Groblersdal-twee: Appèlaansoek om borgtog ingedien

Piet Groenewald tydens Woensdag se hofverrigtinge. (Foto: Isabel Venter/Maroela Media)

Die eienaar van ʼn veiligheidsmaatskappy en sy stiefseun wat van aanranding op ʼn werker beskuldig word, het die week ʼn aansoek gebring om appèl aan te teken teen die weiering van hul borgtog verlede maand.

Piet Groenewald (63), die eienaar van Wildlife Investigation and Protection Services (WIPS) en Stephan Greeff (23), albei van Limpopo, is in Februarie borgtog in die landdroshof op Groblersdal geweier.

Hul prokureur, Jacques Lessing, het Dinsdag aan Maroela Media gesê sy kliënte se aansoek is vandeesweek ingedien by die hooggeregshof in Polokwane.

Lessing verwag dat die hof binne die volgende week ʼn datum vir die aanhoor van die aansoek bekend sal maak.

Intussen het Groenewald en Greeff Maandag weer vlugtig in die landdroshof op Groblersdal verskyn.

Die twee is op Donderdag 18 Januarie in hegtenis geneem nadat ʼn klag van aanranding met die doel om ernstig te beseer deur Veneruru Kavari (30), ʼn werknemer van WIPS, teen hulle by die polisie aanhangig gemaak is.

Groenewald en Greeff sou na bewering vir Kavari met ʼn piksteel aangerand het en ook ʼn veiligheidshond aangehits het om hom te byt en hom daarna met ʼn onbekende vloeistof ingespuit het.

Piet Groenewald, Stephan Greeff, aanranding, Groblersdal, betogings,

Die beserings aan Veneruru Kavari se been waar die veilihgeidshond hom gebyt het in ‘n beweerde aanranding saak. (Foto: Isabel Venter / Maroela Media)

Die staat het tydens die borgtogaansoek, wat weke gesloer het, ʼn video in die hof gewys waarop gesien kan word hoe ʼn hond na Kavari spring.

Landdros Bogi Mashele het in sy uitspraak op 14 Februarie bevind dit sal nie in die belang van geregtigheid wees om Groenewald en Greeff op borgtog vry te laat nie. Hy het verder ook bevind daar sal vir hulle ʼn kans wees om in te meng met staatsgetuies.

Groenewald en Greeff is sedertdien in aanhouding in die gevangenis in eMalahleni in Mpumalanga. Hulle moet weer op 4 April in die landdroshof op Groblersdal verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Deon ·

Ek harder met n fiets geval as daai merk op sy been. Sensasie soeker wat deur ANCgedryf word.

Sanet ·

En natuurlik betaal die belastingbetalers sekerlik sy regsverteenwoordigers……..

George ·

@Deon, maak nie saak hoe jy daaroor voel nie, dit bly aanranding, die “hardheid” maak nie saak nie. As iemand aan my raak sonder my toestemming, veral n werkgewer, sal ek dieselfde maak.

gpsa ·

Het video gesien waar verduidelik word wat gebeur het. Die persoon wat hulle aankla was uit om moeiliklheid te maak. Hy het hulle ook gedreig met ‘n panga en was buite beheer. Hy het ook goed geweet waar die kameras was sodat dit nie opgeneem word nie. Die oomblik toe die twee hom teensit gryp hy ‘n selfoon, neem als op en versprei dit dadelik. Hy was daar vir ‘n doel.

Papsak ·

Ag asb daai merkie die anc dryf hom om dit erger te maak sien amper niks nie maar o wee nee kyk kry hulle sin op alles !!!!

msp ·

Weereens ń verwys van Apartheid en rassisme in Suid Afrika teenoor die minderheidsgroepe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.