Geslagsgeweld: ‘ʼn Tweede pandemie in SA’

Foto ter illustrasie. (Foto: Kat J/Unsplash)

Die misdaadstatistieke wat vroeër vandeesmaand deur Bheki Cele, minister van polisie, bekend gemaak is, dui daarop dat vroue en kinders in Suid-Afrika steeds in vrees leef en dat geslagsgeweld “soos ʼn tweede pandemie” in die land is.

Só meen Charnel Hattingh, hoof van bemarking en kommunikasie van die veiligheidsmaatskappy Fidelity ADT, in die lig van die jaarlikse wêreldwye veldtog van 16 Dae van Aktivisme teen Geweld teen Vroue en Kinders wat vandag (Woensdag) weer afskop.

Die veldtog is die eerste keer in 1991 deur die Verenigde Nasies se vroueleierskapsinstituut van stapel gestuur.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie dui die jongste syfers daarop dat 12,1 uit elke 100 000 vroue in Suid-Afrika die slagoffers van geslagsgeweld is. Dié syfer is vyf keer meer as die wêreldwye gemiddeld.

“Die veldtog is baie waardevol om weer die fokus op geweld teen vroue en kinders te plaas. Hoewel ek glo dat individue ook ʼn verskil kan maak, moet ons die groot aantal niewinsgewende en nieregeringsorganisasies wat saamwerk om geslagsgeweld uit te wis, ondersteun.”

Pres. Cyril Ramaphosa beaam dié stelling en sê landsburgers moet erkenning gee aan die waardevolle werk wat deur diegene buite die regering gedoen word om geslagsgeweld hok te slaan.

Argieffoto: (Pixabay/Pexels)

“Ons almal weet baie goed hoewel die regering beleidstellings instel, is dit ons nieregeringsorganisasies en gemeenskapswerkers wat die naaste aan ons mense is. Hulle is die barometer van die inwerkingstelling op grondvlak.

“Die land se vroue en kinders, en uiteraard al die mense van Suid-Afrika, sal vir altyd dankbaar wees vir die werk van ons beginselvaste siviele organisasies en werkers.”

Buiten geweld se verwoestende uitwerking op vroue en kinders se gesondheid, veiligheid en welstand, het geslagsgeweld ook ʼn kenmerkende sosiale, politiese en ekonomiese invloed op die land, voeg Ramaphosa by.

“Volgens ʼn studie wat in 2017 gedoen is, beloop die ekonomiese koste van geslagsgeweld in Suid-Afrika tussen R28 miljard en R42,4 miljard per jaar. Dit sluit maatskaplike dienste en mediese sorg in wat nodig is om doeltreffend op geslagsgeweld te reageer.

“Laat ons, terwyl ons die veldtog vanjaar van stapel stuur, onthou dat ons almal ʼn gesamentlike doel het: om die gety te draai teen hierdie plaag. Laat ons in die gees van wedersydse respek en vennootskap verseker dat vanjaar se veldtog ʼn verskil maak.”

Volgens Hattingh kan ʼn wesenlike verskil gemaak word deur persoonlike veiligheidsgewoontes te kweek. Sy deel die volgende wenke:

  • Vertrou jou instink. As iets of iemand jou ongemaklik laat voel, vermy die persoon en verlaat die gebied.
  • Maak kontak met jou private veiligheidsmaatskappy en vra of dit ʼn mobiele paniekalarmdiens verskaf wat op jou selfoon afgelaai kan word.
  • Sê vir iemand waarheen jy gaan en wanneer jy verwag om terug te keer. Stoor die besonderhede van ʼn noodkontakpersoon op jou foon of memoriseer die nommer.
  • Wees in plekke soos winkelsentrums en vulstasies bewus van die mense rondom jou wanneer jy na jou motor toe beweeg.
  • Maak seker jou motor se deure is gesluit sodra jy inklim. Maak ook seker jou handsak en ander waardevolle items is nie sigbaar deur die motorruit nie.

Ouers kan ook die volgende veiligheidswenke met hulle kinders deel:

  • Moenie alleen skool toe en terug stap nie en bly in herkenbare strate sonder om kortpad te neem deur stiller gebiede of leë parkeerterreine. Moet nooit selfone en iPads sigbaar maak nie.
  • Kinders wat by die skool opgelaai word, moet binne die skoolterrein wag vir die rygeleentheid om op te daag.
  • Moet nooit in ʼn vreemdeling se motor klim nie, selfs wanneer hulle daarop aandring dat ʼn geliefde seergekry het en dat hulle gestuur is om die oplaaiwerk te doen.
  • Oorweeg dit om ʼn wagwoordstelsel te gebruik. As die persoon wat die kind oplaai nie die wagwoord ken nie, moet die kind nie in die motor klim nie en dadelik vir hulp vra.
  • Moet onder geen omstandighede met vreemdelinge gesels nie. As iemand die kind wil gryp, moet hy baklei en skree sodat omstanders weet die persoon is nie aan hom bekend nie.
  • As jou kind agterdogtig is oor vreemde aktiwiteite wat hulle gewaar, moedig hulle aan om enige fisieke besonderhede soos kledingstukke en motors te probeer onthou.
  • Maak seker jou kinders memoriseer hulle volle name, adres en telefoonnommer.

“Deur hierdie maatreëls toe te pas kan vroue en kinders goeie veiligheidsgewoontes kweek wat hulle kan help om gevaarlike situasies te vermy,” voeg Hattingh by.

Die 16 Dae van Aktivisme teen Geweld teen Vroue en Kinders skop Woensdag 25 November af en strek tot Internasionale Menseregtedag op 10 Desember.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Dries

Uhm….daar is net ‘n paar dae gelede berig van ‘n verkragter wat op parool uit was, en WEER verkrag het. Ruk die regstelsel reg en bou meer tronke! Minder parool, en minder borg!

Casper

Jy kry lewenslange gevangenisstraf vir geslagsgebaseerde misdrywe veral verkragting van vrouens en kinders en dan word parool aan jou toegestaan.Nie lank na jou vrylating doen jy dit weer.Die president en die oom met die hoed het self gesê dat parool of borg nie toegestaan moet word nie.In ‘n land soos Dubai word jy in die openbaar tereggestel.

Maria

58 moorde per dag, helfte seker vroue en kinders. Dit is die ware pandemie.

Nikolaas

Hoeveel mans in SA is die slagoffers van geweld?

Persheks Adri

Tog lees ons elke dag hoeveel kinders en vrouens vermoor word en tog word daar nie daadwerklik iets gedoen nie! Verkragters en moordenaars het meer regte as ons eerlike burgers