Gekaapte trok in Paarl teruggevind

Die gekaapte vragmotor het allerlei elektroniese toerusting en huishoudelike toestelle vervoer. (Foto: Verskaf)

Die Wes-Kaapse polisie het Maandagaand ʼn gekaapte vragmotor met ʼn vrag ter waarde van sowat R1 miljoen in die Paarl teruggevind.

AO Joseph Swartbooi, polisiewoordvoerder, sê polisielede het die aand inligting ontvang dat ʼn vragmotor in Bishop Lavis gekaap is en vanaf die Strand in die rigting van die Paarl beweeg.

“Die lede het die vragmotor opgespoor en agtervolg totdat dit in die Paarl stilgehou het. Hulle het op die vragmotorbestuurder en die bestuurder van ʼn Renault Sandero wat glo die vragmotor begelei het, toegeslaan. Die insittendes en die vrag is deur die beamptes deursoek,” sê Swartbooi.

Die beamptes het bevind dat die vragmotor allerlei elektroniese toerusting en huishoudelike toestelle vervoer.

Twee mans is gevolglik in hegtenis geneem en word steeds aangehou op aanklagte van die besit van ʼn gekaapte voertuig, asook die besit van vermoedelik gesteelde goedere.

“Sodra die verdagtes amptelik aangekla word, sal hulle eersdaags in die Paarl-landdroshof op die genoemde aanklagte verskyn.”

Die polisie se ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Witbaard ·

Dankie vir die polisielede wat nogsteeds hulle werk behoorlik doen. Ongelukkig is die stelsel NA die inhegtenisneming korrup.

Swerwer ·

Wonderlik! Daar is darem beamptes wat hul werk ernstig opneem. Dankie jul!

Mariana ·

Is die kapings inside jobs? Hoe weet hulle watter goedere word vervoer?

Wielspore ·

Ek wonder of die kapers ‘n goedere lys voor die kaping ontvang het.

Di ·

Hulle werk saam! Ek persoonlik dink dat meeste gevalle is trokdrywers of ander personnel wat by maatskappy werk hierby betrokke. Daar is net hopeloos te veel trokke deesdae wat gekaap word. Begin ondersoek by personeel in maatskappy

christo ·

Welgedaan! Dis uiters moeilik om die Wes-Kaap se gemeenskap te dien, veral wanneer jy ‘n onbekwame minister het wat alles sentraal wil beheer, natuurlik in opdrag van die president bygesê, terwyl die SAPD op grondvlak weet wat gedoen moet word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.