Gevaarlike misdadigers ontsnap uit O-Kaap-tronk

Argieffoto (Foto: Ichigo121212/Pixabay)

Die polisie is op die spoor van agt gevangenes wat Saterdagaand uit die aanhoudingselle by die Mount Ayliff-polisiestasie in die Oos-Kaap ontsnap het. Die gevangenes was ten tyde van hul ontsnapping verhoorafwagtend.

Die polisie het gewaarsku dat die gevangenes baie gevaarlik is aangesien hulle ernstige misdrywe gepleeg het, onder meer moord, verkragting en roof.

Brig. Tembinkosi Kinana, woordvoerder van die polisie, sê die polisie het ’n klopgeluid vanuit een van die polisieselle gehoor. Hulle het gaan kyk wat aangaan en toe van een van die gevangenes verneem dat daar gevangenes uit hul selle ontsnap het.

“By die ondersoek en inspeksie van die selle het die polisie ontdek dat ysterstawe en vensters van die sel beskadig is en dat altesaam agt gevangenes ontsnap het,” sê Kinana.

Kinana sê die omstandighede rakende die voorval word tans ondersoek deur ’n taakspan van die polisie wat onmiddellik na die voorval saamgestel is. Die taakspan is deur lt.genl. Liziwe Ntshinga, die provinsiale polisiekommissaris van die Oos-Kaap, opdrag gegee om die vlugtende verdagtes so gou as moontlik op te spoor.

Intussen is ’n saak van ontsnapping uit wettige aanhouding teen die ontsnaptes aanhangig gemaak. ʼn Interne ondersoek gaan ook uitgevoer word om vas te stel of die polisiebeamptes wat aan diens was, dalk nalatig was.

Die agt verdagtes is aanvanklik in hegtenis geneem vir die volgende: Alungile Loni (21) vir diefstal, Mfundiso Nogwanya (22) vir verkragting, Sipho Mdutyulwa (26) vir huisroof en diefstal, John Themba Ndou (36) vir verkragting, Nathi Mavela (21) vir aanranding, Lizwi Dawedi (21) vir moord, Sipho Ndzelu (21) vir diefstal en Abongile Mphandana (27) vir ʼn vorige ontsnapping.

Kinana sê gemeenskapslede word versoek om nie die agt verdagtes self te probeer aankeer nie, maar om eerder die polisie in kennis te stel as hulle een van hulle identifiseer.

Enigiemand met meer inligting oor waar die verdagtes hulself kan bevind, kan die polisie se misdaadnommer by 08600 10111 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anel ·

Nou wonder ek, wat het die lot wat in die aanklagte kantoor was gedoen? Hoe het hulle nie gehoor dat daar iets snaaks by die selle aangaan nie? En word daar nie meer gereeld selle besoek nie? Met sulke musdadigers moes hulle ten minste elk half uur bedoek gewees het. En wat van die kampwag? Hoe het hy hulle nie gesien nie? Vra ook maar net.

Kalla ·

Hoe gebeur dit dat niemand hoor as ysterstawe so beskadig kan word en niemand hoor niks?

Niklaas ·

Verseker was die “Africa salute” (geldjies geplaas in bakhand) gemaak aan iemand wat sleutels tot die seldeure ronddra. Hoe anders ontsnap die verdagtes elke maand in die land, so maklik? Dis deesdae sommer baie algemeen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.