Groeiende kommer oor Transnet-staking

Die vraghouerterminaal by die Durbanse hawe. (Foto: Transnet)

Hoe langer die staking by Transnet voortsleep, hoe meer werksgeleenthede kan in die slag bly en dit kan ʼn doodskoot vir die reeds sukkelende ekonomie wees.

Transnet het weens die staking verlede week al force majeure verklaar en kenners sê na raming kan die staking die ekonomie tussen R6 miljard en R8 miljard per dag kos.

Lede van die vakbonde Untu en Satawu het Dinsdag die staking voortgesit nadat ʼn dooiepunt tydens samesprekings oor loonverhogings Maandag bereik is. Transnet-werkers vra verhogings van tussen 12% en 13,5%, terwyl die staatsbeheerde instelling se aanbod op tussen 3% en 4% staan, afhangende van die posvlak van die werker.

ʼn Studie deur die Wes-Kaapse departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme (DEDAT) wys dat meer as 127 000 mense regstreeks in die Wes-Kaap in diens geneem word weens produkte wat daar vervaardig word of deur die Kaapstadse hawe uitgevoer word.

Nog 97 500 mense word regstreeks in diens geneem.

ʼn Verdere 55 000 werksgeleenthede word geskep danksy uitvoere deur die Kaapstadse hawe wat van buite die provinsie kom.

Hoe langer die staking voortduur, hoe meer van hierdie werksgeleenthede kan in die slag bly en sommige kenners sê die hantering van vrag by hawens kan binnekort heeltemal tot stilstand kom.

Mireille Wenger, LUR vir finansies en ekonomiese geleenthede in die Wes-Kaap, sê sy deel sakelui in die provinsie se kommer dat ʼn uitgerekte staking die ekonomie geweldige skade kan berokken en juis op ʼn tyd wat die land werksgeleenthede moet skep.

Teen Vrydag het vyf skepe buite Kaapstad se vraghouerterminale gewag om die hawe binne te kom, met nog 10 skepe wat oor die volgende week verwag word. “Dit is noodsaaklik om te verseker dat hulle kan vasmeer,” sê Wenger.

Sy sê Transnet moet verseker dat sy sakevoortsettingsplanne ten volle in werking gestel word om te verseker dat hawens en vraghouerterminale, die lewensare van die ekonomie, steeds funksioneer.

“Eindelik gaan ons burgers ly weens die gevolge van ʼn ontwrigtende staking, veral die duisende inwoners wat in landelike gebiede in die landbousektor werk. Dit is belangrik dat konsensus bereik word en daar so gou moontlik op die pad vorentoe ooreengekom word.”

Denise van Huyssteen, hoof van die Nelson Mandelabaai-sakekamer, het aan Moneyweb gesê sommige skeepsmaatskappye besoek Suid-Afrika se hawens reeds minder gereeld weens die ondoeltreffendheid daar. Die staking kan lei tot die versnelling van hierdie reeds kommerwekkende neiging.

“Die onbedoelde gevolge van die staking kan verreikende gevolge vir die land se ekonomie in die geheel inhou. Dit doen die land se goeie naam skade aan en internasionale vragoperateurs kan na ander hawens aanskuif en Suid-Afrika laer op sy voorkeurroetes afskuif.”

James Vos, Kaapstadse burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese groei, sê die stad is deurlopend in gesprek met die hawebestuurspan om op hoogte van verwikkelinge te bly en te help waar moontlik.

“Die ekonomie hang aan ʼn draadjie en werkloosheid is op nagmerriehoë vlakke. Suid-Afrika kan kwalik verdere terugslae vir groei bekostig,” sê Vos.

Die tien skepe wat oor die volgende paar dae in Kaapstad verwag word, verteenwoordig miljoene rand se in- en uitvoere en die stad doen ʼn beroep op vakbonde om na die onderhandelingstafel terug te keer en ʼn oplossing te vind.

Andrew Pike, hoof van hawens, vervoer en logistiek, het aan News24 gesê die grootste invloei van invoer- en uitvoervrag is deur vraghouerterminale en as dit tot stilstand kom, gaan ʼn groot hoeveelheid vragvloei ook tot stilstand kom. Die uitwerking op die ekonomie kan selfs erger wees indien die staking ook werkers by Transnet se spoorvragafdeling insluit. In daardie geval kan kommoditeite soos steenkool en ystererts nie die hawens by Saldanhabaai en Richardsbaai bereik nie.

Vraghouers mag ook net so lank in ʼn terminaal gehou word, voor Transnet-haweterminale hoë bergingskoste begin hef. Pike sê dit kan ʼn probleem wees indien hierdie koste nie gedurende die staking geskrap word nie.

Transnet het intussen met die erkende vakbonde Untu en Satawu op betogingsreëls ooreengekom en besluit op plekke waar vreedsaam betoog mag word.

Loononderhandelings het volgens Transnet Maandag tot in die vroeë oggendure voortgeduur en sal Dinsdag hervat word nadat alternatiewe voorstelle oorweeg is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

SjN ·

Vakbonde is n euwel, hou hul verantwoordelik vir die kostes, fire die stakers, daar is baie ander mense wat smag na werk.

De Villiers ·

Eerlike vakbonde is nodig om die klein werknemertjie te beskerm teen die groot korporatiewe instellings.

Untu en Satawu is nie eerlike vakbonde nie, hulle is ‘n klomp skurke!

KatjieDeKat ·

Solank die unies die land gyselaar hou, sal die afwaartse spiraal nooit eindig nie. Unies behoort daar te wees vir net 2 doele: 1) Om toe te sien dat werkers nie aangerand of verneder of in gevaar gestel word by hul werkplekke nie ens. 2) Om toe te sien dat hulle die maandelikse salaris ontvang WAARVOOR HULLE HUL AANSTELLINGSVORMS GETEKEN HET. Enigiets bo dit, dan sit ons waar ons nou sit. Op bitter dun ys. Totdat die ekonomie totaal vernietig is en die land inmekaarstort en NIEMAND WERK HET NIE. HELLO..IT IS NOT ROCKET SCIENCE. As jy nog n werk het, wees bly, daar is hordes mense wat werk soek. Bitter min mense is onvervangbaar.

Pietertjie ·

Vakbonde het die vorige politieke bestel help sink, hopelik sink hulle hierdie keer saam met die huidige bestel.

Frikkels ·

Dit dra nie net hulle goedkeuring weg nie, dit word deeglik beplan en georkestreer deur ons mafia regering. Net soos beurtkrag ook beplan word en ook die vernietiging van infra struktuur asook plaasmoorde!

Hendrik Marthinus ·

Ek stem glad nie saam met staking nie
Maar die regering wil glad nie billike verhogings gee vir sy mense nie. Kyk maar na Nurses, Saps, Korrektiewe Dienste wat vir 2 Jr al byna geen verhoging gekry het nie.
Hulle Moes soos ek verstaan Reeds April al verhogings gekry het. Geen stakings van hulle kant nie.
Maar kyk wat het die President stilletjies gedoen vir sy mense.
Geen krag betaal en water, maar hy bied byna niks aan vir werkers wat die ekonomie probeer herbou nie.
Hoeveel dink julle aan watter present verhoging raak dit nie, Dat ministers en deputy ministers vir 2 huishoudings nie water en elek voor hoef te betaal nie
In my opinie sekerlik 5% indien nie 6.5% nie.
Ek stem vakbonde doen nie wat hulle veronderstel is om te doen nie, maar hel mense Hoe Kan ministers wat Reeds als by a verniet kry Nog die voor deel ook kry, ten tye van finansielle ondergang

Burgermeester ·

Het ek reg verstaan? Hulle onderhandel oor betogingsreëls? Genugtig, g’n wonder niks word in die land gedoen gekry nie, want mense mors kosbare tyd om oor iets wat onwettig is to kibbel!

Di ·

Wat op dees aarde makeer die spul! Hulle is besig om die ekonomie lam te le en more breek hulle als af as daar nie meer werk of kos is nie. Die 3 grootste euwels in die land is VAKBONDE, TAXIS EN ANC KADERS

@n0Niem77 ·

Dank ieder en elk een af deel van die sirkus. Daar is 43% bevolking wat oor is en wat wil werk wat sonder werk sit

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.