Groepsgeding van miljarde oor ‘onveilige’ omgeboude taxi’s

Weens ʼn tekort aan taxi’s en ʼn baie hoë vraag daarna, is daar egter ʼn paar jaar gelede begin met die ombouing van die paneelwaens om aan die groeiende behoefte na taxi’s te voldoen. (Argieffoto: Netcare911)

Daar is in die Johannesburgse hooggeregshof begin met regstappe teen verskeie motorhandelaars en vier van die land se groot banke in ʼn poging om miljarde rande te eis namens mense wat niksvermoedend vir sogenaamde regte Toyota-taxi’s opgedok het, terwyl dit inderwaarheid onveilige omgeboude paneelwaens was.

Die aansoek is verlede week ingedien en op altesame 74 respondente beteken. Dit sluit in Toyota SA Motors, Toyota Finansiële Dienste, Wesbank, Absa, Standard Bank, Nedbank, SA Taxi Finance en verskeie gebruikte motorhandelaars.

Die saak wentel om Toyota-paneelwaens wat oorspronklik vervaardig word om slegs drie mense te vervoer, maar jare lank omgebou is om tot 16 passasiers te vervoer en dan as ʼn regte Toyota Quantum-taxi verkoop is.

Zain Lundell, ʼn litigasiespesialis wat die saak namens die kopers van dié taxi’s hanteer, sê regte taxi’s word gebou om die veiligheid van passasiers in die voertuig te verseker en bevat veiligheidsmaatreëls soos rolstawe en ʼn versterkte agterkant.

Die omgeboude paneelwaens word nié so gebou nie. Dit is gemaak om drie mense voor in te vervoer, terwyl slegs vrag in die ruim vervoer moet word. Dit is gewis nie veilig vir die vervoer van mense nie. Vensters word onder meer in die kantpanele ingesny wat die struktuur verswak, terwyl sitplekgordels aan die sitplekke en nie die voertuigstruktuur vasgemaak word nie.

Weens ʼn tekort aan taxi’s en ʼn baie hoë vraag daarna, is daar egter ʼn paar jaar gelede begin met die ombouing van die paneelwaens om aan die groeiende behoefte na taxi’s te voldoen. Verskeie Toyota- en ander handelaars wat die handelsmerk verkoop, het die voertuie omgebou, bloot sitplekke agterin op die dun vloer geïnstalleer en dit as die ware jakob aan niksvermoedende taxi-kopers verkoop.

Handelaars het ook die registrasies van die voertuie namens kopers by lisensiekantore behartig.

Lundell sê hulle het tientalle voorbeelde van kopers wat – nadat hulle besef het hulle het nie regte taxi’s gekoop nie – probeer het om dit aan handelaars terug te gee sodat dit met ʼn egte taxi vervang kon word.

Hulle het ook die banke wat die finansiering verskaf het, daaroor gekontak.

In sommige gevalle het die banke die omgeboude taxi’s teruggeneem nadat die oorspronklike eienaars nie meer hul paaiemente wou of kon betaal nie. Die banke het sommige daarvan glo opnuut op veiling aan ander niksvermoedende kopers verkwansel.

In 2007 was die prys van ʼn doelgeboude Quantum-taxi sowat R214 000 (BTW ingesluit). ʼn Kortwielbasis-Quantum-paneelwa het in dieselfde tydperk verkoop vir sowat R175 000 (BTW ingesluit) en die langwielbasis het sowat R197 500 (BTW ingesluit) beloop.

Daardie omgeboude voertuie is vir gemiddeld R250 000 elk verkoop.

Toyota Suid-Afrika weet al sedert 2005 van die onwettige ombouings maar het nietemin – nes verskeie finansiële instellings – glo self die ombouings gefinansier. Die maatskappy het vroeër gedreig om agentskappe wat onwettige ombouings doen vas te vat, maar het glo tot dusver nog nie ʼn vinger teen hulle verroer nie.

In ʼn poging om enige aanspreeklikheid te omseil het handelaars glo byvoorbeeld aanbeveel dat kliënte wat die ombouings gedoen wil hê, nie die voertuie as taxi’s registreer nie, maar as paneelwaens.

“Hulle het ʼn reusewins gemaak deur nie-gehomologeerde taxi’s te verkoop en te lieg aan die mense wat dit gekoop het,” het Lundell aan eNCA gesê.

Soms het die owerhede boonop op die omgeboude taxi’s beslag gelê omdat dit onpadwaardig was en is ʼn taxi-eienaar sy hele onderneming kwyt.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Barry ·

Haha, klink my Toyota vat shortcuts om wins te jaag. Gelukkig ry ek nie meer Toyota nie.

Johan ·

Ja wragies Barry, daai gemors staan nooit weer op my erf nie.

E ·

“Alles loop reg, altyd reg Toyota!” of nie. Skandelik wat hulle gedoen het.

Swerwer ·

Pragtig! Waar daar ‘n rokie is, is daar ‘n vuurtjie. Die geldgod het in die Minibus Taxi bedryf sy stempel afgedruk en net soos hierdie klippie in die water gegooi is en ringe maak gaan die ondersoek maar net aandui dat die geldgod sy tol geeis het.

JohanR ·

Wonder of Toyota SA Motors, Toyota Finansiële Dienste, Wesbank, Absa, Standard Bank, Nedbank, SA Taxi Finance en verskeie gebruikte motorhandelaars weet hoeveel mense se dood hulle oor die jare al verantwordelik voor is? Gee hulle om…..NAH!

Swerwer ·

Ons spot altyd en sê dat die Toyota bakkies so duur is omdat dit ‘n kursus vir padvarke insluit, nou ja, nou is die bussies goedkoper en kan hul net sowel ‘n wettige bestuurskursus saam met die minibus verkoop dan kan die bestuurders mahala verniet leer wat padverkeerstekens beteken en hoe om dit na te kom.

Jacobus ·

STOP dadelik die verkoop van enige taxi bussies in die land en verbied die verdere gebruik daarvan. Daar is groot busdienste en die treine kan dalk reggemaak word sonder om gavandaliseer te word.

SjN ·

Alles loop reg, altyd reg, Toyota. Lyk my dinge begin skeef loop vandat die perd van die logo verwyder is.

Pietertjie ·

Kan mens ‘n groepsgeding begin teen die bestuurders van die taxi’s?

Julius ·

Die paneelwa se bakwerk is net so sterk soos die bussie se bakwerk. Dis een en dieselfde bakwerk. Glo nie die storie nie.

Karlahari ·

Toyota se Ford Kuga oomblik.
Hulle het die probleem heel verkeerd benader. Toe die eerste gevalle bekend geword het, het Toyota beweer dit is nie hul plig om die VIN nommers te verifieer nie. En verdere ombouings is toegelaat.
Jammer Toyota.
Vat die een soos ‘n man en erken skuld.

JohanR ·

Hoeveel het VW nou al en nog betaal? Seker al soe $40 biljoen……

Wielspore ·

Die tragedie hiervan is dat mense vir hulle lewens betaal het deur niksvermoedend in ‘n onvelige Minibus Taxi te klim. SA het die beste grondwet in die wêreld maar ongelukkig bepaal die onderhou van die wet die sukses daarvan. Ek hoop van harte dat geregtigheid gaan geskied.

Kobus ·

En nou is almal op die lawaai wa. Die Taxi eienaars is nie so onskuldig nie. Hulle was / is deeglik bewus van hierdie ombouings. Laat almal eers hulle kaarte op die tafel sit dan sien ons wat gebeur.

Chantel ·

As iets te goed is om waar te wees, dan is dit!! Hoe, vra ek myself af, koop jy ‘n taxi vir 250 000. REGTIG, of is dit net logiesdenkende mense wat hierdie sal bevraagteken.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.