim al jare lank om sy Eskom-rekening – wat al tot sowat R1,6 biljoen opgehoop is – te betaal.

Die oorlading van die kragnetwerk is ook al vir die afgelope vier jaar ’n probleem. Die dorp is genoop om sy eie rotasie-beurtkrag toe te pas omdat hy té min stroombrekers het om die hoeveelheid krag te hanteer.

“Die munisipaliteit beskik oor ’n tegniese bestuurder wat die kraglading dophou en seker maak die netwerk word nie oorlaai nie.”

De Jager meen dié keer lê die fout aan Eskom se kant, omdat die kragvoorsiener Donderdagaand te veel ampère in die netwerk toegelaat het, sonder om die munisipaliteit te waarsku.

Eskom het op sy beurt in ’n verklaring gesê die skade is deur die munisipaliteit veroorsaak.

“Eskom is nie by magte om die herstel van skade – veroorsaak deur ʼn nie-betalende munisipaliteit – te finansier nie en sal dus eers voortgaan met die vereiste werk sodra die ooreengekome betaling ontvang is,” sê die kragvoorsiener.

Volgens De Jager het hy begrip daarvoor dat Eskom sy geld van die munisipaliteit eis, maar hy sê die manier hoe die kragvoorsiener nou die geld eis, is onmenslik.

“Die inwoners ly nou onder twee staatspartye se onvermoë om hul probleme uit te sorteer. Dit is onmenslik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Mariana ·

Dit is skreiende skande. Hoekom moet almal gestraf word omdat die munisipaliteit nie sy verpligtinge na kom nie. Wat is die regering se idee nou eintlik? Hoekom gryp hulle nie in by hul munisipaliteite nie. Die hele Vrystaat is in chaos gedompel as gevolg van die regering se kaders wat daar in beheer is. Ag nee sies, regtig. Sonder water en krag. Nee Eskom dit werk nie so nie.

Trotse Boervrou ·

Kom ons wees nou maar eerlik met mekaar. Hierdie is realiteit en die hele Suid-Afrika se voorland. Of ons nou betaal of nie, dit gaan nog baie donkerder raak in ons sonnige land. Berei jul voor.

PieterJ ·

En dis hoekom ek GEEN meer liefdadigheid aan mense betoon nie, MOET alles spaar wat ek het vir die donkerte.

absoluut ·

Korreksie, as ons nie betaal vir ons krag en die kaders se krag nie

PieterJ ·

Stem net weer vir die kamerade, hulle sal weer belowe hulle sal alles volgende keer regmaak.

Chris dupreez ·

Kry die munisipale bestuurder in die tronk, want dit is waar hulle moet wees, hulle moet pa staan vir al hierdie gemors.

Harley Davidson ·

Hou aan stem vir die ANC dan is daar binnekort nie meer ‘n Parys nie.

Papsak ·

Hierdie ANC regering kan nou maar net nie hierdie land regeer nie maar o wee stem stem hulle maar weer vir die korrupte ANC daarom lewe ons so land in verkeerde hande uit en oor klaar

Cherokee ·

‘n Swart besigheidsman het na ‘n stryery met die munisipaliteit (Ethekweni) aan my gesê “..en dan wil hulle die land regeer!”.

Harley Davidson ·

Baie voel so maar die armste van die armste hou hulle aan bewind.

Di ·

HIERDIE is wat wag op ons almal! Land gaan in algehele donkerte gehul wees soos die meerderheid in die land wat vir hierdie korrupte spul gestem het. VIVA ANC

Henri ·

“De Jager sê die munisipaliteit versuim al jare lank om sy Eskom-rekening – wat al tot sowat R1,6 biljoen opgehoop is – te betaal.”

Is die skuld R1 600 000 miljoen (R1,6 biljoen) of R1 600 miljoen (R1,6 miljard)? Die Engelse “billion” is miljard in Afrikaans.

Kokerboom ·

Inwoners van Parys..Neem beheer oor jul dorp! Skop die gemors uit. Kla minister Dlamini-Zuma aan!Hoe lank wil jul nog die aanvaar. Staan saam!

Elma ·

My plan was om oor n paar jaar in die (eens) mooie dorpie te gaan aftree. Ek het sopas daarteen besluit!

Wondermaarnet ·

Hoekom het die skuld in elk geval so opgehoop? By R1 mijoen sou ek al ‘n stokkie steek en krag afsit.

Antie Sarie ·

Die inwoners betaal hul krag. Dit is die mislikepaliteit wat die probleem is.

Andre ·

Waarom weier Eskom dat voorafbetaalde verbruikers direk aan Eskom betaal?

Andre ·

So word die hele land deur onbeskermde onwettige staking lamgelê. Die plan werk alweer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.