Gratis toegang nie net vir nasionale parke

Die Golden Gate nasionale park. (Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (SANParke) se jaarlikse Nasionale Parkeweek het Saterdag afgeskop met ʼn verrassing wat besoekers nie verwag het nie.

Sommige wildsreservate regoor die land het ook besluit om vandeesweek hul deure vir die publiek gratis oop te maak.

“Die Nasionale Parkeweek het die verbeelding van verskeie provinsiale bewaringsagentskappe geprikkel,” sê Barbara Creecy, minister van visserye, bosbou en omgewingsake.

“Die Limpopo toerisme-agentskap en die Noordwes toerisme- en parkeraad het besluit om by die Nasionale Parkeweek aan te sluit en ʼn paar uitgesoekte wildsreservate in die provinsies ook gratis vir Suid-Afrikaners oop te stel.”

Die Makuya-natuurreservaat in Limpopo is een van die reservate wat ook gratis toegang bied, asook wild-, natuur- en bergreservate soos Botsalano, Vaalkop en Kgaswane in Noordwes.

Baie van hierdie reservate het uitdagende staproetes vir besoekers om te geniet.

Die agentskappe sê toegang tot die reservate is vir die res van die naweek beskikbaar, waarna mense aangemoedig word om ander nasionale parke gratis te besoek.

Creecy sê Nasionale Parkeweek is die ideale geleentheid vir die departement om die skoonheid van die land se nasionale parke aan gemeenskappe te wys wat selde hierdie gebiede besoek.

“Die gratis toegang is daarop gemik om mense te inspireer om trots te wees op die land se natuurerfenis terwyl hulle tyd in die natuur deurbring,” sê sy.

“Bejaardes wat al hul hele lewe lank langs ʼn nasionale park woon sonder om dit ooit aan die ander kant van die heining te sien, het nou die geleentheid om die parke te besoek.”

Volgens Creecy kan daar nie weggeskram word van bewaring en die beskerming van ons land se ryk biodiversiteit nie.

“Ons werk daaraan om ons natuurlike wêreld op ʼn volhoubare manier vir huidige en toekomstige geslagte te beskerm, dus is dit belangrik om ons nasionale en provinsiale parke te populariseer deur gereelde besoeke.”

Besoekers kry van 16 tot 24 September heeldag gratis toegang tot die 21 uitgesoekte nasionale parke.

Lees hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.