Gemiddelde SA’ner armer in 2023

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Sincerely Media/Unsplash)

Ekonome is dit eens dat die Suid-Afrikaanse ekonomie vanjaar veel meer laagtepunte as hoogtepunte beleef het. Een bekende ekonoom kon inderwaarheid nie aan een enkele hoogtepunt dink toe Maroela Media hom onlangs gekontak het nie.

Ekonome voorspel wel ’n verlaging in rentekoerse in die eerste helfte van volgende jaar.

“Die realiteit is ongelukkig dat die gemiddelde Suid-Afrikaner armer geword het in 2023,” sê die ekonoom Dawie Roodt.

Roodt en ander ekonome praat uit een mond wanneer hulle beurtkrag, Transnet en hemelhoë rentekoerse en inflasie vir Suid-Afrikaners se finansiële verknorsing blameer.

“In reële terme is Suid-Afrikaners se inkomste besig om te daal. Dit gaan baie sleg met mense. Hulle lewenstandaard is besig om te verswak,” sê Roodt in aanloop tot die feestyd.

“Verbruikers regoor alle inkomstevlakke sny die rieme in die stadium al dunner,” beaam Waldo Krugell, ʼn professor in ekonomie aan die Noordwes-Universiteit.

“Pryse bly hoog hoewel die inflasiekoers effens begin daal het. Die Reserwebank is besig om inflasie onder beheer te bring, maar huishoudings sien dit nog nie op die winkelrakke nie.”

Krugell sê die inflasiekoers en hoë rentekoers is ook die rede daarvoor dat die meerderheid huishoudings se skuldposisie swakker is as die begin van die jaar.

Roodt sê egter verbruikers se skuldvlakke is volgens hom relatief laag, “maar dit is net omdat dit baie moeilik is om skuld aan te gaan. Die bank wil nie vir jou geld leen nie.”

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Sincerely Media/Unsplash)

Hy sê die impak van beurtkrag word nou behoorlik in die Suid-Afrikaanse ekonomie gevoel. “Ek dink nie die ekonomie gaan ’n halwe persent groei vanjaar nie en dit is hoofsaaklik as gevolg van onder meer Eskom.”

“Beurtkrag was waarlik die terugslag-storie van 2023,” sê Krugell.

Hy gee ook toe dat dit makliker is om die laagtepunte as die hoogtepunte uit te wys wat die ekonomie vanjaar betref.

Hy wys egter daarop dat verbruikers gedurende die eerste helfte van die jaar verbasend veerkragtig was. “Verbruikersbesteding het ’n groot rol gespeel om die bietjie ekonomiese groei wat daar was aan die gang te hou.

“Maar toe begin die hoë rentekoers later byt en nou kry almal swaar.”

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Sincerely Media/Unsplash)

Hy sê die impak van groen energie om beurtkrag te verminder het wel ’n oplewing in belegging tot gevolg gehad. Ongelukkig het dit nie in die derde kwartaal voortgeduur nie. “Maar dit was darem so ʼn klein bietjie positiewe nuus in ’n jaar wat eintlik baie min positiewe nuus gehad het.”

Roodt is boonop baie bekommerd oor die Suid-Afrikaanse regering se skuldrekening.

“Die staat se skuldvlakke is besig om hand uit te ruk. Die minister van finansies gaan in Februarie ’n begroting ter tafel moet lê en hy sal baie minder geld moet uitgee, maar hy kan dit nie doen voor ’n verkiesing nie.

“Ek is dus bevrees dat politici ons in 2024 nog verder in die gemors gaan intrek.

“Ons stuur teen hierdie tempo af op ’n finansiële krisis wat tot gevolg gaan hê dat inflasie baie hoog is en die rand nog verder gaan verswak.”

(Argieffoto)

Vooruitsig vir 2024

Roodt en Krugell voorspel albei dat die rentekoers op kort termyn sal daal.

Ek dink daar is ’n goeie kans vir moontlike rentekoersverlagings gedurende die eerste ses maande,” sê Roodt.

Krugell sê egter weer ekonome sukkel om in die stadium saam te stem oor wanneer die daling verwag kan word.

“Party praat al van Maart. Ander sê weer die Reserwebank sal eers teen die tweede helfte van die jaar kan begin om die repo te sny. Maar ek dink daar is beslis goeie nuus in die pyplyn vir 2024.”

Volgens Krugell is dit ook in die stadium moeilik om ’n voorspelling rakende die rand te maak.

“Dit het baie te doen met die krag van die dollar en die probleme wat die Suid-Afrikaanse ekonomie ervaar. Dan is daar ook die verkiesing wat vir ’n goeie skeut onsekerheid sorg. Ek dink die rand is op die oomblik onderwaardeer.”

Roodt voorspel dat die rand op kort termyn effens gaan versterk, “maar op mediumtermyn gaan ons ’n baie ernstige krisis ingaan,” meen Roodt.

“Die belangrikste raad wat ek vir verbruikers kan gee, is om in 2024 reg te stem.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.