Gemeenskap rou ná polisieheld se verdrinking

Kapt. Pierre Marx het die afgelope naweek tydens ‘n reddingspoging in die Oos-Kaap verdrink. (Foto: Verskaf deur SA Polisie)

Boodskappe van medelye stroom in ná die dood van kapt. Pierre Marx, ʼn ervare polisieduiker wat die afgelope naweek in Oos-Londen verdrink het. Marx het tydens ʼn reddingspoging verdrink toe sy veiligheidstou vermoedelik gebreek het.

Volgens die polisie het Marx (53) Saterdag vermis geraak nadat hy saam met ander duikers van die Oos-Londen K9-soek-en-reddingseenheid op ʼn verdrinkingsvoorval nadat mense in die Horseshoe-vallei in die buitewyke van dié stad deur ʼn rivier meegesleur is, gereageer het.

“Nadat die eenheid op die toneel aangekom en die situasie geassesseer het, het hulle vasgestel dat die man wat alarm gemaak het op ʼn eiland in die hoofstroom van die Nahoonrivier was, saam met drie oorledenes. ʼn Vierde slagoffer was vermis in die water,” sê brig. Tembinkosi Kinana, polisiewoordvoerder in die Oos-Kaap.

Die beamptes het die man, vermoedelik ʼn boer, na veiligheid gebring en die drie liggame oor die rivier geneem.

“Kapt. Marx het teen ʼn sterk stroom baklei, ten spyte van sy kollegas se pogings om hom te red. Hy het in die stroom verdwyn en is eers Sondagoggend gevind,” sê Kinana.

Marx se dood het skokgolwe deur polisiegeledere én die gemeenskap gestuur.

Marx het al verskeie toekennings vir dapperheid ontvang, onder meer vir sy redding van ʼn jong seun wat in ʼn stormwaterdrein in Oos-Londen beland het. (Foto: Verskaf deur SA Polisie)

Hy is beskryf as ʼn “bekende polisielid wat binne en buite die polisie geken is vir sy ongelooflike heldedade in die provinsie”.

“Hy was gewild in verskeie gemeenskappe wat kan getuig van sy vasberadenheid en empatie teenoor mense.”

Marx het al verskeie toekennings vir dapperheid ontvang, onder meer vir sy redding van ʼn jong seun wat in ʼn stormwaterdrein in Oos-Londen beland het.

“Dit is ʼn hartseer dag, nie net vir die polisiefamilie nie, maar vir die hele gemeenskap. Kapt. Pierre Marx was ʼn bate vir ons almal en het hoop geskep. Ons het ʼn toegewyde en betroubare held verloor, ʼn geesdrifte en lojale lid van die polisie wat die polisievlag telkens hoog laat wapper het,” sê lt.genl. Nomthetheleli Mene, provinsiale polisiehoof.

Mene het die verdrinkingtoneel Sondag self besoek en het Marx se dood as “verpletterend” bestempel.

Marx se dood het skokgolwe deur polisiegeledere én die gemeenskap gestuur. (Foto: Verskaf deur SA Polisie)

“Hy het die beeld van die organisasie bevorder op ʼn manier wat almal van ons trots gemaak het om met die polisie verbind te word. Namens die bestuur in die provinsie wil ek my diepste medelye met sy familie, vriende en kollegas betuig. Mag sy siel in vrede rus.”

Op sosiale media het talle boodskappe ook ingestroom.

“Pierre, dankie vir die toewyding, deernis en lojaliteit aan jou vriende, werk en veral jou pragtige vrou, Michalene Marx. Vandag is ʼn baie hartseer dag en ons sal jou geweldig mis. Ons sal na jou gesien omsien en hulle beskerm soos jy vir soveel ander gedoen,” skryf Carol Deavall in ʼn huldeblyk op Facebook.

“Jy, meneer, is ʼn ware held wat sonder huiwering jou lewe gegee het om die lewe van ander te red,” skryf Vaughan Richardson in nog ʼn huldeblyk.

“Ek bring hulde aan jou,” het nog ʼn gebruiker geskryf.

Begrafnisreëlings vir Marx sal later in oorleg met sy familie bekend gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Toffie ·

Dis so hartseer as diegene wat werklik ‘n reuse bydrae lewer en ‘n wesentlike verskil maak so voortydig weggeneem word.

Anel ·

Rus sag, kollega. Sterkte aan die famillie, vriende en kollegas.

Anel ·

Cherokee, nou afgetree, maar was ook deel van die Hondefamilie.

Pablo ·

Wat n sad storie. Kan nie eens begin om te dink waardeur sy familie gaan nie. Rus in vrede dapper held .

Di ·

So tragies! Innige meegevoel aan sy familie en vriende. Mag ons Hemelse Vader julle dra en vertroos deur hierdie moeilike tyd. Nog ‘n held het geval. RIV

Johanna ·

Rusin Vrede. Jou werk hier op aarde is klaar.
Sterkte aan Gesjn en Familie

Shakespeare ·

Goeie waardevolle mense wat vroeg sterf is vir my BAIE traiumaties……..en gewetenlose skuim leef tot 90. Baie sterkte aan sy familie. RIV

Casper ·

Hy het gesterf terwyl hy besig was om te doen waarvoor hy lief was.Om mense te red maar hy kon homself nie red nie want dit was God se wil.Sterkte aan sy families en kollegas.

Excalibur ·

‘n Ware hedendaagse “Wolraad Woltemade”! “Kaptein Pierre Marx” se heldedade moet nie in koerantpapier verdrink en vergeet word nie maar sy onselfsugtige dade moet aan die Landsklok gehang word en by die S.A. Polisie Kollege as vakgebied vir voornemende SAPD lede voorgehou word om te wys wat die verskil is tussen ‘n geroepe Wetstoepasser & ‘n aangestelde Wetstoepasser (“Job Seaker”); wat dit beteken om voorbeeld te stel en te dien en jou lewenspassie uit te leef in egtheid en geloof asook wat beteken integriteit om as ambasadeur vir Suid Afrika se President & demokrasie in Grondwet geset te staan. Grote Held Suid Afrika salueer jou!! RIV by jou Meester

Lindi ·

Excalibur kan ek vir jou 1000 regmerkies gee? Voorwaar ‘n besonderse mens wat te vroeg gesterf het. Mag sy siel rustig wees by die Vader. “Go rest high on the mountain! Son, your work on earth has been done”

lollapot ·

SALUUT en RESPEK Excalibur! Ek glo jy is, of was, n lid, in murg en been!

Swerwer ·

Innige Simpatie en meegevoel aan die familie en kollegas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.