Geliefde barbier sterf

Fred Moss (Foto: Wendy van Rensburg Photography via Twitter)

Fred Moss, die legendariese barbier van Melville, Johannesburg, het Dinsdag in die ouderdom van 68 gesterf. ’n Gewas is Desember in Moss se long ontdek, waarna hy ’n paar weke later aan ’n hartaanval gesterf het.

Moss was die afgelope 53 jaar die eienaar van die bekende Scala Barber in Melville. Bekende name soos Kobus Wiese, Frank Opperman, Neels van Jaarsveld en Lochner de Kock het gereeld op Moss se barbierstoel gesit.

Moss was bekend daarvoor dat hy nie net klante se hare versorg het nie, maar ook hul dag opgekikker het met sy geselsies en grappies.

Moss se dogter, Charntell Mynhardt, vertel haar pa het ’n jaar en ’n half gelede ’n gewas uit sy long laat verwyder. Hoewel die operasie ’n sukses was, het die gewas Desember teruggekom.

“Die dokters was beïndruk oor hoe vinnig my pa na die operasie herstel het en ons was positief oor die toekoms,” het Mynhardt aan Maroela Media vertel.

Volgens Mynhardt het Moss haar op 15 Desember gebel en gekla van ’n vreeslike pyn in sy sy. Sy toestand het oor die volgende paar dae versleg.

“Ek het my pa op 30 Desember dokter toe gevat. Hy was toe al baie swak. Sy kalsiumtelling was hoog en hulle het iets op sy X-strale raakgesien.”

Moss is op 4 Januarie in die hospitaal opgeneem. Die dokter het hom vir ’n CT-skandering gestuur en só die gewas in sy long gewaar.

“Die gewas het aan die kant van dieselfde long gegroei as waar die vorige gewas uitgesny is. Dié keer was die gewas groter en dit het druk op sy hart geplaas.”

Mynhardt vertel Moss was Maandag bleek en kort van asem.

“Hulle sou Dinsdag ’n biopsie van die gewas neem, waarna sy behandeling sou volg. Die dokters het my egter Dinsdagoggend vroeg in kennis gestel dat my pa ’n hartaanval gehad het. Dit kon wees weens die drukking wat die gewas veroorsaak het.”

’n Legende

Die winkel is in 4de Laan geleë en is vertoon in die oorspronklike temalied van die gewilde Afrikaanse sepie 7de Laan (Foto: Verskaf)

Moss het in 1971 die Scala Barber by sy pa en dié se swaer oorgeneem.  Hy het in 1969 – ná sy diensplig – sy vakleerlingskap by Scala Barber gedoen en daarna die winkel as trotse eienaar oorgeneem. Die winkel is in 4de Laan geleë en is vertoon in die oorspronklike temalied van die gewilde Afrikaanse sepie 7de Laan.

“Ek weet nie waar my pa se belangstelling as barbier vandaan kom nie. Hy het ná die weermag begin hare sny en dit tot die dag van sy dood gedoen.

“My pa het gelewe vir sy werk. Dit was sy passie. As ons gewoonlik sou weggaan met vakansie – en nie te ver uit Melville gereis het nie – sou hy steeds Saterdae vroeg opstaan, deurry Melville toe en die winkel vir die oggend oopmaak.”

Mynhardt vertel haar pa se naam was op almal se lippe en hy was baie geliefd.

“Sy barbierwinkel was nie sommer net nog ’n barbierwinkel nie. Sy winkel was warm, wat sy passie vir sy werk en liefde vir mense uitgestraal het. My pa het vreeslik omgegee vir sy klante en sy winkel was oop vir enigiemand. Sy klante het nie net vir ’n haarsny gegaan nie, hulle het na ’n vriend toe gegaan met wie hulle kan gesels en grappies deel.”

Kobus Wiese het as student by Moss begin hare sny en 25 jaar lank by sy winkel aangeklop.

“Ek het as student toevallig op Fred se winkel afgekom en het toe nooit weer by iemand anders hare gesny nie. Fred het my vriend geword. Ek sal ons geselsies vir altyd koester.”

Volgens Wiese het Moss al sy klante persoonlik geken en belanggestel in hul lewens.

“Sy klante was sy prioriteit en sy werk sy trots. Almal het hom geken vir sy werketiket, presiesheid en netheid.”

Moss word deur sy drie dogters, Mynhardt, Charlene Cloete en Theresa Moss, oorleef. Sy vrou is in 2019 oorlede.

Moss word Vrydag om 13:00 in Melville ter ruste gelê. Die roudiens sal ook aanlyn uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Toy ·

Hy laat herinneringe vir baie mense agter. Sterkte aan die familie.

Perdeby ·

Hy was met afsterwe 68 en het die besigheid al 53 jaar maw hy was 15 toe hy dit begin het. RIV

Kotie ·

@ Gompie my oom het as jong seun in die winkel gewerk wat aan sy swaer behoort het wat Oom Fred en my oupa by hom oor gekoop het toe hy die besigheid los. Oom Fred het as 17 jarige die winkel heeltemal oorgeneem.

Gerd Lourens ·

Enige afsterwe is hartseer.
Hier word omvattend berig oor ‘n barbier wat gesterf het.
Nêrens vind ek egter ‘n berig in enige media wat die afsterwe van JK aankondig nie. JK was in lewe ‘n HELDHAFTIGE offisier wat verbonde was aan 32 BN en die Recces.

Jan Nel ·

Iemand het genoeg omgegee om die berig/wenk na MM deur te gee. Het jy dieselfde vir jou “JK” gedoen?

Koen ·

Ongelooflik hoe sommige mense net kan kritiseer sonder om ‘n vinger te wil lig. Wat het jy gedoen om jou kamtige held se afsterwe te wil gedenk behalwe om op hierdie mooi berig afbrekende kommentaar te lewer. Walglik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.