Gestremde POF-begunstigde kry geld terug ná bedrog

Argieffoto (Foto: Steve Buissinne/Pixabay)

Mahlubandile Mavuso, wat ʼn breinbesering opgedoen het en in ʼn rolstoel gekluister is ná ʼn motorongeluk in 2009, het ná ʼn bedrogspul geld wat die Padongelukkefonds (POF) uitbetaal het, teruggekry.

Luxolo Tyali, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Oos-Kaap, sê Mavuso se suster het die geld gebruik om ʼn voertuig vir haar kêrel, wat terloops ook by die POF gewerk het, te koop. Die NVG se batebeslagleggingseenheid het ʼn bewaringsbevel bekom en die voertuig op ʼn veiling verkoop.

“Mavuso was in 2009 betrokke in ʼn motorongeluk as ʼn voetganger. ʼn Motor het hom raakgery. Hy het ernstige fisiese beserings en ʼn breinbesering opgedoen en kon daarna nie sy finansiële sake hanteer nie. Sy biologiese suster, Nokulungisa, het as versorger opgetree en ʼn eis by die POF ingedien.”

Die eis was suksesvol en dit is in 2013 en 2014 in twee verskillende bedrae, tot ʼn totaal van R1,4 miljoen, uitbetaal.

“Die suster het op 22 Maart 2014 ʼn bedrag van R143 000 na ʼn voertuigverkoper oorbetaal met die verwysing ‘Mzuvukile Gcanabana’, vir die aankope van ʼn Isuzu KB 300TD. Die bedrag het egter aan Mavuso behoort en moes nooit tot voordeel van Gcanabana aangewend geword het nie.”

Die suster, as die voog, het geen reg gehad om die voertuig vir haar kêrel aan te koop met die begunstigde se fondse nie.

“Die voertuig is in Gcanabana se naam geregistreer, was in daardie stadium as ʼn eisehanteerder by die POF gewerk het. Hy het dus in besonderhede kennis gehad van die betrokke eis.”

Die NVG se batebeslagleggingseenheid het ʼn verwysing van die gespesialiseerde handelsmisdaadeenheid ontvang om die saak te hanteer. ʼn Bewaringsbevel is bekom teen die voertuig, aangesien dit as die opbrengs van bedrog geïdentifiseer is. ʼn Finale bevel is op 25 April 2023 in die hooggeregshof bekom wat bepaal het dat die voertuig verkoop moet word en die opbrengs aan Mavuso uitbetaal moet word.

“Die voertuig is vir R45 650 verkoop en dit is aan Mavuso terugbetaal, as die slagoffer van bedrieglike aktiwiteit.”

Die strafregtelike saak teen Gcanabana duur voort in die streekhof in Oos-Londen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.