Gʼn slaaplose nagte vir Ramaphosa oor Phala Phala

President Cyril Ramaphosa glimlag breed na sy herverkiesing as ANC president. (Foto: Marco Longari / AFP)

Dit is byna tien maande nadat die Phala Phala-sage die lig gesien en gedreig het om Ramaphosa tot ’n val te bring. Dit wil nou voorkom of die president die skandaal gaan oorleef.

“Indien Ramaphosa snags wakker lê, is dit oor sy volgende groot transaksie. Ek dink nie hy lê wakker oor Phala Phala nie,” sê die regskenner prof. Koos Malan. Dit het vandeesweek bekend geword dat ʼn parlementêre ad hoc-komitee nie op die been gebring gaan word om Ramaphosa se aandeel in die sage te ondersoek nie.

Dit lyk nou of dit net die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se ondersoek na die diefstal van $580 000 op die president se wildsplaas Phala-Phala is wat in die stadium nog uitstaande is en die potensiaal het om vir Ramaphosa probleme te veroorsaak.

Die omstrede voormalige intelligensiehoof Arthur Fraser het middel verlede jaar strafregtelike klagte teen Ramaphosa aanhangig gemaak in verband met die versteekte dollars wat in 2020 by Phala Phala gesteel is.

Malan sê egter die kans dat Ramaphosa eindelik vir die buitelandse valuta vervolg sal word, is “uiters skraal” aangesien hy destyds in Addis Abeba was toe die geld voete gekry het. Hy sal waarskynlik daarom maklik die skuld op sy veiligheidspan kan pak.

(Foto: EMMANUEL CROSET / AFP)

Malan sê die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) sal ook “twee keer dink” voordat hulle die president van die land vervolg met ʼn saak wat nie waterdig is nie.

“Ons moet ook onthou dat ons te doen het met ’n verweerde en verslete polisiediens en NVG, wie se vermoë om te ondersoek en vervolg die afgelope 25 jaar geweldig verswak het.”

Verskeie prosesse teen Ramaphosa het die afgelope paar maande doodloopstraat bereik.

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, speaker van die Nasionale Vergadering (NV), het begin vandeesmaand haar voet ferm neergesit teen ’n versoek van die EFF aan die parlement om Ramaphosa se Phala Phala-skandaal weer te ondersoek.

Die president is ook vandeesmaand in ʼn tussentydse verslag van die Openbare Beskermer (OB) van enige oortreding in dié skandaal vrygespreek.

Dit nadat LP’s die artikel 89-paneel se verslag, wat bevind het daar is genoeg bewyse dat Ramaphosa wel die Grondwet oortree het met betrekking tot die Phala Phala-skandaal, ook nie aanvaar het nie.

President Cyril Ramaphosa (Foto: LUCA SOLA / AFP)

Maroela Media het in Desember berig 148 LP’s het “ja” gestem om Ramaphosa in ʼn staat van beskuldiging te plaas. Altesaam 214 lede van die parlement het egter “nee” gestem en Ramaphosa in sy pos gehou.

Ramaphosa is toe ook tydens die ANC se leierskapskonferensie herverkies tot president van die regerende party.

Malan sê die LP’s wat teen Ramaphosa gestem het en verskeie opposisiepartye klou steeds aan die skandaal in ’n poging om Ramaphosa uit sy amp te onthef. “Ek dink egter nie hulle gaan enigsins hond haaraf maak nie. Ek dink Ramaphosa se politieke posisie is baie stewiger as wat dit was.

“Die ANC geniet ’n groot meerderheid en Ramaphosa se posisie binne die ANC het ná die kieskonferensie verstewig. Die ANC‑koukus gaan uit die aard van die saak nie toelaat dat ʼn parlementêre proses ingestel word om Ramaphosa in die verleentheid te stel nie.”

Malan sê dinge kon egter baie anders vir Ramaphosa verloop het indien Suid-Afrika ’n “bekwame en energieke polisiediens” gehad het en opposisiepartye se posisie sterker was.

“Solank jy die getalle in die parlement het, kan jy enige skandaal laat verdwyn,” het John Steenhuisen, leier van die DA, vandeesweek beaam nadat dit bekend geword het dat ʼn parlementêre ad hoc-komitee nie op die been gebring gaan word om Ramaphosa se aandeel in die sage te ondersoek nie.

Lees al Maroela Media se vorige berigte oor die Phala Phala-skandaal hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.