Gesamentlike groenteprojek lewer eerste groente aan mark

Nantes Kelder en Lebo Mosime. (Foto: Verskaf)

Binne ʼn jaar nadat Lebo Mosime van Thabake Business Enterprise besluit het om die kleinskaalse groenteboerdery wat sy in haar agterplaas op 2 000 m² bedryf het uit te brei en na AfriForum uitgereik het om betrokke te raak, het dié groenteprojek sy eerste oes opgelewer.

Die eerste blomkool en broccoli is aan die mark gelewer. Kool sal op ʼn later stadium geoes word.

Die rotering van gewasse word tans toegepas en daar word beplan om tydens die volgende plantsiklus groenbone, soetrissies, brandrissies, murgpampoen en botterskorsies te plant.

Mosime het verlede jaar na AfriForum uitgereik. Hoewel sy in daardie stadium suksesvol produkte aan die mark gelewer het, was die skaal te klein om ekonomies lewensvatbaar te wees.

(Foto: Verskaf)

AfriForum en die landbou-organisasie Saai het Thabake Business Enterprise bygestaan om 0,75 ha van die hoewe van 21 ha in die Phokeng-omgewing – wat Thabake van Royal Bafokeng Enterprise huur – onder songedrewe drupbesproeiing te plaas.

“Ek het kennis van groenteboerdery, maar ek wil leer en groei – ek wil ook graag kennis aan ander mense wat wil boer oordra en bydra tot ekonomiese groei en werkskepping,” sê Mosime, stigter en uitvoerende hoof van Thabake Business Enterprise, nou.

“My visie is om ʼn suksesvolle kommersiële boer te word en gesogte, hoë kwaliteit produkte te lewer. Ek wil Thabake Business Enterprise bou en laat groei sodat my kinders en die geslagte ná hulle dit kan erf – ek wil ʼn blywende nalatenskap bou. Ek dank die Here vir dié vennootskap.”

Nantes Kelder, Lebo Mosime en Barend Uys. (Foto: Verskaf)

Leon Lourens, ontwikkelingskoördineerder van Saai, sê dié organisasie staan Thabake Business Enterprise in hierdie stadium by om hul bestaande vermoë rondom beplanning en bestuur van die boerdery te verbeter.

“Ons werk ook saam met plaaslike rolspelers met die nodige tegniese kundigheid rondom keuse van variëteite, bemesting, plaag- en onkruidbeheer en om die grondkwaliteit te verbeter. Lebo verstaan hoe om te boer. Ons staan haar graag by om haar boerdery te ontwikkel tot ʼn ekonomies lewensvatbare landbou-onderneming.”

Nantes Kelder, nasionale projekkoördineerder van interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum, sê selfstandige gemeenskappe, voedselsekerheid, goeie verhoudings en samewerking tussen kultuurgemeenskappe is noodsaaklik om vreedsame naasbestaan hier aan die suidpunt van Afrika te verseker.

“Dit is vir AfriForum ʼn voorreg om by ʼn vennootskap betrokke te wees waar daar met soveel toewyding hard gewerk word om ʼn impak op voetsoolvlak te maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.