Gemengde gevoelens oor Marokane as nuwe Eskom-hoof

Dan Marokane (Foto verskaf deur Eskom)

Die DA verwerp die besluit wat Eskom geneem het om Dan Marokane, voormalige hoof van Tongaat Hulett, as nuwe uitvoerende hoof aan te stel.

Maroela Media het vroeër berig die raad van Eskom het Vrydag bevestig dat Dan Marokane as nuwe groepshoof van Eskom aangestel is.

“As die voormalige hoof van groepkapitaal by Eskom, is Marokane ʼn nalatenskap- uitvoerende lid en hy sal niks nuut tafel toe bring om ʼn entiteit, wat reeds ineenstort, te red nie,” sê Mimmy Gondwe, die DA se skaduminister oor openbare ondernemings.

Ná Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, byna ʼn jaar lank gesloer het om ʼn nuwe uitvoerende hoof vir Eskom aan te stel, is die beste waarmee die ANC-regering vorendag kon kom, om ʼn ou Eskom-amptenaar te herwin om die status quo te behou en die land in die greep van beurtkrag te hou, voeg Gondwe by.

“Wat Eskom nodig gehad het as ʼn nuwe uitvoerende hoof, was iemand van buite, iemand met ervare en beproefde tegniese en ingenieurskennis om verouderde kragsentrales om te keer terwyl kapasiteit terselfdertyd verhoog word om kragopwekking na hernubare energiebronne uit te brei.”

Die DA is van mening dat Marokane se aanstelling nie enige vertroue inboesem nie. “Inteendeel, dit sal bloot die kultuur van straffeloosheid, wat tans by die entiteit heers saam met Eskom se verslegtende finansiële posisie, laat voortduur. Eskom het ʼn netto verlies ná belasting van R23,9 miljard vir die 2022/2023- finansiële jaar aangeteken.”

Gondwe meen as ʼn voormalige hoof van groepkapitaal by Eskom, is Marokane gedeeltelik te blameer vir die swak finansiële posisie waarin die kragvoorsiener hom bevind.

Hy sê indien Marokane se omkeerplan vir Eskom (indien hy een in gedagte nie) nie die volgende dringende kwessies insluit nie, dan moet hy eerder homself en die land ʼn guns doen en die aanbod van die hand wys:

  • verbeter die kragopwekkingskapasiteit by Eskom se sukkelende aanlegte en verbeter die energiebeskikbaarheidsfaktor om beurtkrag te verminder;
  • bespoedig Eskom se ontbondelingsproses;
  • prioritiseer die koppeling van hernubare energieprojekte aan die kragnetwerk;
  • kry die Koeberg-verlengingsprojek terug op spoor; en
  • herstel Eskom se swak finansiële toestand.

“Marokane se aanstelling bevestig dat die ANC niks geleer het uit vorige rampspoedige aanstellings by Eskom nie. In plaas daarvan dat hulle tegnokrate met die nodige tegniese kennis bring om die land se staatsbeheerde ondernemings te bestuur, gaan die ANC voort met sy eksklusiewe beleid van kaderontplooiing.”

Solidariteit vra Marokane om sterk te staan teen inmenging by Eskom

Solidariteit hoop intussen dat Marokane die nodige integriteit sal toon om inmenging van buite te keer om die ineenstorting van die kragvoorsiener as ʼn saak van dringendheid te rem.

Marokane is voorheen op ʼn kortlys as kandidaat vir die posisie genoem en Solidariteit het hom toe as die voorkeurkandidaat uit die drietal beskou.

“Hy is iemand met wesenlike ervaring in die privaat sektor wat ook vertroud is met Eskom, aangesien hy die projekhoof was toe die Medupi-kragstasie destyds in werking gestel is,” sê Theuns du Buisson, ekonomiese navorser van Solidariteit se Navorsingsinstituut.

Volgens Du Buisson is die belangrikste vereiste dat Marokane sal moet ruggraat hê teen politieke inmenging, kaders en kaderontplooiing.

“Ons het gesien dat hy in die verlede bereid was om stroomop te swem by Eskom, en hy is vermoedelik daar deur die dienaars van staatskaping uitgewerk. Hopelik sal hy bereid wees om te doen wat Eskom nou so dringend benodig.

“Die pos wat hy gaan beklee is allesbehalwe ʼn maklike pos en om Eskom suksesvol te maak sal hy die druk van bo moet kan weerstaan – veral so kort voor die verkiesing.”

Solidariteit hoop Marokane sal die volgende sake ook as prioriteite beskou sodra sy termyn begin:

  • die koppeling van kragopwekking deur die privaat sektor aan die netwerk sodat die privaat sektor krag aan die netwerk kan lewer;
  • om die ontbondeling van opwekking, transmissie en verspreiding binne Eskom met dringendheid af te handel sodat ons uit die kragkrisis kan kom; en
  • om daadwerklik teen korrupsie op te tree en om toe te sien dat die korruptes se koppe rol sodat daar uitsluitlik op vaardighede gefokus kan word wanneer aanstellings gemaak word.

Solidariteit hoop Marokane het die nodige pligsbesef wat hom in staat sal stel om sterk te bly in die aangesig van die onvermydelike druk wat hy uit verskeie oorde gaan ervaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Eskom is ‘n uitgediende firma met vervalle bates en ‘n gevestigde bestuursfilosofie wat reken dis steeds 1990. Eskom kan nie meer omgedraai of reggeruk word nie.

Korrelkop ·

Nog een vir die gravy train… die vorige een sou mos glo als wat de Ruiter nie kon doen nie laat gebeur… nou wat nou, my ou?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.