Groot bewustheid ná projek wat flaminke red

Bolhuis het saam met verskeie organisasies en talle vrywilligers gewerk om die nagenoeg 2 000 kuikens by die droogtegeteisterde dam te red deur hulle na ander gebiede te neem. (Foto: Verskaf)

Drie jaar nadat ʼn reuseprojek van stapel gestuur is om ʼn groep flaminke by die Kamfersdam net noord van Kimberley in die Noord-Kaap te red, het die poging tot groot bewusmaking oor dié voëls gelei.

Die reddingsprojek is in 2019 van stapel gestuur nadat flaminke hul neste, eiers en kuikens verlaat het weens droogte. Die dam het net meer as drie jaar gelede opgedroog weens uiterste temperature, lae reënval en gebrek aan genoeg water om die watervlak in stand te hou.

“Die projek het gelei tot geweldige blootstelling en selfs groot internasionale ondersteuning. Daar was oproepe en steun uit die vreemdste, snaaksste lande – amper soos ʼn flamink-manie,” sê Mike Bolhuis, ʼn private speurder en groot diereliefhebber, wat die projek gedryf het.

Hy bestempel die projek as “ʼn lig wat skielik oor die flaminke geskyn is”, met vrywilligers, lede van die publiek, bewaringsorganisasies en staatsdepartemente wat almal ingespring het om te help.

Bolhuis het saam met verskeie organisasies en talle vrywilligers gewerk om die nagenoeg 2 000 kuikens by die droogtegeteisterde dam te red deur hulle na ander gebiede te neem.

Die afgelope paar jaar is daar hard gewerk om die kuikens by verskeie fasiliteite in die Noord-Kaap, Gauteng en KwaZulu-Natal te plaas.

Bolhuis is ‘n groot diereliefhebber en het self ‘n groep flaminke. (Foto: Verskaf)

Die flaminke mag nie sonder ʼn permit aangehou word nie en benodig ʼn hoogs gespesialiseerde dieet. Hulle is ook sosiale voëls wat deel van ʼn groot groep moet wees, sê Bolhuis.

Bolhuis sê al die voëls is intussen hervestig. Sommige van die flaminke het opsporingstoestelle gekry en het reeds van die Kamfersdam na tientalle plekke landwyd gemigreer. Wilde flaminke is onder meer by Walvisbaai en buite Cullinan opgemerk.

(Foto: Verskaf)

ʼn Groep van sowat 200 voëls, wat in een of ander stadium beserings opgedoen het of ʼn vorm van gestremdheid of afwyking het, word steeds by die Lory Park-dieretuin aangehou. Dié voëls sal weens hul gebreke nie weer in die natuur vrygelaat kan word nie en het ʼn permanente heenkome by die park gevind.

“Sommige het al begin neste maak en gaan lekker te kere,” sê Bolhuis. Hy verduidelik dat hierdie groep voëls byvoorbeeld by geboorte reeds een of ander gebrek gehad het, deur van die volwasse voëls beseer is, of skade aan hul oë opgedoen het. Hulle floreer nietemin.

Bolhuis sê hulle is geweldig trots op elke mylpaal wat bereik is en uiters dankbaar vir almal se betrokkenheid en verbintenis tot die projek. (Foto: Verskaf)

Bolhuis sê een van die suksesvolste kenmerke van die projek was die enorme bewusmaking wat geskep is. Daar is sedertdien baie meer inligting beskikbaar oor die waar wilde flaminke opgemerk word en mense doen moeite om dit aan te meld. Dieselfde geld vir beseerde voëls. “Ons het al honderde kilometer ver gery om beseerde voëls of ander diere te gaan red nadat mense dit raakgesien en aangemeld het.

“Die redding en uiteindelike vrylating was historiese gebeure wat nog nooit tevore probeer is nie. Ons is geweldig trots op elke mylpaal wat bereik is en uiters dankbaar vir almal se betrokkenheid en verbintenis tot die poging.”

Bolhuis sê ook geen tyd mag gemors word om ʼn dier in nood te help tot hulle genees en weer in die natuur vrygelaat kan word nie – ʼn proses wat soms lank kan duur.

By die Kamfersdam, waar die kuikens aanvanklik gered is, is die water intussen op die hoogste vlak in tien jaar, hoewel daar in hierdie stadium net ʼn klein bevolking flaminke is. Weens die groot hoeveelhede water broei die flaminke nie tans nie omdat daar nie veel ruimte is om neste te bou nie.

Die Kamfersdam is op die hoogste vlak in jare. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Casper ·

Ja en as jy na Mike Bolhuis op televisie kyk kan jy nie glo dit is dieselfde persoon nie.Hy kom robuust voor maar het tog ‘n klein sagte hartjie veral vir sy vrou en kinders.Dankie Mike.

Sê maar net ·

Welgedaan aan Mike Bolhuis en almal wat betrokke is en gehelp het. Dit verwarm ‘n mens se hart en gee mens hoop, in hierdie dae wat slegte nuus hoogty vier.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.