Gemeenskap rou ná Joubertina-sakeman verdrink

Braam Kritzinger (Foto: Skermskoot uit video/Bidvest Life #21Lives: Braam’s Story)

Die gemeenskap van Joubertina in die Oos-Kaap is geruk ná die verdrinking van Braam Kritzinger (63), ’n bekende sakeman op die dorp.

Kritzinger was jare lank die eienaar van die motorhandelaar Braam’s Toyota op die dorp.

Die sakeman se liggaam is Dinsdag in die see by St. Francisbaai gevind ná berigte van ’n bootongeluk.

Volgens Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), was hy die enigste persoon aan boord.

Lambinon sê lede van die NSRI het om 07:52 inligting ontvang oor ʼn onbemande katamaran wat gelyk het of dit op die rotse aan die westekant van Shark Point geloop het. ’n Hengelaar het op die boot afgekom en die NSRI ontbied.

Die boot is geïdentifiseer as dié van Kritzinger, waarmee hy gereeld op die waters by Shark Point uitgegaan het om vis te vang.

’n Uitgebreide soektog het gevolg.

“Die NSRI, die polisie se duikeenheid, provinsiale en private nooddienste, lede van die maritieme reddingskoördineringsentrum (MRCC) en die Transnet-haweowerheid het saamgewerk om die man te soek,” sê Lambinon.

“Die Air Sea Rescue Network het ook ’n hommeltuig in die lug opgestuur en ʼn helikopter is van Gqeberha gestuur om met die soektog te help.”

Telkom se maritieme radiodiens het gehelp met mariene kommunikasie en het ’n waarskuwing aan ander skepe uitgestuur om op die uitkyk te wees.

Kritzinger se liggaam is om 08:55 in die branders by die rotse naby Shark Point gevind. Paramedici het hom dood verklaar en sy liggaam is aan die forensiese patologiediens oorhandig.

“Die omstandighede van die voorval is in hierdie stadium nog nie bekend nie. Die polisie het ’n geregtelike doodsondersoek van stapel gestuur.”

Op sosiale media het medelye vir Kritzinger ingestroom.

Hy was ʼn weermagveteraan en die Raad van Militêre Veterane Organisasies van SA (RMVO) asook die SA Weermagvereniging het hul simpatie aan sy familie betuig.

“Sers. Braam Kritzinger was ’n ware heer en ’n man met goeie waardes,” het die RMVO op Facebook geskryf.

Flippie Ehlers sr. beskryf Kritzinger as ʼn “groot boom wat geval het”.

“ʼn Leier in besigheid met kwaliteit en ongelooflike diens by Braam’s Toyota,” skryf hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Leon ·

Sjoe dis n harde hou , ek en Braam is sedert 1994 vriende ek was in plett en hy by sy pa sjoe die weteld is nou vreemd

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.