Gemeenskap in rou ná Limpopo-seun se dood

Vincent Robinson (Foto: Verskaf)

ʼn Geliefde leerder van Hoërskool Ellisras sal vandeesweek ter ruste gelê word nadat hy verlede week in ʼn fratsongeluk gesterf het.

Die gemeenskap van Ellisras in Limpopo is in rou gedompel deur Vincent Robinson (17) se skielike dood.

Renett la Grange, Vincent se pleegma, het vanoggend aan Maroela Media gesê die tienerseun het verlede week Woensdag omstreeks 21:00 saam met vriende teen ’n berg in die omgewing opgery om te gaan braai.

“Daar is ’n braaiplek daar bo en hulle was nege wat opgery het om vir die aand om die vuur te gaan kuier,” verduidelik sy. Op pad boontoe was daar egter ’n fratsongeluk. “Agt kinders se lewens is gespaar en net een s’n is nie,” vertel ʼn emosionele La Grange.

Die ander is op die toneel vir ligte beserings behandel waarna hulle na ʼn hospitaal geneem en later ontslaan is.

Sy vertel dat Vincent ʼn kind in haar huis was en veral baie na aan haar tienerseun, Martin, was. “Hy was sy nefie, maar in werklikheid was hulle soos broers.

Vincent Robinson en Martin La Grange. (Foto: Verskaf)

“Vincent was altyd reg met ʼn glimlag en ʼn goeie woord,” sê sy. “Hy was soos ’n kurkprop. Niks in die lewe het hom ondergekry nie.”

Die Hoërskool Ellisras het saam met talle ander hul medelye met Vincent se vriende en familie betuig. “Ons gaan jou mis jongman… tot ons weer ontmoet!” het die skool op sosiale media geskryf. Tientalle ander het ook hul medelye en herinneringe aan Vincent op sosiale media gedeel.

“Vincent, jy was ʼn karakter op jou eie. Ons sal jou onthou as die vriend wat ons almal altyd laat lag het,” het een persoon geskryf.

Vincent word Woensdag om 11:00 uit die NG Kerk Ellisras-Wes ter ruste gelê.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

christine ·

BAIE STERKTE FAMILIE EN VRIENDE daar le n lang pad voor vir genesing maar hartseer gaan nooit weg en sal altyd gemis word .

Santie ·

Sterkte vir sy ouers. Dit is baie hartseer.
Weet iemand dalk wst het gebeur.

Francois Joubert ·

‘n Ander publikasie het nou die storie geplaas. Die bakkie het oppad boontoe krag verloor, terugeloop en omgeslaan.

Fransa ·

Jule bly in ons gedagtes en gebede. Mag al di geliefdes en vriende di nabyheid en vertroosting van die Vader elke tree vorentoe intens ervaar.

Gesiggie ·

Geen woorde kan die seer wegvat wat jul nou moet voel… my innige meegevoel en mag Jesus jul dra n die tyd van hartseer RIV Vincent…..

Rika ·

Rus in vrede.. so sad hy was nog so jonk. Sterkte aan die familie bid vir julle.

Hendrik Oosthuizen ·

Rus nou sag jong man. Ek dink aan die familie en sal julle in my gebede hou. Sterkte julle.

Leon Dormehl ·

Om teen ‘n steil opdraende op te ry is seker een vd gevaarlikste goed wat met ‘n 4×4 gedoen kan word. As jy traksie verloor teen die opdraende help rem trap baie min of niks. Dan begin die voertuig dwars draai en dan het jy moeilikheid. Trap liewer die koppelaar effens en laat die voertuig baie stadig agteruitloop om wielrol te behou en kry trurat sonder om die voertuig te laat weghol. Dit is iets wat net deur ervare 4×4 ers gedoen kan word. BLY WEG van steil opdraendes af as jy nie ‘n ervare 4×4 er is nie! Dit gebeur ook dat die enjin vrek omdat petrol nie meer uit die tenk opgesuig word as die tenk nie vol is nie. Vergasserenjins kan ook stol as die flotter in die vergasser flotterkamer vashaak agv die helling.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.