Groot beloning vir opspoor van gesteelde kookolie

Werkers by die aanleg is aangehou en drie vragmotors is met ʼn aansienlike aantal 2 ℓ-bottels Sunfoil-kookolie volgepak voor die rowers vort is. (Foto: Willowton-groep)

Die Willowton-groep, desperaat op soek na twee vragte kookolie wat Woensdag by een van sy pakhuise gesteel is, het ʼn beduidende beloning aangebied vir inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming van die kookolie-rowers en/of die terugvind van die olie wat gebuit is.

Rowers het Woensdagoggend in Kempton Park by ʼn pakhuis van die maatskappy toegeslaan. Werkers by die aanleg is aangehou en drie vragmotors – wat vermoedelik vroeër gesteel is – is met ʼn aansienlike aantal 2 ℓ-bottels Sunfoil-kookolie volgepak voor die rowers vort is.

Geen werkers is tydens die roof beseer nie en die maatskappy het reeds traumaberading vir hulle beskikbaar gestel.

Die maatskappy het ook ʼn saak by die polisie aanhangig gemaak en ʼn beloning van R100 000 uitgeloof vir inligting wat met vordering in die ondersoek kan help.

Die polisie en die veiligheidsmaatskappy Vision Tactical het deurnag na die vragte gesoek en een van die vragmotors is Woensdagaand in Vanderbijlpark teruggevind. Verskeie verdagtes is ook in hegtenis geneem.

Willowton sê omdat die ondersoek tans in ʼn sensitiewe stadium is, kan verdere inligting nie bekend gemaak word nie.

“Ons werk steeds saam met die polisie en ons sekuriteitsvennote om die oorblywende twee vragte voorraad wat steeds soek is, op te spoor.”

Kookolie, ʼn basiese stapelitem in die meeste huishoudings, se prys het die afgelope paar maande die hoogte ingeskiet.

Willowton het nou ʼn beroep op mense gedoen om egter nie enige van die gesteelde voorraad te koop nie. “Die polisie en die sekuriteitsmaatskappye wat die voorraad probeer opspoor, weet wat die besendingkodes is,” lui ʼn verklaring van die maatskappy.

  • Enigiemand met inligting oor die gesteelde kookolie kan dit by 082 888 7813 aanmeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Manie ·

Het iemand dalk ‘n resep uitgevind wat kookolie na diesel kan verwerk?

Nommer 7 ·

Ou tipe diesel enjins loop maklik op skoon kookolie. Die uitlaat gas ruik dan ene “popcorn”. Diesel enjins is per slot van rekening oorspronklik ontwerp om op katoensaad olie te loop.

Waarnemer ·

Hou jullwboge ooo mense,iewwrs erens gaan ons 2 ltr Sun flower kookolie goedkoop te koop kry…dit sal mos nou n bonus wees in hierdie tyd waar kookolie bo R100.00 is.

Di ·

Begin deur die baasbrein BINNE die maatskappy te soek! Meeste gevalle ‘n inside job

Willem ·

Iemand wil n vis en chips winkel oopmaak en benodig sonneblom olie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.