Gevangenes dagvaar departement vir ‘aanranding, marteling’

Argieffoto: ANA.

Deur Zoë Postman, GroundUP

WAARSKUWING: Die inhoud van dié berig is grafies van aard en kan sommige lesers en kinders ontstel.

Vyf huidige en voormalige gevangenes van die Leeuwkop-gevangenis in Johannesburg dagvaar die minister van justisie en die departement van korrektiewe dienste (DKD) vir beweerde aanranding en marteling deur tronkbewaarders.

Die verhoor het op 28 Oktober in die hooggeregshof in Johannesburg begin en is vir 15 dae op die hofrol geplaas.

Xolani Zulu, Llewellyn Smith, Benson Qibi, Abel Phasha en Mthokozisi Sithole word deur Regslui vir Menseregte verteenwoordig.

Luidens ʼn verklaring van die organisasie het die beweerde aanranding en marteling van die gevangenes op 10 Augustus 2014 plaasgevind. Zulu het ʼn seldeur met ʼn tandeborsel versper sodat tronkbewaarders dit nie kon binnekom nie.

Hy het met die deur gepeuter nadat al die inwoners in die selblok B1 se komberse afgeneem is. Zulu het daarop aangedring om die onregverdige optrede teenoor B1-inwoners met die senior bestuur van Leeuwkop te bespreek, maar is nie die geleentheid gegun nie. Hy het uit protes opgetree, voer die regspan aan.

Luidens die hofstukke is gevangenes aangerand en gemartel as straf. Die vyf gevangenes is met knuppels geslaan, geskop en met elektriese toestelle geskok. Tronkbewaarders het glo ook honde op hulle losgelaat, hulle is gedwing om vir lang tye te hurk en handstande te doen en die gevangenes is oor die vloer gesleep.

Die hofstukke lui ook dat beamptes sommige van die gevangenes gedwing het om hul klere uit te trek en hulle toe onder lopende water gedruk het, terwyl die amptenare hulle met elektrisiteit geskok het. ʼn Ander amptenaar het na bewering op een van die gevangenes gesit om hom te versmoor, terwyl ʼn ander bewaarder een van die gevangenes se armstutte gebruik het om hom te wurg.

Luidens die verklaring het Zulu, Smith, Qibi, Phasha en Sithole dié betrokke dag ernstige fisieke en sielkundige beserings opgedoen.

Die DKD ontken enige bewerings van marteling of aanranding.

Dr. Sindisiwe van Zyl, ʼn deskundige getuie, het Vrydag getuig oor haar bevindinge nadat sy die vyf gevangenes op 15 Augustus 2014 medies ondersoek het.

Van Zyl het aan die hof gesê hoewel sy nie toegelaat is om foto’s te neem van die beserings nie – geen selfone word in die tronk toegelaat nie – het sy wel notas gemaak gedurende die ondersoeke.

Van Zyl het aangevoer dat van die klaers ernstige beserings in die voorval opgedoen het. Die verdediging het egter dié bevindinge in twyfel getrek.

Die verhoor duur voort.

  • GroundUp het dié berig oorspronklik gepubliseer. Lees die oorspronklike berig hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Renee ·

Snork maar op ou maat!! Jy en jou maats was/is vir n rede trok toe.

Wondermaarnet ·

Het hulle gedink ‘n tronk is ‘n hotel? Vat jou pak. As jy jou gedra het was jy nie daar binne nie so kry vir jou.

Sanna ·

Bid dat julle of julle naastes nie in die tronk beland nie.

Leon ·

Stuur hulle Kenia of Uganda toe of nog beter na Bangkok toe. Daar is toestande baie beter vir hulle en hulle sal dit baie meer geniet.

alex ·

Kry vir julle en hou op kla hulle het nie menseregte nie dis reg

Alida ·

Wat kerm hulle? Hulle is vir n rede in die tronk en het nie aan hulle slagoffers wat dood gemartel is gedink nie. Die dooie mense kan nie nou in n hof gaan huil nie. Kry vir julle.

GM ·

Ek sal eers kan sê of ek saamstem met die bewaarders se optrede, of nie, as ek meer inligting het oor hoekom die 5 hul in die tronk bevind. Moord, verkragting, plaasaanvalle? Want dan sou ek sê hulle moenie nou hulself jammer kry as hul geen genade vir hul slagoffers gehad het nie.

jakes ·

Toestande in tronke gaan binnekort drasties verander. Daar is reeds gister aankondigings hieroor gemaak. Prisoniere gaan voortaan nie meer luukshede in tronke besit nie, soos TV stelle, ketels en yskaste. Hulle gaan ook ingespan word om harde hande-arbeid te doen en gaan dwelmhandel uitgeroei word. Bewaarders word daagliks uitgetart en moet somtyds kras optree om orde te herstel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.