G’n rede tot paniek oor ‘aardbewing’ by Kangogrotte

Foto: www.cango-caves.co,za

ʼn Stemboodskap wat wyd aangestuur word en waarin aangevoer word dat ʼn aardbewing by die Kangogrotte naby Oudtshoorn in die Wes-Kaap plaasgevind het – en dat talle mense boonop in die grotte vasgekeer is – was net ʼn noodoefening.

Die boodskap het groot paniek onder talle mense veroorsaak.

Die Oudtshoorn-munisipaliteit het egter in ʼn plasing op Facebook bevestig dat die stemboodskap wat tans die ronde doen net na ʼn noodoefening verwys.

“Daar was nie ʼn aardbewing by die grotte nie en daar is niemand in die grotte vasgekeer nie. Die boodskap was deel van die oefening wat deur ʼn lid van die span aan die groep gestuur is. Moet asseblief nie die boodskap aanstuur nie,” lui die plasing.

Volgens Aurelia Mle, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, beplan die bestuur van die Kangogrotte nou al ʼn hele ruk aan die noodoefening. Dit is Woensdag die eerste keer ingeoefen.

“Daar is ʼn spesifieke WhatsApp-groep vir personeel en nooddienswerkers sodat ons voorbereid sal wees wanneer ʼn noodgeval gebeur.”

Mle sê die meeste personeellede was egter nie bewus daarvan dat dit ʼn noodoefening was nie, juis omdat die bestuur dit so eg moontlik wou hou.

“Die nooddienste, polisie en die brandweer se topbestuur was wel bewus daarvan dat dit ʼn noodoefening is, maar die personeel wat ontbied is, het nie kennis hiervan gedra nie – en die meeste ander lede ook nie.

“Hulle wou dit so na moontlik aan die werklikheid hou om seker te maak dat hulle gereed is vir enige moontlike noodgeval wat by die Kangogrotte kan plaasvind.”

Mle sê die stemboodskap wat nou “rondvlieg”, is op die spesifieke noodgroep gedeel, waarna iemand dit met die breër publiek gedeel het.

“Ek het gister verneem dat die noodoefening egter baie goed afgeloop het. Dit lyk of almal gereed is vir wanneer ʼn werklike aardbewing of ander noodgeval moontlik die dag tref.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Fontein Tannie ·

Stem heelhartig saam. Mense is vinnig om aan te stuur en sodoende aan te vuur, maar waar dit by feit nasporing gaan voor die stuur knoppie gedruk word…. Ai!

Henri ·

Ek stem saam met Fontein Tannie se antwoord op Karoo. Vind eers die egtheid en oorsprong van ‘n boodskap voordat die wêreld spreekwoordelik aan die brand gesteek word deur “Wolf! Wolf!” te roep, en die papaja die waaier tref.

JohanR ·

Hoop iemand was nie in die “chimney” toe dit gebeur het. Toe ek hier soe 25 was, was ek nog ‘n dun outjie(34″ broek) en kon my daar deur wikkel. Was by tye ‘n bietjie benoud, maar is darem deur. Onthou hulle moes een keer iemand daar uit kry met baie seep.

Stofdonkie ·

Niks het gebeur nie, daar is net ‘n oefening gedoen. Lees die artikel weer mooi aandagtig deur.

JohanR ·

Ja ek weet Stofdonkie. Blykbaar het die Russe die Oekraine ook vandag aangeval!

Bolandse Nooi ·

Ek was 13 toe ek daar vasgesit het. Tipies … (van my) … die gids sê jy moet jou arms styf lang jou vasknyp en dan deurgly, maar nee – wat doen ek? Ek lig my arm op en daar sit ek vas …

annie ·

Daar was ‘n klompie jare gelede ‘n aardbewing in daardie geweste wat ver gevoel is, selfs in George.

Bolandse Nooi ·

Weet jy, “keyboard warriors” met hulle vinnige (‘over-eager’) vingers!!! Magtag, wat as iemand nou ge”panic” het, iemand wie se vriende of familie of kennisse toevallig op daardie stadium in die grotte was … jis, DINK tog net voor jy so vinnig iets op sosiale media stuur!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.