G’n rede om kameelperde te vrees – kenners

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Kenners sê daar is geen rede om kameelperde te vrees nie. Dié langnekkige diere is nie van nature aggresief nie en toon nie aanvallende gedragspatrone nie. ’n Kameelperd sal hom- of haarself wél verdedig indien die dier bedreig voel.

“Ons moet besef dit bly ’n wilde dier,” sê Willie Labuschagne, voormalige uitvoerende direkteur van die Nasionale Dieretuin, in die lig van die onlangse aanval op Nicole Panos en haar twee jong kinders in die Kuleni-wildreservaat in KwaZulu-Natal.

Die tragiese voorval het verlede week die lewe van Nicole en haar verloofde, Jason Coetzer, se 16 maande oue dogtertjie geëis. Nicole het ernstige rugbeserings opgedoen en kon vroeër vandeesweek nog nie haar bene of voete voel nie.

Labuschagne sê dié aanval was “absoluut uitsonderlik” en “baie jammer” aangesien kameelperde nie sommer sal storm nie.

“Ons weet nie wat die presiese omstandighede was wat aanleiding tot die aanval gegee het nie. Dit is wel só dat kameelperde eerder sal wegbeweeg wanneer hulle mense gewaar.”

Leeane Liebenberg, ’n wildbewaarder, beaam dit. “Hulle is eerder diere wat vlug as diere wat aanval.”

Albei waarsku egter dat kameelperde hulself of hul kroos sal beskerm indien hulle bedreig voel. Liebenberg vertel dat sy self al beleef het hoe ’n dominante bul uit die bosse gekom en ’n motor verjaag het, nadat ’n kalf die aand vantevore gebore is.

“Kameelperde verdedig hulself met hul pote en dit kan noodlottig wees. Dít is duidelik uit gevalle waar ’n kameelperd deur ’n trop leeus aangeval word en die leeus sleg tweede kom,” vertel Labuschagne.

“Indien hy homself moet verdedig, sal hy sy poot hoog optel en met mag en mening neersit.”

Liebenberg sê die mens kan nie net tydens aanvalle beserings opdoen nie, maar ook wanneer ’n kameelperd bloot weghardloop. “Kameelperde het ’n springaksie waartydens hulle agtertoe en vorentoe skop om aan die gang te kom. Dit is moontlik dat mense in die spervuur beland.

“Daar is baie scenario’s wat gevaar kan inhou, maar kameelperde is nie gewoonlik aggressief nie.”

Só gemaak wanneer jy ’n kameelperd gewaar

Labuschagne en Liebenberg sê dit is uiters belangrik om nooit jou rug op ’n kameelperd (of enige dier) te draai wanneer jy die dier te voet teëkom nie. Mense word in só ’n geval aangeraai om stadig agteruit te beweeg en nie oogkontak te maak nie.

“Die kameelperd sal in alle waarskynlikheid wegbeweeg,” sê Labuschagne.

Indien ’n kameelperd se ore regop staan en beweeg, is daar nie sommer rede tot kommer nie,” sê Liebenberg. Wanneer die kameelperd sy of haar ore terugtrek, is dit egter tekenend daarvan dat die dier bedreig voel en moontlik kan storm.

“Hulle is groot en swaar diere. Net hul hart weeg tot 11 kg. Ek dink egter nie ons moet ’n vrees vir hulle koester nie. Hulle is wonderlike diere, maar jy moet versigtig wees, want hulle is steeds wilde diere,” waarsku Liebenberg.

Die berig is gewysig sedert dit aanvanklik gepubliseer is – RED.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.