Gordhan kap versoek vir SOE om SAL-transaksie te bekyk

(Argieffoto: Henk Kruger/ANA)

Die departement van openbare ondernemings het die ooreenstemmende portefeuljekomitee daarvan beskuldig dat hy die publiek mislei deur te probeer skimp dat daar onbehoorlikheid rakende die mislukte SAL-transaksie was.

Die parlementêre portefeuljekomitee oor openbare ondernemings het besluit om die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) te versoek om die mislukte transaksie om ʼn 51%-belang van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) aan die Takatso-konsortium te verkoop, te ondersoek.

“Die komitee besef die kompleksiteit van die saak en die behoefte aan ’n deeglike en geloofwaardige ondersoek,” het Khaya Magaxa, komiteevoorsitter, gesê.

Lede van die komitee het gesê die parlement moet ’n integrale en betekenisvolle rol in staatstransaksies van hierdie omvang speel. Die komitee was ook van mening dat die parlement deel moet wees van toesig oor transaksies waarin staatsbates aan die private sektor verkoop word.

“Die komitee is verder bekommerd oor die onderwaardering van SAL en die behoefte aan ’n omvattende evaluering van die onderneming. Dit is noodsaaklik om die volgorde van gebeure wat tot die onderwaardering gelei het onder die loep te neem en om enige moontlike korrupsie of wangedrag in die proses te ondersoek.”

Die departement het gesê dit lyk egter of Magaxa eerder die departement en minister Pravin Gordhan van onbehoorlikheid wil beskuldig en skuldig bevind sonder enige bewyse.

Die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan (Foto: Ntswe Mokoena/GCIS)

“Magaxa het in wese ’n wettige toesighoudingsoefening in ’n kangaroehof verander waar die departement en sy personeel belaster en beswadder is ter wille van politiekery.”

Die parlementêre regsadviseur, Andile Tetyana, het verlede week in sy inligtingsessie aan die komitee verklaar het dat hy geen teken van korrupsie in die voorgestelde transaksie gevind het nie.

Volgens die departement het Gordhan aan Magaxa geskryf om te herhaal dat die Takatso-konsortium nie deur hom “met die hand uitgesoek” is nie, maar dat dit die gevolg was van ’n proses wat gelei is deur Kgathatso Tlhakudi, voormalige direkteur-generaal van die departement.

“Die minister het Magaxa ook meegedeel dat hy regsadvies ontvang het dat alhoewel die transaksie beëindig is, dokumente wat met die transaksie verband hou, vertroulik bly en in camera hanteer moet word, in ooreenstemming met die reëls van die Nasionale Vergadering.

“Die departement se fokus is tans om te verseker dat die SAL voortgaan op sy herstelpad noudat daar sekerheid is oor sy toekoms in die lig van die besluit om die transaksie te beëindig.”

Gordhan het vroeër die maand aangekondig die transaksie is van die baan nadat daar nie ooreengekom kon word op ʼn nuwe prys vir die belang in die SAL nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Danie ·

Ek dink eerder hy is bang hy gaan uitgevang word vir korrupsie.

pestilensie ·

Waarom mag die publiek nie die besonderhede van die transaksie weet nie , indie Gordhan so seker van sy saak is

MC ·

Bla bla bla, en wie ondersoek die Spesiale Ondersoekeenheid? Die spul is almal ewe korrup, as hulle se die son skyn moet ‘n mens buitentoe gaan om te gaan kyk.

Pierre ·

Hier kom weer n komisie en dan n komisie om die komisie se bevindinge te ondersoek, en dan n land uitgerekte debat, bevindinge sal gemaak word en daar sal nie opgetree word nie, die Zondo verslag het beywys die regerende party het geen lus om op te tree nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.