Grafika: Matrieks se wiskunde laat veel te wense oor

Die vreugdevure brand hoog oor die matriekuitslae, maar daar is plek-plek rede tot kommer. (Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Suid-Afrika benodig dringend meer onderwysers in wiskunde, wetenskap, tegnologie en ingenieurswese omdat hierdie vakke hulle ʼn grondslag gee vir studies in verskeie kritieke rigtings.

“Die gemiddelde uitslae wys egter dat gehalte-onderrig vir elke leerder ʼn ideaal is wat nog bereik moet word,” sê Baxolile Nodada, die DA se woordvoerder oor onderwys.

Die uitslae van die 2022-matriekeksamen is Vrydagoggend bekend gemaak en hoewel die groep beter gevaar het as hul eweknieë van ʼn jaar tevore, is daar steeds kwessies wat kommer wek. Leerders se geneigdheid om suiwer wiskunde as vak te neem, is een daarvan.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, sê die 2022-groep het reeds vroeg in hul skoolloopbaan spesifieke steun gekry om hul prestasie in wiskunde en tale te verbeter. Sleutel- strategiese ingrypings, soos die Nasionale Remediërende Leesplan en die Wiskunde-ingrypingsprojek, is in 2013 ingestel om prestasievlakke van ʼn vaardigheidsvlak van 50% tot 60% te verhoog.

“Die fokus van die departement van basiese onderwys om basiese vaardighede tydens die grondslagfase te versterk en geteikende ingrypings in die intermediêre fase, het ʼn positiewe uitwerking gehad om leerderprestasie te verhoog,” sê Motshekga.

“Toe hierdie groep in gr. 3 was, het byna 60% minstens 50% vir wiskunde behaal, wat ʼn aansienlike verbetering van die vorige groep was.”

Basil Manuel, uitvoerende hoof van die vakbond Naptosa, sê egter daar moet van nader na leerders se keuse van – en prestasie in – vakke soos wiskunde en rekeningkunde gekyk word.

Wiskunde vs. wiskundige geletterdheid

Altesame 460 708 leerders het in 2022 vir wiskundige geletterdheid ingeskryf, teenoor die 276 241 wat wiskunde as vak geneem het.

Hoewel daar ʼn toename was in die getal leerders wat in 2021 wiskunde en wiskundige geletterdheid geneem het, het minder leerders verlede jaar rekeningkunde, besigheidstudies en ekonomie geneem.

Net 37,2% van alle matriekleerders het verlede jaar wiskunde as vak geneem.

Die meeste van dié leerders is in die Oos-Kaap, Limpopo en Mpumalanga.

In die Wes-Kaap en Noordwes neem net ʼn kwart van alle leerders wiskunde. In die Noord-Kaap is dié syfer selfs minder en net 21% van leerders het wiskunde as matriekvak gehad.

Daar is volgens die departement se syfers ook ʼn verskil in wiskundedeelname tussen leerders wat skoolgeld betaal, diegene in onafhanklike skole en diegene wat van skoolgeld kwytgeskeld is.

Uit die leerders wat skoolgeld betaal, neem 37% wiskunde as vak, terwyl net-net 36% van diegene wat van skoolgeld kwytgeskeld is, wiskunde as vak neem.

Onder onafhanklike leerders styg hierdie syfer beduidend en 47,8% van leerders neem wiskunde as vak.

Slaagsyfer

Terwyl nagenoeg ʼn derde van gr. 12’s wiskunde neem, slaag net meer as die helfte van hulle eindelik die vak.

Die 55% van ingeskrewe leerders wat wiskunde in die afgelope senior sertifikaat-eksamen geslaag het, is boonop ʼn daling van die 57,6% van leerders wat dit ʼn jaar tevore deurgekom het.

Ook in besigheidstudies het minder kandidate verlede jaar as in 2021 die vak geslaag.

Die slaagsyfer vir tegniese wiskunde staan op 81,8% en altesame 14 657 het dié nuwe vak geneem. Tegniese wetenskap is nog ʼn nuwe toevoeging tot die leerplan en uit die 15 753 leerders wat die eksamen afgelê het, het 89,9% van hulle geslaag.

Oor ʼn daling in deelname aan ʼn vak soos rekeningkunde sê Manuel ʼn besluit van die departement ʼn paar jaar gelede, naamlik dat rekeningkunde slegs in kombinasie met wiskunde geneem kan word, kan waarskynlik hiervoor die skuld kry. Die kombinasiebepaling is intussen opgeskort, maar hy sê die daling in leerders wat die vak neem, is waarskynlik nog ʼn nalatenskap van daardie besluit.

Druk om te presteer

Alle leerders neem wiskunde of wiskundige geletterdheid en daar is groot druk op skole en provinsies om goeie uitslae te lewer, sê Manuel. Die Wes-Kaap is ʼn paar jaar gelede daarvan beskuldig dat hy te veel leerders aanraai om eerder wiskundige geletterdheid te neem in ʼn poging om punte te verbeter. Omdat die provinsie fyn dopgehou is, blyk daar ʼn verbetering in hierdie patroon te wees.

Prof. Nadine Peterson, dekaan van die onderwysfakulteit by die Universiteit van Johannesburg, sê sy is ook altyd bekommerd oor ʼn daling in die getal leerders wat wiskunde as vak neem.

“In die skoolstelsel word wiskundige geletterdheid as die makliker opsie beskou en baie kinders word daarheen gekanaliseer.

“Groter klem moet gelê word op die getal leerders wat suiwer wiskunde neem,” sê Peterson.

Die probleem met leerders wat wegskram van wiskunde, lê egter nie noodwendig net op tersiêre vlak nie, maar ook in die grondslag- en intermediêre fase. Peterson sê wiskundige begrippe moet reeds vroeg vasgelê word en daarom begin leerders van naastenby gr. 5 met wiskunde sukkel – en word wiskundige geletterdheid ʼn al hoe makliker opsie.

Wiskunde is egter deurslaggewend vir verskeie studierigtings wat medies en ingenieurswese insluit.

Peterson sê daar is wel die afgelope paar jaar groot pogings aangewend, veral by universiteite, om te verseker onderwysopleiding fokus op ʼn sterk grondslag in wiskunde en lees.

  • Grafika: Janice du Plessis

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wondermaarnet ·

Wie besluit ons het meer wiskunde onnies nodig? Dit is snert, want my kind wat haar graad cum laude geslaag het en spesialiseer in wiskunde was afgekeur om haar honeurs te doen, maar mede studente met 60% was gekeur. Geen wonder my kind wil nou landuit om elders te studeer en werk nie en ek ondersteun haar. Sy het haar genoeg afgesloof en haar vrye tyd gegee vir leerders wat net nie omgee nie. Op haar onkoste Saterdae en na-ure klasse aangebied teen geen ekstra vergoeding nie.

Nommer 7 ·

Stem saam. Kinders wil nie meer studeer nie, en die wat wel wil, kry nie almal die geleenthede wat hul verdien nie.

Nettie ·

Ek het weer die ongewilde opinie dat wiskundige begrippe TE vroeg vasgelê word.

Kinders se breine is NIE almal op dieselfde dag skielik ryp om iets te kan begryp nie. En jy kan op jou kop staan, maar as die brein nie reg is om die paadjies te vorm nie, gaan dit dit nie begryp nie.

En skielik, eendag, snap die kind dit en almal juig! Besef julle dat al die gesukkel vooraf het NIKS beteken nie? As jy dit op daardie “eendag” vir die eerste keer verduidelik het, sou hy dit OOK gesnap het. En na hy dit gesnap het, onthou hy dit of verstaan hy dit. DAN lê jy dit vas, maklik en sonder trane.

Hou op om van 6-jariges te verwag om maaltafels te memoriseer. Hou op om 3 verskillende optel metodes vir 6-jariges te leer. Hou op om hulle vroeg ryp te probeer druk. Julle doen meer skade as goed! Dis hulle wat leer hulle kan nie en leer om wiskunde en skool te haat vandat hulle 6 is! En dit net omdat hulle breintjies nog nie gereed was nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.