Gestrande SA’ners oorsee ‘moedeloos’

Talle Suid-Afrikaners is desperaat om na hul huise terug te keer (Foto: Verskaf)

Talle Suid-Afrikaners oor die hele wêreld is gestrand en wag in spanning om hulp vanaf die Suid-Afrikaanse regering sodat hulle kan terugkeer huis toe. Hul planne om einde Maart terug te keer na Suid-Afrika is gekelder weens die instel van die algehele landwye afsondering en reisverbod.

Talle van dié Suid-Afrikaners gaan onder moeilike omstandighede gebuk en is desperaat om na hul huise en families terug te keer. Die meeste het reeds met die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) en die betrokke ambassades kontak gemaak, maar wag nog op ’n antwoord.

Hoewel die regering reëlings getref het vir sommige Suid-Afrikaners om in die volgende twee weke teruggebring te word, het  Suid-Afrikaners in ander wêrelddele aan Maroela Media gesê hulle het weke gelede voorgeskrewe vorms vir Dirco ingevul, en geen terugvoer ontvang nie.

Verskeie Facebookgroepe, waaronder Home Away From Home en #bringourfamilieshome, is intussen gestig vir Suid-Afrikaners wat in die buiteland gestrand is. Op dié groepe kan gestrande Suid-Afrikaners oor die wêreld met mekaar kontak maak en mense kan finansiële bystand verleen waar nodig. Daar is reeds duisende Suid-Afrikaners op dié groepe.

Lunga Ngqengelele, woordvoerder van Dirco, sê hulle neem kennis van Suid-Afrikaanse burgers wat in die buiteland gestrand is. Hy het bevestig dat Dirco alles in sy vermoë doen om hierdie burgers veilig na Suid-Afrika terug te bring. Hulle gaan voort om met onderskeie ambassades en regerings te onderhandel om hul burgers te repatrieer.

“Talle uitdagings staar ons in die gesig wat die repatriasieproses verder uitrek. Talle lande waar Suid-Afrikaners gestrand is, is in landwye afsondering, wat die proses uiters moeilik maak,” sê Ngqengelele.

Ngqengelele sê meer as 3 000 Suid-Afrikaners het reeds met hulle kontak gemaak en aangedui dat hulle in die buiteland gestrand is.

Altesaam 16 Suid-Afrikaners wat in Doebai en Doha gestrand was, is sowat twee weke gelede na Suid-Afrika gerepatrieer. Tlali Tlali, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), sê 18 repatriasievlugte en twee huurvlugte is vir die volgende twee weke geskeduleer om gestrande Suid-Afrikaners veilig huis toe te bring.

Die lugdiens sal in die komende week na Mosambiek en Miami in Amerika vlieg om honderde Suid-Afrikaners van daar af terug te bring. ’n Vlug met Suid-Afrikaners het ook reeds Maandagaand van Duitsland na Suid-Afrika vertrek en 100 Suid-Afrikaanse burgers wat in Ghana vir werk was, is Dinsdag na Suid-Afrika teruggebring.

Tog is daar Suid-Afrikaners elders in die wêreld wat nog geen taal of tyding vanaf die regering gehad het nie.

Suid-Afrikaners in Kambodja

Sowat 45 Suid-Afrikaners is in Kambodja gestrand.

Dié groep probeer saam kop bo water hou, en skraap geld en kos bymekaar en deel onder mekaar uit.

Maroela Media het vroeër berig die 18-jarige Licois Coetzee van Pretoria is een van ʼn paar onderwysers wat in Kambodja gestrand sit. Coetzee is tans werkloos.

Coetzee sê Suid-Afrikaners word partymaal nie eens by winkels toegelaat om kos te koop nie, weens xenofobiese neigings in dié land.

Nóg ’n bron uit Kambodja vertel daar is Suid-Afrikaners wat mediese hulp benodig en dit nie kan bekostig om na ’n hospitaal te gaan nie. Party Suid-Afrikaners ontvang ook al kennisgewings dat hulle uit hul blyplekke gesit gaan word omdat hulle nie die huur kan bekostig nie.

Pasgetroude paartjie in Bali

Ruan en Soné Walkenshaw (26) (Foto: Verskaf)

Ruan en Soné Walkenshaw (26) het op 18 Maart in Bali geland vir hul wittebrood. Hulle moes op 28 Maart terug Suid-Afrika toe gevlieg het, maar hul vlug is weens die landwye afsondering gekanselleer.

Soné vertel Dirco het laat weet dat hulle hierdie week met Qatar Airways gaan onderhandel om die Suid-Afrikaners in Bali terug te vlieg Suid-Afrika toe.

Die paartjie bly tans in ’n hotel in Kuta.

“Ons sakke word nogal geruk. Ons moet drie keer ’n dag kos koop, want ons kan nie self in die hotel kos maak nie. Ons moet ook ons wasgoed laat was wat redelik duur is om te doen.”

Sy sê Bali is nog nie in landwye afsondering nie, maar omtrent al die winkels se deure is reeds gesluit. Die enigste plekke wat wel oop is, is klein winkels waar noodsaaklikhede gekoop kan word.

“Ons verwyl ons dae in die hotel, want ons kan nêrens anders heen gaan nie. Ons verlang verskriklik baie huis toe en wil graag net weer by ons familie wees.”

Sy is bekommerd oor haar skoonpa wat siek is en gereeld hospitaal toe moet gaan vir chemo-behandeling. “Dit is skrikwekkend om te dink dat ons nie by hulle kan wees as iets moet gebeur nie.”

Toergroep in Egipte

Die toergroep in Egipte (Foto: Verskaf)

’n Toergroep van ses Suid-Afrikaners is gestrand in Kaïro in Egipte.

Magda Pretorius (28) en haar man, Petrus (28), asook Philip Jacobs (45), Melissa Schnettler (46), Andries van Heerden (41) en Cathy van Heerden (32) sou aanvanklik 21 Maart teruggevlieg het Suid-Afrika toe. Hul vlugte is intussen gekanselleer.

Petrus vertel die Egiptiese ambassade in Suid-Afrika het hulle aanvanklik beloof dat hulle einde Maart met EgyptAir na Suid-Afrika kan terugvlieg. “Met ons aankoms in Kaïro is ons verwittig dat die vlug gekanselleer is,” vertel hy.

Die groep Suid-Afrikaners vra die SA regering om hulp (Foto: Verskaf)

Dié toergroep het op 5 April by die ambassade in Egipte om hulp gaan aanklop. “By die ambassade kon niemand regtig ons vrae beantwoord nie. Daar is vir ons gevra om voorstelle te maak oor hoe om ons by die huis te kry. Ons is ook in kennis gestel dat daar geen finansiële hulp van die regering se kant af sal wees vir die tydperk wat ons in Kaïro gestrand is nie. Ons is baie moedeloos terug hotel toe,” vertel Petrus.

Die Pretorius-egpaar se twee kinders, onderskeidelik vyf en twee jaar oud, bly by hul ouma in Suid-Afrika. “Ons verlang ontsettend baie. Ons bel elke dag ons kinders, maar wil hulle graag weer in lewende lywe sien.”

Petrus sê dié uitstappie raak nou onbekostigbaar en hulle betaal 120 dollar (ongeveer R2 200) per nag vir verblyf, met etes uitgesluit.

Die groep bly heeldag in hul kamers om hulself teen die virus te beskerm. Egipte is nog nie in landwye afsondering nie, maar niemand mag voor 07:00 die oggend of ná 19:00 die aand uit hul huise gaan nie.

Petrus sê te midde van die spanning om huis toe te gaan, het die Egiptiese burgers hulle sover nog net welkom laat voel en gehelp waar hulle kan.

Gestrand in Pakistan

Melanie Govender (38) (Foto: Verskaf)

Melanie Govender (38) en haar driejarige seun is sedert die begin van Maart in Pakistan nadat sy haar oudste seun se troue daar bygewoon het. Hulle sou 22 Maart teruggevlieg het Suid-Afrika toe.

Sy is een van sowat sewe Suid-Afrikaners wat in Pakistan gestrand sit. Pakistan is tans in landwye afsondering.

“My geld raak min, want ek het net begroot vir drie weke,” vertel Govender.

Govender se sesjarige dogtertjie bly tans by haar broer en sy vrou in Richardsbaai in Suid-Afrika. “Ek verlang verskriklik baie. Dis die langste wat ek al ooit van haar af weg is. Ons al twee huil gewoonlik saam as ons mekaar bel.”

Govender sê haar seuntjie is verward en sy probeer maar sy aandag van alles aflei.

Govender vertel ’n huurvlug sal haar amper R20 000 uit die sak jaag.

“Die situasie is emosioneel uitputtend en stresvol.”

Gestrandes op ʼn passasierskip

Sowat 30 Suid-Afrikaners sit tans vas op ’n Norwegian Cruise Line Holdings- (NCLH-)passasierskip in Jacksonville in Amerika en wag in spanning om ʼn vlug terug Suid-Afrika toe te kry.

Soos vroeër berig, sit hulle nou al amper ’n maand lank op die skip en wag terwyl die bestuur van NCLH sy bes doen om vlugte vir hulle terug huis toe te reël.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Anel ·

Dis mos nie our people nie. So hoekom sal die regering omgee. Was baie vinnig om die klomp uit Sjiena te gaan haal en in luuksheid te laat bly. Solank dit net our people is. Die ander moet maar self sien en kom klaar.

Die Wolf ·

Ek wonder nog steeds wie daar tuis gegaan het, het connentions?

Michael 1 ·

Die een plakaat stel dit goed ons is net goed genoeg om belasting te betaal,hoop die mense word gehelp ,ek kan dink watter penarie hulle in is.

Luister ·

Hulle het geweet en nog steeds vakansie gaan hou. Die virus kom nou al ‘n lang pad.

4ntj13 ·

R20 000 vir ʼn huurvlug. Dis nou seker mits albei lande se lugruim daarvoor oopgestel kan word. Nou word dit ook baie armer Suid-Afrikaners wat nog nooit jetsetters-wees kon bekostig nie, se belastingplig. Ook die 3 weke daarna se kwarantyn-hotel en kos, en sulke vervoer. Om nie te praat van die mediese ondersteuning daartydens nie. Miskien moet die ambassades in daardie lande eerder vir die mense kamers aanbied dat hulle kan wag en waar hulle gebalanseerde nuus kan ontvang. Miskien oorleef die betrokke lugdienste die ekonomiese ineenstorting en kan hulle later hul kaartjies wat hulle gekoop het wel gebruik.

Ja, ek kry hulle jammer, maar dis nie ons skuld dat hulle daar vasgekeer is nie. Miskien as hulle beter verantwoordelikheid vat as om iemand skuldig te laat voel, kan mens ʼn insameling probeer help hou. Maar, nou is hul land éérs verskriklik arm! Dit voel nie vir my regverdig dat ons belastinggeld moet gaan vir tekortkominge in hul reis-planne nie. Covid was voor Maart al ʼn krisis

Niklaas ·

Arme mense se “timing” was bietjie beroerd . Ons (ek en my vrou) het ook geweet van die komende Afsonderings moontlikheid , maar lankal reeds betaal vir ons 7 dae vakansie en vertrek toe en het netnet betyds teruggekeer by die huis voor die president se isolasie periode begin het. Wel, ons het die kans gevat en was baie gelukkig. Bygesê , ons was nie afhanklik van reis-vlugte en reis agente nie , en dit maak een reuse verskil. Ander vakansie gangers het ongelukkig bedroë daarvan afgekom , maar so iets kan enigeen tref ! Ek hoop hul word gehelp met dieselfde entoesiasme en ywer as wat die groep van Sjina ervaar het en by The Ranch geëindig het en daar versorg is in luuksheid.

Tienie ·

Eintlik moet ek niks sê nie…..

Maaar SKIELIK is SA weer n beter plek as die Buiteland.

Home Sweet Home.

Boortor ·

Dit is n slim plan! Jy kan seker nie bekostig om oorsee te gaan werk of kuier nie

Rika ·

Wat sê hul van belasting?Is dit nie juis hoekom hulle weggehol het buiteland toe nie?BLY DAAR JUL WEGHARDLOPERS!!!Nou wil jul sowaar as wragtig ONS BELASTINGGELD gebruik om terug te kom!!!Gras is nie altyd groener aan die anderkant nie!!En guess what?Covid 19 is hier ook!!!Getalle klim elke dag!!Bly daar…julle wou gegaan het!!!

knolle ·

Vriende se seun het die naweek met een van hierdie noodvlugte terug gevlieg Brittanje toe. Die kaartjie het R16 500 gekos, wat hy self moes betaal. Daar was wel ‘n lening opsie by registrasie vir mense wat nie die fondse gehad het om kaartjies te koop nie. Die lening betaal jy dan af wanneer jy weer in jou tuisland is. Dis regverdig sou ek sê. Dis niemand se skuld dat reeds bespreekte kaartjies gekanselleer is nie, maar daarom het die Britse konsulaat met die lugrederye gereël dat dit weer bespreek kon word op ‘n latere stadium, so jy verloor nie jou geld nie.
Dis nie regverdig om van belastingbetalers te verwag om hierdie proses te borg nie.

Sarel ·

Kan iemand van die Opposissie kant vir ons vertel.hoekom die roep van China die belastingbetalers ‘n hengse klomp geld grkos het vir luukse verblyf terwyl daar teen ander gediskrimineer word Rhamapoza moet nog paar Ministers op spesiale verlof sit

Gerhard ·

Twee woorde behoort jou te antwoord op daai vraag : “Our People”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.