Grondeis-databasis eerste stap na stabiele landbou

Dr Theo de Jager, direksievoorsitter, en Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, stel ‘n grondeis-databasis bekend. (Foto: Du Preez de Villiers)

Ná 24 jaar kon die staat nog nie ʼn basiese verslag of ʼn voldoende lys beskikbaar stel van die grondeise wat hulle ontvang of afgehandel het nie. Weens die geheimhouding van die proses,  rompslomp en swak administrasie leen die proses hom boonop tot korrupsiegeleenthede.

Dít is die mening van dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, wat reeds sedert 2002 betrokke is by die bemiddeling van grondeise. Daarom dat Saai nou besluit het om hul eie databasis op die been te bring.

“Die onsekerheid wat die vrot administrasie van grondeise in die landbousektor teweeg gebring het, het min of meer die soort ontwrigting veroorsaak wat ons laas in die Anglo-Boereoorlog gesien het,” sê De Jager.

Volgens Saai moes die staat al lank gelede ʼn lys beskikbaar gestel het volgens die eise wat ingedien is, watter eise aan die grondeiskriteria voldoen, die eise wat reeds afgehandel is, eise wat in die Staatskoerant geplaas is en ʼn lys van die eise waaraan daar nog nie gewerk is nie.

Saai het die noodsaaklikheid besef om so gou moontlik so ʼn lys beskikbaar te stel, sodat daar ten minste op ʼn punt begin kan word waar boere meer sekerheid oor die toekoms van hul plase kan kry en derhalwe meer in landbou kan belê.

Dié organisasies het op 4 Mei 2021 ʼn Paia-versoek aan die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling (DALRRD) gestuur en versoek dat hy voorsien moet word van afskrifte van elke grondeis wat vanaf 1998 tot 2021 in die Staatskoerant geplaas is.

Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, sê die DALRRD het gesê dit sou “moeisaam” wees om aan die versoek te voldoen en hulle het verdere skrywes bloot geïgnoreer. “Op 21 Februarie 2022 het Saai ʼn hofbevel gekry wat die DALRRD verplig om die inligting aan ons te voorsien. Die departement het egter tot nou toe nog nie gehoor gegee aan die hofbevel nie, daarom stel Saai ʼn minagtingsaansoek teen min. Thoko Didiza in.”

Intussen het Saai aan die werk gespring en al die bronne wat in die openbare domein lê, soos Staatskoerante, toesprake en antwoorde in die parlement en jaarverslae van die departement gebruik om so ʼn lys op te stel. Die databasis is ook deur ʼn regsproses geneem.

Die “grootste digitale grondeisedatabasis” is Donderdag bekendgestel. Hierdie webblad maak dit vir gebruikers moontlik om hul grondeisstatus binne ongeveer 20 sekondes self te bepaal.

Om die sekerheid van grondeisstatusse wyd te laat strek, het Saai dit boonop aan alle boere beskikbaar gestel en nie net aan hul lede nie.

“Hierdie databasis is deel van ʼn omvattende, jare lange strategie om deursigtigheid en orde rakende die grondeiseproses af te dwing. Saai stel hierdie databasis beskikbaar aan die breë publiek omdat dit in die beste openbare belang is,” sê Rossouw.

“Die databasis bestaan uit alle Staatskoerante sedert 1998 waarin enigiets geplaas is oor grondeise of beweerde grondeise, soos voorgeskryf deur artikel 11(1) van die Wet op die Herstel van Grondregte (no. 22 van 1994).

Buiten die feit dat dit gebruikers toegang gee tot ʼn databasis van grondeise wat reeds in die Staatskoerant geplaas is, kan dit ook ʼn versoek aan die betrokke provinsiale grondeisekommissaris stuur om vas te stel of daar ʼn eis op ʼn gebruiker se grond is wat nog nie geplaas is nie. Dit stoor ook alle soektogte en inligting sodat gebruikers dadelik in kennis gestel kan word indien daar in die toekoms ʼn eis opduik.

“Die onsekerheid en verminkende invloed wat ʼn chaotiese grondeisekantoor op landbou het, is onbekostigbaar en soos in vele ander sektore van die ekonomie is daar vir Suid-Afrika nie meer ʼn ander alternatief as om deur die howe beter dienslewering en bestuur af te dwing nie,” sê De Jager.

Die platform is hier gratis beskikbaar vir lede van die publiek.

Saai sê die volgende fase van die platform sal ook huurarbeidereise bevat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

domheks ·

Ek wonder of cANCer ooit iets reg gedoen het in die land – behalwe toi-toi, daar kan hulle baie energie en tyd aan spandeer!

Di ·

Natuurlik sal hulle traag wees om dit te verskaf! Daar het seker weer KORRUPSIE plaasgevind, daarom ignoreer hulle die versoeke

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.