Gesukkel met verskaffing gevaarlik vir kosbedryf

Internasionale oproer verhoog die gevaar dat voedsel nie vinnig verskeep word nie, wat weer kan veroorsaak dat besmetting plaasvind of voedseloordraagbare siektes uitbreek. (Foto: Eskort)

Daar is toenemende kommer oor voedselgehalte en -veiligheid, asook hernude klem op naspeurbaarheidstelsels, terwyl ʼn gesukkel met die verskaffingswaardeketting in die voedselbedryf voortduur.

Arnold Prinsloo, uitvoerende hoof van Eskort, sê kleinhandelaars en vervaardigers sukkel met die rimpeluitwerking van die voortgesette inperking in Sjanghai, handelsontwrigting in die Swartsee-streek, brandstofprysskokke, wydverspreide opeenhopings by hawens en vertragings met vrag.

“Internasionale oproer verhoog die gevaar dat voedsel nie vinnig verskeep word nie, wat weer kan veroorsaak dat besmetting plaasvind of voedseloordraagbare siektes uitbreek,” sê Prinsloo.

Volgens hom is dit nou belangriker as ooit vir vervaardigers en produsente om hul produkte na te spoor om elke tree van die pad verbruikers se gesondheid en veiligheid te verseker.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) raam dat tot een uit elke tien mense wêreldwyd – of 600 miljoen mense elke jaar – siek word omdat hulle besmette kos geëet het. Dit is ʼn getal wat die hoogte kan inskiet as behoorlike voedselbestuurmaatreëls nie geld nie.

Weens toenemende druk op die bedryf gaan die internasionale voedselnaspeurbaarheidsmark oor die volgende drie jaar met ʼn verwagte jaarlikse gemiddeld van 9,3% toeneem – en teen 2025 behoort dit ʼn waarde van ʼn geraamde R325 miljard te bereik.

“Naspeurbaarheid bied sakeondernemings die geleentheid om openbare gesondheid te help beskerm en voedselafval te verminder deur ratser en meer reagerende voedselstelsels te skep. Dit help weer om ʼn handelsmerk se goeie naam te beskerm en bou kliëntelojaliteit,” sê Prinsloo.

Naspeurbaarheid help ook om verskaffingskettings te optimaliseer, aangesien dit verliese kan meet en enige haakplekke in die stelsel kan uitwys.

Dit lei weer tot ʼn verlaging in voedselveiligheidsprobleme of die nodigheid om produkte te moet herroep en verhoog sodoende doeltreffendheid.

Eskort se eie stelsels is so ontwerp om met die heel kleinste besendings te kan werk wat unieke reeksnommers kry. Dié kode bevat verskeie besonderhede, onder meer wie die produk verpak het, hoe laat dit gedoen is, watter individuele rou bestanddele gebruik is – en waar dit vandaan kom.

“Vir varkprodukte stel dit ons in staat om die vleis al die pad tot by die individuele varke op ʼn spesifieke plaas na te spoor,” sê Prinsloo.

Sommige maatskappye gebruik ʼn week se produksie, maar Eskort hou syne doelbewus klein sodat die maatskappy groter beheer oor sy produkte kan behou. Dit bied groter verbruikersbeskerming en verminder die gevaar wanneer ʼn produk herroep moet word.

Om kruisbesmetting tussen verskaffers en plase te verhoed, word vragmotors van verskillende plase verbied om op dieselfde tyd die vervaardigingsaanleg binne te gaan en die voertuie word ontsmet voordat hulle inry en weer wanneer hulle vertrek.

ʼn Laboratorium op die perseel doen daaglikse toetse en ʼn eksterne laboratorium doen ʼn onafhanklike sertifisering.

Alle proteïene word boonop getoets om voedselbedrog te voorkom.

“Die koste daarby betrokke is beduidend, maar algehele deursigtigheid kan ʼn voedselhandelsmerk as’t ware maak of breek. Eerder as dat dit ʼn regulatoriese las is, is belegging in strenger beheer en die stelsel ʼn strategiese geleentheid om groter waarde vir huishoudings en sakeondernemings te skep.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Sarie ·

Die blote feit dat n land wat eens op n tyd totaal selfonderhoudend was, nou vrees vir invoer tekorte, spreek boekdele.

Nommer 7 ·

Sarie, eens op ‘n tyd het SA produsente hul produkte aan die SA mark gelewer. Tans voer SA produsente 80-90% van hul produkte uit, en word hulle in Dollar betaal. Dit skep tekorte in SA wat veroorsaak dat voedsel ingevoer moet word.

Leana ·

Dit is waarvoor ek nie kan verstaan nou dat daar probleme by die hawe is waarvoor die produkte nie eerder terug gedruk word in die SA mark waar dit gebruik kan word nie eerder as om jou produkte te laat lê en vrot op die hawens nie. Lyk my die mense het te geldgierig geword.

Sarie ·

Jy is korrek. En SA was self onderhoudend. Selfs in tyd van sanksies

Faraway ·

“en daar sal hongersnode wees en PESSIEKTES en aardbewings op verskillende plekke.
Maar al hierdie dinge is ‘n begin van die smarte . . .

Sarel ·

Die gevolge van Wereldwye simpatie teenoor misdadigers wat maak en breek sonder verantwoordelikheid

Swerwer ·

Koop niks waarop Chinese skrif voorkom nie. Baie versigtig om vleis te koop as daar nie ‘n bekende SA handelsmerk op is nie. Beter om dan maar Vegetaries te gaan

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.