Groblersdal-moord: Ondersoek eindelik afgehandel

‘n Banier wat deur een van Raymond Gregory Papapavlou se plaaswerkers voor die hof omhoog gehou is. (Foto: Tania Heyns)

Die ondersoek na die moord op Raymond Gregory Papapavlou (28) is afgehandel en die saak teen die beskuldige, Patricia Ray Lee Smith, is dié keer uitgestel sodat die dossier na die direkteur van openbare vervolging (DOV) vir ’n beslissing kan gaan.

Dít ten spyte van die verdediging se beswaar teen nóg ’n finale uitstel.

Maroela Media het vroeër berig Papapavlou se liggaam is in Oktober verlede jaar in die vroeë oggendure met verskeie skietwonde in sy huis op ’n plaas tussen Stofberg en Groblersdal aangetref. Hy het op ’n bed in een van die plaashuis se slaapkamers gelê en slaap terwyl sy vrou, Simone, glo in die sitkamer televisie gekyk het. Sy het aangevoer dat sy ’n skaduwee in die huis gesien het waarna sy ’n skoot in die rigting van die slaapkamer gehoor het. Sy het toe self skote met haar vuurwapen in die rigting van die skaduwee geskiet.

Smith was ten tye van die moord glo in ’n romantiese verhouding met Simone. Smith het Vrydag weer in die Groblersdal-landdroshof in Limpopo verskyn nadat die saak al twee keer vantevore finaal uitgestel is. Die verdediging het vanoggend aangevoer dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die staat met die ondersoek sloer en dat Smith van haar grondwetlike reg tot ’n spoedige verhoor ontneem word.

“Daar is geen rede dat die beskuldigde elke keer hof toe moet kom omdat die staat en polisie hul voete sleep nie,” het Sonja Weideman, Smith se regsverteenwoordiger, in die hof aangevoer.

Patricia Ray Lee Smith in die hof vir die moord op Raymond Gregory Papapavlou. (Foto: Tania Heyns)

“Ek het nie my voete gesleep nie,” het die nuwe ondersoekbeampte in die saak, ao. Debbie van Zyl, vanuit die getuiebank gesê. Van Zyl het die dossier in Maart ontvang nadat die vorige ondersoekbeampte van onder meer bedrog aangekla en uit die polisiediens ontslaan is.

Die ondersoek was by haar ontvangs van die dossier nog ver van afgehandel.

Volgens Van Zyl is al die DOV se vorige navrae oor uitstaande ondersoeke in die dossier sedertdien afgehandel. Dit sluit in uitstaande DNS- en ballistiese verslae sowel as ’n ontleding van selfoondata.

Weideman het daarop gewys dat die DOV in Januarie vanjaar reeds versoek het dat die uitstaande ondersoeke voltooi word en dat die ondersoek tydens Smith se vorige hofverskyning in Februarie reeds afgehandel moes wees.

“Ek kan nie meer doen as wat ek reeds gedoen het nie,” het Van Zyl volgehou.

Van Zyl sal na verwagting Maandag die dossier aan die DOV oorhandig en meen die staat het ’n sterk saak teen Smith.

Die staat het aanvanklik aangevoer dat Simone en Smith saamgesweer het om die moord te pleeg. Simone is egter tot op hede nie aangekla nie.

Die staatsaanklaer het ook Vrydagoggend ontken dat die saak teen Smith vertraag word en daarop gewys dat die ondersoek te midde van die algehele landwye afsondering moes geskied.

Die landdros het eindelik beslis dat nóg ’n uitstel in die belang van geregtigheid is aangesien die ondersoek nou afgehandel en gereed vir beslissing is.

Smith moet weer op 23 Julie in die hof verskyn. Sy is tans uit op borgtog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Cherokee ·

Wie kan wag? Wie is ‘julle’? Het jy reeds beslissing gevel terwyl die landdros dit nog nie gedoen het nie?

JohanR ·

Ummmmm……is Smith ‘n man of ‘n vrou? Jammer bietjie moelik om te sien met die masker. Patricia kan ook seker ‘n man se naam wees – soos Patricia Bheki Cele? Johnny Cash het gesing van ‘n “A Boy Named Sue.”

Nozi ·

Die berigte verwys na Smith as “haar”, so ek neem aan dit is ‘n vrou wat die manlike rol in die verhouding gespeel het.

Cherokee ·

Askies vir die duimaf Johan, maar as jy nie op datum bly met nuus wat die Maroeliaanse Gemeenskap aan jou lewer, gratis, verniet, for free en mahala binne in jou sitkamer, verdien jy dit.

Anoniem ·

Walglik. Waarom kon sy nie net sy wil skei omdat sy in ‘n verhouding met ‘nander vrou is nie. Genade om jou man te laat vermoor omdat jy nou ewe skielik besluit het om anders te raak. Waarom het sy dan getrou.

Misky ·

Ek dink nogal die saak vorder vinnig vergeleke met duisende ander sake wat jare (eintlik dekades) vat. Dis skaars 8 maande en DNS en ballistiese toetse is agter. Kyk maar na Zuma se saak en dis nou al jare en bly uitstel. Ons wil die waarheid in die saak hoor en geregtigheid vir daai arme man. So ons sal wag dankie

E ·

Ja ongelukkig het die 2 mense nou soveel ander se lewens verwoes en moeilik gemaak.

Theunis ·

As jy buite die lyne van GOD se woord loop gebeur sulke dinge. Mag altwee lewenslank in verskillende gevangenisse gebêre word.

lollapot ·

Ja, liefde is lekker, maar lekker is nie altyd liefde nie…

Niklaas ·

Al die vingers wys na Smith as die skuldige en aangeklaagde. Wat van die ander party, die moontlike mede beplanner, Simone? Sy was dalks die meester brein. Moet sy nie ook agter tralies wees nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.