Gemeenskap wil berg fynkam op soek na Nick

Nick Frischke (22) word tans in die Wes-Kaap vermis. Hy het by ’n gastehuis in Pinelands gebly. (Foto: SAPD)

Die gemeenskap van Houtbaai en Kaapstad beplan om Saterdag van die nek van Hangberg (Sentinel) by Karbonkelberg te fynkam op soek na die vermiste Duitse toeris, Nick Frischke.

Maroela Media het vroeër berig dat Frischke vermoedelik verdwyn het toe hy ʼn staproete op Tafelberg in die omgewing van Houtbaai wou onderneem. Frischke word sedert 15 Februarie vermis. Hy het in ʼn gastehuis in Pinelands oorgebly, maar nooit weer teruggekeer nadat hy die gastehuis omstreeks 10:00 op die betrokke dag verlaat het nie. Sy besittings is steeds by die gastehuis en Frischke het sedertdien nog nie weer met sy familie in Duitsland kontak gemaak nie.

Drie van die vyf verdagtes wat met die besittings van die vermiste Duitse toeris, Nick Frischke (22), in hul besit betrap is, het in die Wynberg-landdroshof erken dat hulle die jong man beroof het. Daar is egter nog geen teken van Frischke nie.

ʼn Woordvoerder van Karbonkelberg-toerisme het intussen op dié groep se Facebook-blad gesê ʼn groot soektog word Saterdagoggend van stapel gestuur.

“Ons is baie hartseer oor die verdwyning van Nick Frischke en kan ons nie eers indink watter pyn en frustrasie sy familie ervaar nie. Ons kan net ons liefde en ondersteuning vir hulle stuur. As ʼn familie-eenheid wil ons, as Karbonkelberg-toerisme, alles in ons vermoë doen om die familie te help om hul geliefde op te spoor sodat hulle ʼn tipe berusting kan kry.”

Die groep doen ʼn beroep op inwoners van Houtbaai en Kaapstad om saam te span. Jy kan ʼn kommentaar op hierdie Facebook-plasing lewer om te laat weet as jy ook wil deelneem. Indien jy op die dag beplan om deel te neem, maak seker dat alle paaie vir inwoners en die SAPD toeganklik bly indien nooddienste benodig word.

Waar: Fish on the Rocks, Harbourweg 1, Houtbaai
Wanneer: Saterdag, 4 Maart 2023
Tyd: 08:00
Onthou jou sonhoed, sonskerm, vrugte en iets om te eet en water om gehidreer te bly.

(Foto: Karbonkelberg-toerisme/Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

M ·

Asseblief … ek sal hulp verleen … dit duur nou al te lank … K9 al gebruik op Sandy Bay op die strand ? … … Sy mense moet “rasend” van bekommernis wees …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.