Gewelddadige optogte ruk Mpumalanga

Talle paaie is in die provinsie versper. (Foto: Verskaf)

Dele van Mpumalanga is Woensdag tot stilstand gebring nadat taxibestuurders die strate ingevaar en nasionale en provinsiale paaie met hul voertuie versper het. Die optrede het so erg handuit geruk dat voertuie, waaronder ʼn bus, aan die brand gesteek en ʼn polisiebeampte aangeval is.

Die onluste spruit glo uit taxibestuurders se ontevredenheid oor busse wat op dieselfde roetes as hulle bedryf word.

Kol. Donald Mdhluli, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media bevestig dat die betogings sedert Dinsdagaand in dele van die provinsie woed.

Dele van die Ehlanzeni-distriksmunisipaliteit, onder meer Karino, Pienaar en Nelspruit se middestad, is veral deur die betogings lamgelê, met verskeie hoofroetes, ook die N4, wat versper is. Paaie na die Krugerwildtuin is boonop ook deur die protesoptrede geraak.

Volgens Mdhluli is die polisie vanoggend ontbied nadat taxibestuurders na die plaaslike regering se kantore in Riverside, Nelspruit, opgeruk het.

“Betogers het glo hiertydens ʼn voertuig in die gebied aan die brand gesteek,” sê hy.

“ʼn Polisielid is ook in die proses beseer nadat die betogers hom glo met bottels aangerand het. Hy is na ʼn plaaslike hospitaal geneem waar hy nou mediese behandeling ontvang.”

Lede van die polisie se eenheid vir openbare orde het egter teen Woensdagmiddag daarin geslaag om die betogers uiteen te jaag en talle paaie word tans weer oopgestel.

Niemand is egter al deur die polisie in hegtenis geneem nie.

“Die polisie handhaaf nietemin ʼn sterk teenwoordigheid in die betrokke gebiede,” sê Mdhluli.

Ongelukkigheid heers

Die bus wat glo deur betogers gebrand is. (Foto: Verskaf)

Oproerige betogers het volgens Mdhluli reeds die vorige aand een van die plaaslike busmaatskappy Buscor se busse laat vlam vat en uitbrand.

Thomas Lubisi, woordvoerder van die busdiens, het aan die Lowvelder gesê dat die taxiverenigings een van sy busse in Pienaar aan die brand gesteek het. Die meeste van die busdiens se depots was ook in daardie stadium versper.

Die protesoptrede het begin omdat taxi-eienaars in die distrik glo ontevrede is dat Buscor dieselfde roetes as die taxi’s gebruik en daardeur besigheid van hulle ontneem.

“Ons weet net dat die taxiverenigings nie wil hê dat ons [Buscor] op ʼn uurlikse basis werk nie, maar eerder dat ons busse mense vervoer wat kontant gedurende die dag betaal,” het Lubisi aan die Lowvelder gesê.

Die busdiens het glo reeds ʼn interdik teen die protesoptrede bekom, maar daar is klaarblyklik nie daarop ag geslaan nie.

Werner Weber, VF Plus-LPW en die party se leier in Mpumalanga, sê die jongste protesoptrede het ekonomiese bedrywighede in die provinsie erg gestuit aangesien klein en groot sakeondernemings sukkel om onder sulke omstandighede te funksioneer.

“Dit gaan reeds moeilik met toerisme wat ook deur sporadiese diensleweringsbetogings belemmer word. Almal in die provinsie voel die gevolge daarvan en hierdie betogings kon nie bekostig word nie,” sê hy.

“Naas die publiek se persoonlike veiligheid, moet ekonomiese veiligheid ook ʼn prioriteit wees.”

Die VF Plus het intussen geëis dat die polisie sterk standpunt inneem en “teen misdadige elemente tydens protesoptredes optree”, wat hopelik die weg sal baan om toekomstige gewelddadige optogte te demp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

Lourens ·

Dis nie “optogte” of “betogings” nie. Dis oproer.

Kokerboom ·

Lourens dis laeprofiel sabotasie van die ekonomie..met GEEN gevolge !

Mariana ·

Daar is mense wat maar altyd sit en wag vir protes optrede en totale anargie en ongelukkig is daar altyd geweld by betrokke. Daar is genoeg mense wat van hierdie tipes vervoer gebruik maak om taxi eienaars en busse geld te maak. Hoekom moet dit op geweld uitloop?

Louis ·

Terrorisme. Stuur hul lewenslank tronk toe soos Harry Knoesen. Maar daar sal niks gebeur met hulle nie.

Kobus ·

Die stert swaai die hond. Min Mabula, raas asb met die klomp stouters.

Delia ·

Die Weermag het Sondag op die Lugskou in Waterkloof gesê en gedemonstreer dat hulle fie vermoë het om so n situasie te hanteer.
Bring hulle in. Mooipraat help nie

Republikein in die Wes Kaap ·

Dis maklik om teen denkbeeldige vyande te oefen.

Kokerboom ·

Kan iemand moontlik die datum onthou dat ons behoorlike polisiëring in SA gehad het?

KatjieDeKat ·

Lede vd polisie se eenheid vir openbare orde, moes al Baie vroeg vanoggend begin het om beheer te neem vd situasie. Daar behoort ook spesiale militêre taakmagte te wees, en ontplooi te word, vir hierdie tipe..ding. Man oh man, there are Lots of people in this country who don’t know how lucky they are, that i’m not president.. Dis maar al wat ek gaan sê.

Leana ·

Elize dit is so en dit is eintlik waaroor dit gaan hier in Nelspruit. Die mense wil nie die taxis gebruik nie want hulle sê dit is te duur en dit in onveilig, die busse is goedkoper en veiliger om mee te pendel.

VanDerMerwe ·

Hulle het geen benul wat n protes is nie. Hierdie geweld moet met geweld bekamp word. Polisie moet mag kan afdwing en skiet sodat hulle leer…

Elize ·

Die polisie sal niks doen want onder deur die tafel word hulle betaal om net te staan en “monitor”

Hendrik ·

Wonder wat sal gebeur as die publiek hulle taxis begin brand? Ek dink dis tyd dat hulle voel hoe dit voel om eiendom te verloor. Verban alle taxis, heeltamal.

Bernard ·

Wie de duiwel dink die taxi’s is hulle. Behoort die Suid Afrikaanse paaie aan hulle? Ek dink nie so nie maar húlle dink wel so.
Kry stootskrapers en as hulle die paaie met hul taxi’s versper, stamp hulle eenvoudig uit die pad uit.

PieterJ ·

“polisie handhaaf nietemin ʼn sterk teenwoordigheid” bedoel eintlik dat hulle op hul vuurwapens leun en kyk hoe alles verwoes word.

Hannes ·

“Niemand is egter al deur die polisie in hegtenis geneem nie.” As ek ‘n bus aan die brand steek omdat ek ongelukkig oor iets, sit ek met my bas in die tronk.
Soos George Orwell in ‘Animal Farm’ skryf … “All animals are equal, but some animals are more equal than others. ”

My siening ·

Dit is kultuur van vernietiging, dis die nuwe Erfenisdag!!

Joe Olivier ·

Die taxibedryf is deur die jare toegelaat om te magtig te word. Hulle staan in die pad van vooruitgang. Sorg dat daar nie trein en busvervoer is nie. Hulle lewer geen bydrae tot die fiscus nie, tog word daar vir hulle infrastruktuur gebou op die koste van die belastingbetaler. Hulle ry nes hulle wil sonder enige boetes wat betaal word. Stel mense lewens in gevaar. Hel as ek nooit weer ‘n taxi of taxidrywer sien sal dit so lekker wees.

quartus ·

Dit is nou gevaarliker om buite die wildtuin te ry as binne

Wildemien ·

Die manier waarop hierdie spul darem glo hulle het alleenreg op alles……breek my brein.

Nico ·

Dit is presies hoe hierdie mense werk, soos babas wat hul toys uit cot gooi as nie kry wat hulle wil he nie.

Wielspore ·

Die Taxi vereeniging in Nelspruit omgewing het tarief verhogings aangekondig en ge-implementeer. Buscor het geen verhogings aangekondig en meer passasiers getrek. Die protes aksie tans gaan oor dit, die Taxi vereeniging wil dat Buscor sy tariewe verhoog want hulle verloor kiente.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.