Glenda Kemp: ‘Ek sal vandag anders kies’

Oor ‘n koppie Wimpy-koffie gesels Glenda Kemp, eens bekend as die Slangdanseres, oor haar pad terug na God. (Foto: Maroela Media)

Daar was ʼn tyd toe dit Glenda Kemp min geskeel het om skraps geklee op ʼn verhoog te klim en vertonings te lewer wat die tannies in hul tee laat stik het.

Dit was die 70’s. ʼn Ander tyd.

In ʼn moderne era, waar haas enigiets moontlik is en selfs meer, waar byna niks meer taboe is nie, is dit waarskynlik moeilik vir ʼn jonger generasie om te verstaan hoekom Glenda Kemp iemand was.

Sy was bekend as die Slangdanseres, waarskynlik Suid-Afrika se bekendste erotiese danseres. Hierdie tannie van 74 wat nou in die Wimpy op die Bluff in Durban sit en koffie drink, is ʼn ander mens. Sy praat oor aftree (en nie aftree nie!). Oor die kerk. Oor haar dogter en haar suster. Oor die vier honde by die huis en die tienerbediening by haar gemeente waaroor sy so geesdriftig is.

Ja, sy het destyds haar klere uitgetrek om mense te vermaak. Ja, sy het dit geniet om te dans en te betower. “Die Here het my geklee,” vertel sy nou. Sy is nie meer kaal nie.

“Ek het totaal afgedwaal. Die Here het die vermoë om iets om te draai en dit wat gebeur het, ten goede te gebruik,” sê sy.

Sy was van jongs af diep gelowig en het as tienermeisie reeds haar hart vir die Here gegee. Grootwordjare in die Kaap, daarna by haar ma en stiefpa in Johannesburg, ʼn tydperk in ʼn kinderhuis op Potchefstroom en toe die pleegouers op Swartruggens waar sy ʼn veilige hawe gevind het. ʼn Veilige hawe en ʼn God wat sy langs die pad vergeet het; maar ook ʼn God wat haar nooit laat los het nie.

Haar geloof en toewyding aan die Here loop soos ʼn goue draad regdeur die gesprek.

Is sy gemaklik om nou, soveel jare later, steeds ou koeie uit die sloot te grawe? Of eerder ou slange; ou slange met die naam “Oupa” om spesifiek te wees.

“Enige onderhoud is altyd ʼn geleentheid om God se vergifnis te wys,” sê Kemp en sy is nie skaam om daaroor te praat nie. Sy gesels sonder enige sentimentaliteit oor daardie dae en daardie danse wat haar al te dikwels op die agterblad van die Sondagkoerant (en soms ook op die voorblad) laat beland het.

“Ek het nie spyt nie, want dit is verby. Maar as jy my weer op Swartruggens gaan neersit, sal ek vir seker anders kies,” sê sy. Tog kan jy nie in die verlede bly leef nie.

Kemp gebruik deesdae haar ervaring om die evangelie te versprei. (Foto: Maroela Media)

Destyds het sy gedink dit maak niemand seer nie. Dié dansery waarheen talle mans dikwels skelm kom kyk het en wat die vroue so woedend gehad het. Sy weet nou van beter, sê Kemp. Dit hét mense seergemaak. “Ek is jammer oor enige onenigheid wat ek in huise veroorsaak het.”

Sy het haarself daarvoor vergewe en kan net hoop dat ander dieselfde doen.

Almal het egter nie. Kemp dans steeds, maar nou by die gimnasium en veral by haar kerk waar sy haar kuns gebruik om die evangelie te verkondig. Nie te lank gelede nie kom sy op ʼn dorp in Mpumalanga waar sy dansklasse by die ouetehuis aanbied. Sake verloop vlot en almal geniet hul gate uit. ʼn Artikel daaroor verskyn in die plaaslike koerant en skielik besef almal wie die vrou is wat saam met hulle dans.

Handomkeer het die houdings teenoor haar verander, sê Kemp, en dit het haar diep gekwets. Dit was kerkmense, vertel sy. Christene. Mense wat glo aan ʼn grootse God, maar oënskynlik nie ʼn God wie se genade groot genoeg vir Glenda Kemp is nie.

“Dit maak seer,” sê sy.

‘Preutse’ ontkleedanseres

Kemp destyds as slangdanseres. (Foto: Verskaf)

Dit is so dat baie mans destyds skelm haar private dansvertonings bygewoon het; dieselfde mense wat haar daarna dikwels in die openbaar verguis het. Dit was skynheilig van hulle, sê Kemp, maar die spontane reaksie op haar vertonings was altyd ʼn wonderlike ondervinding. Daar was altyd respek. Soms was daar tot vyf private vertonings per aand en sy is elke keer soos ʼn lady behandel.

Sy bestempel haarself as waarskynlik die “preutsste ontkleedanseres ooit”. Sy is getroud met haar kêrel van daardie jare – Karl Koczwara – hoewel sy later van die Duitser geskei is. Koczwara is ook die pa van Kemp se enigste kind, haar 39-jarige dogter Kimi.

Koczwara is in 2019 in sy huis in Johannesburg vermoor. In 1999 is Kemp getroud met Peter Harper. Hy is byna drie jaar gelede aan ʼn hartaanval dood.

Kemp as jong meisie. (Foto: Verskaf)

Sy was op pad om onderwyseres te word toe Kemp in die 70’s as go-go-danseres vir sakgeld begin werk het. Sy het dit geniet en haar vertonings was uitstekend en vinnig supergewild – ten spyte van openbare teenstand.

Die een ding het na die volgende gelei en kort voor lank was Kemp Suid-Afrika se bekende slangdanseres. Die slang was ʼn blote toevalligheid. Sy het een keer by ʼn vertoning ʼn slang gebruik en die gehoor het ekstra hard na hul asems gesnak. “Dis mos wat jy soek in show business,” sê Kemp en die slang het daarna haar spreekwoordelike handelsmerk geword.

Jy moes ʼn permit hê vir ʼn slang en dié permit moes die slang se naam ophê. Die eerste slang het Oupa geheet en almal daarna ook – sodat dieselfde permit sommer vir almal sou deug. “Ek het die slange later soos boeke uitgeneem. Hulle het ook moeg geword.”

Kemp gebruik die uitknipsels om die jongmense in haar tienerbediening op ‘n geloofspad te lei. (Foto: Maroela Media)

Geen slang was ooit deel van die vertoning terwyl sy naak was nie en as daar een ding is waaroor sy wel spyt is, is dit die fliek wat oor haar gemaak is. “Die naaktonele aan die einde was glad nie soos ek bedoel het nie; dit was te suggestief en dit was nooit die bedoeling nie.”

Die slang is tydens ʼn vertoning gewoonlik vir die duur van net een liedjie gebruik en nooit terwyl sy ongeklee was nie. Die beligting was ook altyd strategies.

“Die show was kuns, maar die naaktheid was nie nodig nie. Ek sou my selfde talent kon gebruik het sonder om my klere uit te trek.”

As sy oor kon kies, sou sy dinge anders doen, maar daar is geen sin om in die verlede te bly leef nie. “Ek kan nie nou huil oor gister nie.”

Dans uit volle bors

Haar vertoning was kuns, maar die naaktheid was onnodig, sê Glenda Kemp jare later.

Sy het opgehou dans ná Kim se geboorte en dit was ook haar geliefde dogter wat haar op ʼn nuwe maar bekende pad geplaas het. Vandag woon Kim, ʼn spraakterapeut, en Kemp se suster Joan saam in haar huis in Durban. As tiener het Kim egter gedreig om die smalle weg byster te raak. “ʼn Ander ma het my na Bybelstudie genooi en ek het spesifiek vir gebed gevra.

“Ek is so lief vir die kind, maar ek het daar besef ek kan haar nie red nie. En toe is ek terug kerk toe.”

Voor sy as danseres op die verhoog gegaan het, het sy ook gebid en wanneer sy afgekom het, het sy ʼn dankgebed gesê. “Ek weet, ek maak nie sin nie,” sê sy oor hierdie oënskynlike teenstrydigheid.

Sy was skaam ná die vertonings, het haar kuis geklee en het stil-stil verdwyn wanneer die ligte afgeskakel is. Vir dwelms en drank het sy nee gesê.

Self het sy nooit werklik die bohaai oor haar vertonings verstaan nie; mense het immers gekies om dit te kom bywoon en “dis nie asof ek in die straat gestaan het nie”. Jy mag in daardie jare nie die verhoog verlaat het met minder klere as dit waarmee jy die verhoog betree het nie, vertel Kemp.

“Alles wat jy aangehad het, moes jy aanhou.” Sy het die vereiste omseil deur uit die staanspoor met net die nodigste te verskyn.

Suid-Afrika was vyftig jaar gelede ʼn ander wêreld en daar was onderdrukking op velerlei fronte. Kemp het deurgeloop, nie omdat sy haar teen die destydse regering verset het nie, maar omdat sy dit durf waag het om haar klere uit te trek.

Sy het eindelik ook aan vroue ʼn stem en ʼn teenwoordigheid gegee wat onuitwisbaar is. Hiervoor het sy self ʼn duur prys betaal. Daar was hofsake. Daar was voorbladberigte. Daar was verwerping.

Uiteindelik was daar opnuut verlossing.

“Ek dans nog steeds – uit volle bors, maar net nie uit die bra uit nie,” skerts sy.

“Moenie na my kyk nie, kyk na die Here. Jesus is daar vir jou. Sy arms is oop.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

KatjieDeKat ·

Ek onthou, as kind, was sy soms op die agterblad van die Sondagkoerant, die Raport, as ek reg onthou. Ek het maar net gedink: “Ja wel, grootmense is maar weird”.

Diets ·

Haar eskapades is maar kleinigheid met wat in vandag se tye gebeur….

Realis Thailand ·

Glenda se danse was daardie jare en vandag nog vir my geen ergere sonde nie
Dit was kuns wat die klomp verkrampte en baie skynheilige mense jaloers gemaak het op haar sukses
Dit maak my bitter dat mense soos van die die kerk wat sy hier vermeld haar nou nog kruisig maar dit is soos vele Afrikaners is skynheilig.
Glenda kan trots wees met wat sy bereik het in die lewe en hoef nie verskoningte soek nie

Lillian ·

Dis ‘n mooi getuienis en ja eie kan haar vergeet? Die slang was vir my net een te veel!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.