Goedkoper petrol, duurder diesel aangekondig

Argieffoto (Foto: Paul Brennan/Pixabay)

Die minister van minerale hulpbronne en energie, Gwede Mantashe, het Maandag die wysigings aan die brandstofpryse bekendgemaak. Die wysigings tree op 2 Junie 2021 in werking.

Suid-Afrika se brandstofpryse word maandeliks aangepas, gebaseer op internasionale en plaaslike faktore.

Mantashe het gesê tydens die periode onder hersiening het die gemiddelde prys van Brent ru-olie van $64,16 toegeneem tot $66 per vat. Die rand/dollar-wisselkoers het ook ʼn impak gehad. Die rand is sterker teen die dollar (van 14,48 tot 14,11) vir die periode onder hersiening. ’n Skerp toename in olie het ’n groter impak op die prys van diesel as petrol.

Die volgende aanpassings word gemaak:

  • Petrol (alle grade) is 10c per liter goedkoper
  • Diesel (0,05% swael) is 20c per liter duurder
  • Diesel (0,005% swael) is 21c per liter duurder
  • Paraffien is 20c per liter duurder
  • Gas daal met 143c/kg

Maroela Media het vroeër berig dat die petrolprys in April vanjaar die hoogste nóg in Suid-Afrika was, waarna dit in Mei weer met sowat 9 sent per liter gedaal het.

Die Outomobiel-Assosiasie (AA) het Vrydag gesê ʼn styging in die prys van diesel is teleurstellende nuus vir vervoermaatskappye wat op diesel staatmaak. “Dit sal ook nie deur burgers wat van paraffien gebruik maak, verwelkom word nie – veral diegene wat paraffien in die wintermaande vir verhitting gebruik. Die toenemende versterking van die rand is egter goeie nuus. As dit so aanhou, sal dit die impak van stygende internasionale oliepryse versag.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Josua ·

En so jaag hulle kos pryse weer die hoogtes in. Wat word gebruik om voedsel ens af te lewer VRAGMOTORS en hulle ry nie op water nie. Het die ANC nie in die apartheids jare sy kiesers belowe dat wanneer hulle aan bewing gestem gaan word dat hulle nooit die petrol prys sal gebruik om die ekonomie te help stabiliseer nie? Ek hoop die ANC ondersteuners gaan bietjie terug in die geskiedenis van hul politieke party sodat hulle kan besef vir wie hulle jaar na jaar stem want met elke sent wat die petrol of diesel prys styg word n brood of bord kos uit die arm gemeenskap se monde weg geruk en dit pla hulle glad nie dit word somer nou elke maand gedoen. In die apartheids jare was dit een of twee keer n jaar met n sent of twee sent aangepas dan het al die taxi’s weer alle paaie afgeblok agv van die verhogings. Wat die mense MOET besef is met elke aanpassing word kospryse ook aangepas maar wanneer dit verminder bly die voedsel pryse dieselfde, salaris verhogings word nie so aangepas nie!

david ·

Dis tyd dat ons die BELASTING KOMPONENT in die brandstofprys behoorlik ontleed.
Hoeveel van die belasting elemente is werklik nodig ?
Of is die Brandstofprys maar net ‘n gerieflike weerlose melkkoei ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.