‘God se goedheid binne die vlamme’ – Krugersdorp-inwoner ná brand

(Foto: Mogale Response Services/Facebook)

Tussen die puin lê ’n Bybel met nie ’n enkele bladsy wat gebrand het nie.

“Die Here is goed vir ons. Hy bewys dit vir ons deur die hartseer, vlamme en as,” vertel Jessica van Jaarsveld, inwoner van die Villa Gloria-nedersetting in Oatlands, in die weste van Krugersdorp.

’n Verwoestende brand het Saterdagaand in dié nedersetting uitgebreek. Altesaam 17 huise het tot op die grond afgebrand en 55 inwoners, onder wie bejaardes en kinders, is sonder heenkome gelaat. Daar woon sowat 350 inwoners in die nedersetting.

Van Jaarsveld, dogter van Jackie van Jaarsveld, die opsigter van die nedersetting, het bevestig die brand het net voor 20:00 tydens beurtkrag in een van die huise uitgebreek. Volgens voorlopige ondersoek het ’n kers moontlik die brand veroorsaak.

“Die bome tussen die huise het vlam gevat en só het die brand van huis tot huis versprei. In een van die buite badkamers was ’n gasbottel wat vlam gevat en ontplof het,” vertel Van Jaarsveld.

Verskeie brandweerdienste is na die nedersetting in Engelbrecht-straat in Oatlands ontbied en het ure lank gespook om die vlamme te blus.

Mogale Response Services het bevestig hulle is omstreeks 19:50 na die toneel ontbied. Met hul aankoms op die toneel het die brand reeds na verskeie huise versprei.

Die brand is omstreeks 00:30 heeltemal geblus.

Geen mens of dier het tydens die brand omgekom nie. Paramedici het inwoners met ligte tot matige beserings op die toneel behandel. Een man is ernstig beseer en na die hospitaal vervoer waar sy been geamputeer is.

Tjaart Steenkamp en Amy Steyn, VF Plus-raadslede in Krugersdorp, was op die toneel om bystand te verleen.

Steenkamp beskryf die brand as ʼn “chaotiese en tragiese gebeurtenis”.

“As dit nie vir die vinnige optrede van die brandweer, gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), nooddienste en gemeenskapslede was nie, sou hierdie ramp veel erger wees,” sê Steenkamp.

Steenkamp het AfriForum ook vir hul hulp tydens die brand bedank.

Steyn het die reaksiebeamptes op die toneel geloof vir hul toewyding en harde werk.

“Hulle wy hul lewe elke dag daaraan om ons te beskerm en veilig te hou. Of dit nou die brandbestryders is wat die brande bestry of paramedici wat elke dag op noodsituasies reageer, polisie of gemeenskapsforums is, hulle hou ons gemeenskappe veilig. Ons is elkeen van hulle groot dank verskuldig,” sê Steyn.

Die bestuur van Villa Gloria het slaapplek binne ’n kleuterskool op die perseel vir die slagoffers beskikbaar gestel. Van die ander inwoners het ook vir die mense slaapplek in hul eie huise beskikbaar gemaak, terwyl daar enkeles by buitefamilies gaan woon het.

Die We’re Against Starvation (WAS)-stigting het ook slaapplek beskikbaar gestel binne hul sopkombuis-gemeenskapsentrum. Sowat 80% van die inwoners van die nedersetting kry daagliks kos by dié sentrum.

Skenkings stroom in

Sedert die brand het skenkings vir die nedersetting ingestroom. Verskeie organisasies het skenkings namens die nedersetting ingesamel. Mense van wyd en syd het ook skenkings gaan aflaai.

Volgens Esmarelda van Zyl-Killian, stigter van die WAS-stigting, het hulle reeds twee ton klere en oorgenoeg komberse en matrasse sedert Sondag ingesamel.

“Die sopkombuis is halfpad vol gepak met skenkings,” sê Van Zyl-Killian.

Die organisasie het ook gereël vir beddens.

Die inwoners se Jojo-watertenks het tydens die brand gesmelt en ’n 1 000 liter-watertenk is gereël om daagliks die inwoners van water te voorsien. ’n Paar Jojo-tenks is reeds aan die nedersetting geskenk en moet nog afgelewer word.

Die stigting het ook hope kos reeds ingesamel en maak pakkies (starter hampers) vir die slagoffers op, wat bestaan uit ’n pot, pan, kospakkies en eetgerei.

Die Cradle of Hope, ʼn organisasies sonder winsbejag in Krugersdorp en die NG Gemeente Krugersdorp‑Noord het ook gevra dat skenkings soos klere, komberse, beddegoed, huisraad, kombuisware, gordyne, beddens, matrasse en toiletware by hulle afgelaai word.

Cradle of Hope help reeds ma’s in die nedersetting met baba-items, klere, formule, doeke en vele ander benodighede. Verskeie van die inwoners kry ook ontbyt en middagete by dié organisasie. Hulle verskaf ook gereelde kospakkies aan baie van die gesinne.

Van Jaarsveld sê hulle is oorval met skenkings en is baie dankbaar.

“Iets positiefs het uit hierdie slegte ervaring gekom. Mense gee om en hul harte is mooi.

“Mense ondersteun ons op alle maniere. Al is dit net om vir ons ’n bemoedigende woord of drukkie te gee. Die omgee strek tot in die Noord-Kaap, met mense wat vandaar af op pad is na ons toe om ons te ondersteun.”

Alles verloor

Volgens Van Zyl-Killian is die inwoners getraumatiseerd en is hul wêreld omgekeer.

“Daar is baie trane en baie hartseer. Behalwe vir meubels, is daar belangrike dokumente soos geboortesertifikate en identiteitsdokumente (ID’s) wat ook in die brand vernietig is. Besittings met sentimentele waarde – soos foto’s – is ook vir ewig verlore.

“Die een tannie se hele lewe was binne haar huis. Sy het vetkoek en pannekoek vir ’n lewe gebak en haar toerusting om dit te kan doen, is vernietig.”

Volgens Van Jaarsveld het van die inwoners oor die jare al ’n paar stukkies meubels en besittings bymekaar gemaak, wat binne etlike minute deur die vlamme verswelg is. Van Jaarsveld se suster is een van diegene wie se huis afgebrand het.

“Van die inwoners krap al van gister af deur die puin om te soek vir besittings wat hulle nog kan red. Hoewel hul harte gebreek is, sit hulle nie in sak en as nie. Hulle probeer positief bly en mekaar positief te hou. Almal staan mekaar goed by. Ons is soos een groot familie.

“Ons het ’n gebedsgroep bymekaar geroep en praat mekaar moed in. Ons moet hierdie sien as ’n nuwe begin. Ons sal weer die stukke kan optel en aangaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

34 Kommentare

Bolandse Nooi ·

Weet jy, jy is darem bitter onsensitief. Ek hoop jy kom ook eendag isn so ‘n situasie, waar jy ALLES – soos in ALLES, ALLES, ALLES verloor het. Miskien sal jy dan verstaan en bietjie empatie met mense hê.

TrueMan ·

Been there. Ek jou goeie wense is tipies van jou geloof En toe ek blyplek nodig gehad het, en die kerk waar ek vir jare was, beskikbaar gehad het, was dit geweier. Hulle wou dit eerder n stoorkamer maak, al het ek huur betaal. Ek was deur ongelowiges gehelp.

Delia ·

Ek hoor jou bitterheid oor die kerk. Mense sal ons altyd teleurstel. Selfs sg Christenmense. Hou jou oë gerig op God. Hy los jou nooit. En hier kan ek jou weer verseker….been there.

TrueMan ·

Delia. EK het te veel in my lewe gesien om n ateis te wees. Maar ek het ook te veel gesien om enige geloof aan te hang.

Delia ·

Bolandse nooi. Ek dink nie dis n ding wat mens enige mens so iets moet toewens.

Karoo ·

Ek hoop van harte dat jy die artikel verkeerd verstaan het. Dis ons eie mense die….en selfs al was dit nie, neem dit niks van ons om net ‘n oomblik stil te staan en hulle in ons harte en gedagtes te dra nie.

TrueMan ·

Ek het begrip vir die tragedie. Ek is verstom dat dit n wonderwerk genoem was dat die bybe ongeskonde was en al die mense se besittings vernietig was.

OW ·

Jy gebruik twee vraagtekens,maar geen vrae word gevra nie.Stel ‘n vraag oor wat jou pla,in hierdie geval,die Bybel.

TrueMan ·

Selfs al word dit in vuurwerke uitgebassuin, as jy dit nou nog nie begryp, sal jy nooit

OW ·

Elk neem aan jy is ‘n ongelowige,en dit is reg met my.Ek sal geloof op niemand afdwing nie.Ek sien die Kerk waaraan jy behoort het,het jou teleurgestel,en dit kan gebeur.Die mens is feilbaar of jy ‘n gelowige of ongelowige is.Maar een ding is seker,die Bybel is onfeilbaar,die Weg,die Waarheid en die Lewe is direk daarin aan die Woord.
Sterkte vir jou.

TrueMan ·

Nee OW. Ek is nie n “ongelowige” nie. Soos ek vir Delia gese het. Ek het te veel in my lewe gesien om n ateis te wees.

Delia ·

Trueman, daar is n tyd wanneer n me ns terugstaan met jou opinie van ongeloof in God en sulke gevalle is een van hulle..wanneer mense wat alles verloor het steeds God se hand in dit kan sien.
Dit is dan nie die plek vir ondeurdagte opmerkings soos die. Dan bly mens liewer stil. Net n bietjie respek Trueman, net n bietjie

Karoo ·

Jessica, ek haal my hoed vir jou af, ek weet nie of ek so postief sou kon wees nie. Jy is ‘n beter mens as ek en het duidelik al baie “erger” dinge beleef en oorleef. Sterkte aan jou gemeenskap vir die opruim en voorentoe beur.

Delia ·

MM. Julle wys baie fotos. Ek mis die foto van die Bybel. Dit sal goed wees vir n getuienis.

Delia ·

Dis wonderlik. Ek glo jou. Sou net goed wees as MM dit ook kon plaas. Hulle het so baie fotos geplaas, maar nie die een.

Anja van der Merwe ·

Haai daar Delia

Die foto van die Bybel is in die berig gevoeg.

Dankie.

Groete
Anja van der Merwe

Miskruier ·

Ons leef so in plastiek, van matrasse, beddegoed, gordyne en klere en ek dink dis die rede vir die geweldige hitte tydens deesdae se brande.

Papsak ·

Nou moet ANC en Ramaghopa gaan kyk wat het hulle loadshedding veroorsaak daai mense groot hartseer en skade hoop hulle voel gelukkig met hulle loadshedding

Amanda ·

God is alom teenwoordig. Ek bid jul sterkte toe en baie dankie vir die omgee en bydraes uit alle oorde.

Di ·

Genade onbeskryflik groot! Ons is so dankbaar dat niemand omgekom het in hierdie brand nie. Hoop van harte dat hierdie mense gou weer ‘n ander heenkome sal vind

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.