Grensverskuiwende hofsaak oor beskerming van pikkewyne

(Foto: Wikipedia)

Die Biodiversiteitsregsentrum, wat BirdLife Suid-Afrika en die Suider-Afrikaanse stigting vir die bewaring van kusvoëls (SANCCOB) verteenwoordig, het vandeesweek met ʼn grensverskuiwende regsgeding oor die beskerming van die bedreigde brilpikkewyn (Spheniscus demersus) in die Pretoriase hooggeregshof begin.

Die aansoek teen Barbara Creecy, minister van bosbou, visserye en omgewing, vra dat die minister se besluit om visvangbedrywighede naby sleutelkolonies van brilpikkewyne – eerder as by “biologies sinvolle” gebiede – te verbied, hersien en ter syde gestel moet word.

Kate Handley, direkteur van die Biodiversiteitsregsentrum, sê dit is die eerste geding van sy soort in Suid-Afrika wat ʼn beroep op ʼn minister doen om haar grondwetlike verpligting – om die uitwissing van ʼn bedreigde spesie te voorkom – na te kom.

“Dit volg op haar versuim vir minstens ses jaar om biologies betekenisvolle sluitings rondom broeigebiede van die brilpikkewyn te implementeer. Dit ondanks wetenskaplike bewyse dat hierdie sluitings die spesie se toegang tot hul broodnodige sardien- en ansjovisvoedselbron sal verbeter en sodoende sal bydra om die bevolkingsafname van die brilpikkewyn te keer.”

Handley sê teen die huidige tempo van bevolkingsafname staar totale uitwissing die brilpikkewyne in die gesig.

“As daar nie meer gedoen word om die spesie te beskerm nie, kan die brilpikkewyn teen 2035 in die natuur uitsterf. Die krisis word hoofsaaklik veroorsaak deur hul gebrek aan toegang tot prooi, waarvoor hulle met kommersiële visserye moet meeding.

“Die minister het ʼn statutêre en grondwetlike verpligting om te verseker dat die nodige maatreëls getref word om die uitwissing van hierdie spesie te voorkom. Die versuim om hierdie verpligtinge teenoor brilpikkewyne, Suid-Afrikaners, die internasionale gemeenskap en toekomstige geslagte na te kom, is die rede vir ons hofgeding,” sê Handley.

(Foto: Wikipedia)

Sy meen die minister het vir meer as ses jaar haar voorkeur “vir ʼn konsensusgedrewe oplossing” bo haar verpligting geplaas om die voortbestaan ​​van die bedreigde brilpikkewyn te verseker. Dit het veroorsaak dat dié spesie se bevolking jaarliks met ongeveer 8% daal.

Dr. Alistair McInnes, programbestuurder van seevoëlbewaring by BirdLife SA, sê die brilpikkewyn se voortbestaan hang nou van die hofbeslissing af.

“Brilpikkewyne het toegang tot voedsel by hul broeikolonies nodig. Ons probeer die minister dwing deur middel van besluite wat op wetenskap en internasionaal erkende en grondwetlike voorsorgbeginsels gegrond is.”

Die kern van die aansoekers se aansoek is die minister se versuim om biologies betekenisvolle sluitings rondom brilpikkewyne se broeikolonies in te stel.

“In plaas daarvan het sy in Augustus verlede jaar die voortsetting van onvoldoende ‘tussentydse sluitings’ rondom broeikolonies by Dasseneiland, Robbeneiland, Stony Point, Dyer-eiland, St. Croix-eiland en Bird-eiland aangekondig.”

Hierdie sluitings is vir die eerste keer in September 2022 ingestel en is volgens ʼn internasionale paneel van kundiges, wat die wetenskap hiervan as deel van ʼn sogenaamde Island Closure Experiment (ICE) sedert 2008 insamel en bestudeer, onvoldoende.

“Die paneel het aanbeveel dat die sluiting van sardyn- en ansjovisvisterreine vir kommersiële kleinvisserye rondom die ses broeikolonies ʼn ‘gepaste en noodsaaklike ingrypingspoging is om die spesie te bewaar’.”

Die paneel het ook ʼn metode verskaf om die toepaslike eilandafbakenings te bepaal wat poog om die voordele vir brilpikkewyne te optimaliseer, terwyl dit ook die koste vir die klein-vissersbedryf tot die minimum beperk.

Dr. Katta Ludynia, navorsingsbestuurder by SANCCOB, sê die minister was selektief oor watter aanbevelings sy gevolg het.

“Op onverklaarbare wyse het sy versuim om die kritieke aanbeveling te volg oor hoe sluitings afgebaken moet word. Pleks daarvan het sy besluit om die betekenislose tussentydse sluitings te verleng.”

Volgens McInnes is hierdie benadering irrasioneel omdat dit eerstens onduidelik is waarom sekere aanbevelings gevolg is, maar nie die ander nie.

“Tweedens voldoen die tussentydse sluitings nie aan die doel van sluitings nie, naamlik om mededinging tussen brilpikkewyne en die kommersiële visvangbedryf vir sardiens en ansjovis te verminder.”

Die applikante voer aan dat die minister ook onregmatig opgetree het.

“Die Grondwet plaas ʼn verpligting om dringende maatreëls in te stel om die dreigende uitwissing van die brilpikkewyn te voorkom. Dit sluit in dat ansjovis- en sardien-visseraktiwiteite rondom broeikolonies verbied word. Ondanks hierdie duidelike verpligting het die minister deurlopend versuim om sulke sluitings te implementeer.”

Die aansoekers vra die hof om te verseker dat ʼn stel betekenisvolle sluitings wat met die aanbevelings van die paneel geïdentifiseer is, rondom al ses eilande ingestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Olive ·

Vreeslik jammer en behalwe vir die feit dat hulle dalk kan uitsterf ly hulle ‘n verskriklike lewe van hongersnood en stryd om oorlewing. Creecy jy het nie ‘n hart nie of jy is in die verkeerde pos. Kate Handley ek hoop julle sal die doel bereik.

Otto ·

Net nog ‘n gevolg van kaderontplooing vir haar lojale steun aan die ANC. Haar studies in politieke wetenskap is ver weg van kundigheid en begrip rondom natuurlewe en bedreigde spesies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.