Gholfklub-geveg: Moord ondersoek ná man sterf

Zander Kotze en sy vrou, Mienkie. (Foto: Facebook)

ʼn Man van Mbombela wat sedert verlede maand in ʼn koma was ná ʼn bakleiery buite ʼn gholfklub in die stad, is in ʼn Johannesburgse hospitaal dood.

Zander Kotze, sy vrou, Mienkie, en nog twee persone was op 7 Julie in ʼn onderonsie by die Mbombela-gholfklub betrokke.

Albert Greyvenstein van Bossies Community Justice, wat die familie help om die gebeure te ondersoek, het gesê Kotze het tydens die stryery klaarblyklik ʼn harde hou teen die kop gekry en inmekaargesak.

Hy was daarna twee weke in ʼn geïnduseerde koma in ʼn hospitaal, waarna die verdowing weggeneem is. Kotze het egter nie weer wakker geword nie, het Greyvenstein gesê.

Hy is Saterdagoggend omstreeks 04:00 in Clayton House, ʼn rehabilitasiehospitaal in Johannesburg, dood.

Greyvenstein het gesê Kotze se ouers en broer verwerk die gebeure bitter moeilik.

Kapt. Zandile Gwaqa, polisiewoordvoerder, het gesê Morné van Rooyen (45) het reeds in verband met die voorval in die hof verskyn.

Hy is op borgtog van R2 500 vrygelaat en moet weer op 9 September in die landdroshof in Mbombela verskyn. Hy is aanvanklik van poging tot moord aangekla. Ná Kotze se dood is die aanklag na moord omgeskakel, het Gwaqa gesê.

Van Rooyen het hom vroeër self aan die polisie oorgegee.

Dit is in dié stadium nie duidelik waaroor die stryery gegaan het nie. Gwaqa het gesê dit maak deel uit van die polisieondersoek.

Daar is klaarblyklik nie kameras op die spesifieke plek waar die uiteindelike bakleiery plaasgevind het nie.

Mienkie Kotze kon nie vir kommentaar bereik word nie.

ʼn Klagte is ná die stryery ook teen haar aanhangig gemaak, maar Gwaqa het gesê sy het nog nie in verband hiermee in die hof verskyn nie.

Enigeen met inligting oor die voorval word gevra om die ondersoekbeampte, lt.kol. Erhard Ströh, te bel by 082 464 5721, of vir Greyvenstein by 082 567 5212. ʼn Beloning van tot R25 000 vir inligting wat lei tot ʼn suksesvolle vervolging, word ook aangebied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Se maar Net ·

As jy die berig lees, dan sal jy sien dat die klag na moord verander is.

Loerie ·

Ja. Dit verander na moord
Want Zander Kotze is oorlede

Die berig bevestig dit

CHAPPIES ·

KAN grootmense nou so simpel wees om soos kinders te raak en te baklei oor twak !!!!

marous ·

Die man het reeds in die hof verskyn en daar word steeds ‘n beloning aangebied ?

Speedguard ·

Marous, lyk vir my jy lees met ‘n plank bril, lees weer!!

TAN ·

Dis so erg. Een oomblik wat jy rooi sien, en slaan en jy sit die res van jou lewe agter tralies. 2de so geval wat ek lees vandag. Baie erg.

Elize ·

Wonder wat se klagte is teen sy vrou gemaak. Volgens my beskeie opinie is hier n slang in die gras.

Koos Roos ·

Die vrou het een van die mans geklap en hulle het reeds die volgende dag ñ klag teen haar gelê vir aanranding. Een van die manne is ñ prokureer en het vinnig gespring om die eerste klag te lê.

blouapie ·

Hoekom word Mienkie gesoek? Sy is seker by haar huis. Was die geveg oor haar?

sweis ·

Totaal onvanpas in vandag se samelewing, daar is hulp as jy nie jou humeur kan beteuel nie ,maar as jy soos n krimineel wil optree moet jy soos n krimineel behandel word.

Anna ·

Stem saam sweis,om nou soos kinders te baklei en jou te wangedra, last veel te wense oor!
SIES MAN!

Boy van die Suburbs ·

Ditto Sweis! Geen simpatie met mense wat ander mense aanrand nie! Swakste gedrag denkbaar!

Christa ·

Sweis eks nogal geneig om saam met jou te stem. Ons land is Elke dag vol van moord en toi-tois hoekom Sal ons mense so laag daal.

CHAPPIES ·

KAN grootmense nou so simpel wees om soos kinders te raak en te baklei oor twak !!!!

Poppie ·

Ek sou ook iemand klap as hul my man aanrand. Inteendeel 2 ouens het my man aangerand weens padwoede in 1992. Al wat ek by my gehad het, was my 38. Ek het die rondtes uitgehaal, en hul gestorm en elkeen n hengse hou met die gun gegee. Hul het vir hul motor gehol en gemaak dat hul wegkom. Kon darem my man gered het.

Gesiggie ·

My innige meegevoel aan die ouers en familie van Zander…soveel stories word vertel? maar soos volgens verskeie mense.. is sy vrou Mienkie eintlik verantwoordlik vir die geveg wat uitgebreek het. Sulke gevalle is eintlik so onnodig.. geweld los nie altyd als op.. die man het sy lewe verloor omdat sekere mense nie hul drank kan hanteer… en sekere mense nie hul hande tuis kan hou”’ sterkte aan die familie, ek hoop die volle waarheid sal uitkom. RIV Zander….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.