‘Geskiedkundige’ oorwinning in DA-stryd teen kaderontplooiing

DA-LP Leon Schreiber
(Foto: Facebook)

In ʼn lang hofstryd wat deel vorm van die DA se stryd teen ANC-kaderontlpooiing, het die Johannesburgse hooggeregshof nou beslis dat die regerende party se weiering om die notules, WhatsApp-gesprekke, e-posse, CV’s en alle ander rekords van sy kaderontplooiingskomitee openbaar te maak “onwettig en ongeldig” is.

Die hof het verder beveel dat die ANC die DA se regskoste betaal en binne vyf dae alle dokumente vanaf 1 Januarie 2013, toe pres. Cyril Ramaphosa voorsitter van die kaderontlooiingskomitee geword het, oorhandig.

“Ramaphosa was gedurende Jacob Zuma se presidentskap voorsitter van dié komitee, wat in hierdie tyd invloed uitgeoefen het om die aanstelling van korrupte kaders te verseker wat ons staat gekaap en ineen laat stort het,” sê dr. Leon Schreiber, die DA se woordvoerder oor staatsdiens en administrasie.

“Die hofuitspraak was ʼn noodlottige hou vir die ANC se stelling dat daar ‘omstandighede is waar die wense van die ontplooiingskomitee nie in ag geneem word nie’. Die uitvloeisel hiervan is dat daar inderdaad gevalle is waar aanstellings só gemaak word.”

Die DA meen die uitspraak bevestig ook die belang van parlementêre oorsig en dat die openbaarmaking van feite rakende die aanstelling van mense noodsaaklik is in die party se pogings om kaderontplooiing te beëindig.

“Die uitspraak is ’n geskiedkundige oorwinning deur die DA vir deursigtigheid en die oppergesag van die reg in Suid-Afrika. Dit skep nuwe regspraak wat bevestig dat politieke partye nie verhewe is bo die Grondwet nie, en maak dit duidelik dat politici wat op korrupte wyses by staatsake inmeng, nie agter ʼn sluier van geheimhouding kan skuil nie,” sê Schreiber.

“Vir bykans drie dekades het die ANC se kaderontplooiingskomitee in die geheim by aanstellings in die staat ingemeng, wat regstreeks tot die ineenstorting van dienslewering en die beurtkragkrisis bygedra het wat ons almal elke dag ervaar.”

Schreiber sê voorts dat Suid-Afrikaners nou vir die heel eerste keer nie net Ramaphosa se persoonlike aandadigheid aan staatskaping as voorsitter van die komitee sal kan sien nie, maar ook die ware prentjie van hoe die aanstelling van ANC-kaders op grond van lojaliteit aan die party, eerder as op meriete, geskied.

Volgens die DA is kaderontplooiing juis die oorsaak van die vinnige agteruitgang van die staat wat Suid-Afrika die afgelope jare beleef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Di ·

Ry hulle tot die waarheid uitkom. Dis hoekom die land in totale riool status verval het, TE VEEL ANC KAders is ORALS aangestel maar kan nie die werk doen nie, KORRUPTE spul

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.