Goue jare wink vir dié fikse egpaar

Johan en Makkie Gouws spog met hul rits medaljes. (Foto: Verskaf)

Daar mag dalk ʼn klein bietjie meer silwer hare as ʼn paar jaar vantevore wees, maar Johan en Makkie Gouws het gewys dat hulle beslis nog goud op die atletiekbaan werd is.

Die egpaar – onderskeidelik 65 en 62 jaar oud – het met topvertonings by die afgelope Afrika-kampioenskap vir meestersatlete op die Pilditch-stadion in Pretoria vorendag gekom.

Johan het die Afrika-rekord in sy hoogspring-item verbeter, terwyl hy ook goud in die 100 m-hekkies en verspring gesmaak het. ’n Tweede plek in die 100 m het vir die silwer kersie op die koek gesorg.

Op haar beurt het Makkie goue medaljes in die driesprong en verspring ingeoes, terwyl haar spiesgooipoging van 17,22 m vir haar die silwermedalje in dié item besorg het.

As kranige hoogspring-atleet het Johan op skool en ná skool aan atletiek deelgeneem en op alle vlakke provinsiale kleure verwerf.

“Ek het egter eers weer op 45-jarige ouderdom aan meestersatletiek-byeenkomste begin deelneem en twee jaar later nasionale kleure verwerf,” het hy aan Maroela Media gesê.

Daarteenoor het Makkie haar nie veel op skool aan die aksie op die atletiekbaan of die alewige Jamblikke! Visblikke! Drie by drie!-krete op die pawiljoen gesteur nie – daar het immers meer kultuurbalkies op haar skoolbaadjie gepryk.

“Sy het eers ná haar 50ste verjaardag aan meestersatletiek begin deelneem en vanjaar vir haar nasionale kleure gekwalifiseer,” vertel Johan trots.

Die egpaar woon deesdae in die omgewing van Port Edward en hulle probeer so gereeld moontlik oefen – minstens drie keer per week. Volgens Johan is dit baie spesiaal om die fiksheidsavontuur saam met sy vrou aan te pak.

“Ons motiveer en moedig mekaar aan en ons geniet dit om saam aktief te wees.”

Terselfdertyd meen hy dat doelwitstellings ʼn belangrike bestanddeel in ʼn suksesvolle atleet se wenresep is.

“Ek dink nie ek sou fiks gebly het as ek nie vir iets spesifieks geoefen het nie. Ek glo dat ʼn mens nie net makliker deur die lewe gaan nie, maar ook die natuurlike verouderingsproses ʼn bietjie uitstel wanneer jy liggaamlik fiks bly.”

Hy praat juis weer van ʼn paar byeenkomste in die nuwe jaar.

In April 2024 word daar weer op Pilditch weggespring, terwyl die Suid-Afrikaanse kampioenskap in Bloemfontein ook op hulle wag.

Knaag die senuwees nog vóór ʼn item?

“Natuurlik. ʼn Mens sal altyd op jou senuwees wees; veral wanneer jy weet dat jy nie voldoende voorberei het nie. Tog is dit nie meer so erg soos vroeër nie, omdat ons nou veel eerder deelneem om dinge te geniet en vriendskappe met mede-atlete te bou.

“Almal is bly en dankbaar wanneer iemand presteer of ʼn persoonlikebeste-vertoning lewer.”

  • Uitslae:

Johan:

Hoogspring: 1,51 m (goud en Afrika-rekord)

100 m-hekkies: 20.71 s (goud)

Verspring: 4,14 m (goud)

100 m: 14.94 s (silwer)

Makkie:

Driesprong: 7,20 m (goud)

Verspring: 3,32 m (goud)

Spiesgooi: 17,22 m (silwer)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.