Geliefdes krap kop oor oop graf

(Argieffoto: pixabay)

’n Vrou van Bothaville in die Vrystaat sit met talle vrae oor haar ma se graf wat verlede week oopgegrawe is. Die polisie krap ook kop oor dié voorval omdat dit in hierdie stadium lyk asof niks uit die graf gesteel is nie.

Hanna de Klerk (33) is verlede Donderdag in kennis gestel dat haar ma, Johanna Nel, se graf in die begraafplaas op Bothaville moontlik oopgegrawe is. Sy moes die graf gaan uitken.

“Ek het dadelik die groot kruis op my ma se graf herken. Toe weet ek dit is my ma se graf wat oopgegrawe is,” vertel De Klerk. “Die graf was oop. Daar het so ’n klein hopie sand bo-op my ma se kis gelê.”

De Klerk sê dit was hartseer om haar ma se graf só geskend te sien. Haar ma is in 2016 oorlede.

De Klerk moes ’n verklaring by die polisiestasie in die dorp gaan aflê. ’n Saak van grafskending is aanhangig gemaak.

Die polisie is dieselfde dag na die begraafplaas toe om ondersoek by die graf in te stel. Volgens De Klerk het die polisie tydens die besoek die kis oopgemaak en bevind dat niks uit die kis gebuit is nie.

Kol. Thandi Mbambo, woordvoerder van die polisie, sê die voorval is vir die polisie ’n raaisel.

“Ons het besluit om die plaaslike landdros te nader om ’n hofbevel te kry om voort te gaan met die ondersoek. Ons wil hierdie raaisel probeer oplos,” sê Mbambo.

De Klerk sê sy probeer self sin maak van die voorval.

“Ek wil weet waarom die mens(e) dit gedoen het. Waarom die graf oopmaak as hulle in elk geval niks gaan steel nie?”

Sy sê só iets het nog nooit vantevore op Bothaville gebeur nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Gert ·

Jy kry maar siek mense. Sterkte vir die familie dit kan nie lekker wees om ‘n geliefde so te sien nie.

LD ·

Sjoe dit is nogal ñ kopkrapper. Ek het jare terug gehoor by iemand wat by ñ begrafnisonderneming gewerk het dat hulle die kiste gaan uithaal na ñ sekere tyd, dit mooi skoon en netjies maak en dit dan weer aan die volgende ou verkoop….. Of dit waar is sal ek nou nie kan bevestig nie maar in SA sal mens nooit weet nie. Siek mense in die land! Hoop van harte dat hierdie ñ eenvoudige verduideliking het!

Cecilia ·

D grafskenders is dalk gesteur deur onverwagte besoekers. En kon nie klaar maak waarmee hul besig was nie.
Dis hartseer om te dink daars kwaaddoeners met geen respek nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.