‘Groot fout’ met matrieks se geografiepunte

skole matrieks matriek matriekeksamen onderwys

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Maroela Media)

ʼn Beduidende daling in die punte wat matrikulante in verlede jaar se eindeksamen vir geografie behaal het, het leerders én onderwysers van toonaangewende Afrikaanse skole onkant betrap.

Leerders se punte het in sommige gevalle met tot 30 persentasiepunte gedaal en selfs toppresteerders sit nou met power eindeksamenuitslae in dié vak, wat skynbaar nie hul vermoëns en prestasie akkuraat weerspieël nie. In sommige gevalle het leerders wat gewoonlik onderskeidings behaal het, selfs hul beurse of universiteitskeuring weens hul swak geografie-uitslae verbeur.

Dít nadat opdragte, vraestelle, punte en nasienwerk regdeur die jaar deur die onderwysdepartement gemodereer is en onderwysers en leerders op dreef was met hul voorbereiding vir die eindeksamen.

Klagtes oor die geografie-uitslae het by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) ingestroom, kort ná die uitslae bekendgemaak is.

Die SOS het reeds verskeie navrae aan die departement in dié verband gerig, maar nog geen terugvoer ontvang nie.

Die sondaar is vermoedelik die departement se rigiede memorandum wat leerders glo benadeel indien hul antwoorde nie woord vir woord met dié memorandum strook nie, meen Hugo Vermeulen, hoof van opleiding aan die SOS.

ʼn Rekordgetal leerders het boonop verlede jaar geografie as vak geneem en nasionaal met 24% vermeerder van 287 629 leerders in 2020 tot 358 655 in 2021. Slegs 0,5% het egter ʼn onderskeiding in die vak behaal.

Die uitslae herinner aan dié van Besigheidstudies in 2019, toe die getal druipelinge binne ʼn kwessie van twee maande drasties toegeneem en leerders se gemiddeld vir die vak in sommige gevalle met 20 persentasiepunte gedaal het.

In dié geval het die SOS se eie ondersoek bevind dat sowat 80% van die vraestel woord vir woord met die departementele hulpgids Mind The Gap ooreenstem. Hierdie hulpgids was aanvanklik slegs in Engels en aan gr. 12-leerders in onderpresterende skole beskikbaar gestel. Die SOS het egter ’n onderwyser van Noordwes ingespan om Mind The Gap vir besigheidstudies in Afrikaans te vertaal.

Daar word vermoed dat dieselfde probleem by die opstel en gebruik van die geografie-memorandum ingesluip het.

Vermeulen sê die wanverhouding met die punte het soos ʼn seer oog uitgestaan toe die sentrum vanjaar die uitslae van die top-20 Afrikaanse skole (kwintiel-5) met die top-20 Engelse skole vergelyk.

“Met al die groot vakke was die punte en prestasie konstant en gebalanseerd. Toe ons egter na die geografie-uitslae kyk, lyk dit asof Afrikaanse skole heeltemal uit die bus geval het. Ons het dadelik besef hier is groot fout. Die punte was boonop erg teenstrydig met die gemodereerde jaarpunte wat leerders in dié vak behaal het.”

Punteskok

Onderwysers en departementshoofde van verskeie skole het op voorwaarde van anonimiteit met Maroela Media gepraat en gesê hulle was uiters geskok oor die finale uitslae. Dié onderwysers is ook van mening dat die memorandum leerders gepootjie het.

Een onderwyser sê dat sommige leerders bykans ʼn 30%-verskil in hul jaarpunt teenoor dié op hul finale rapporte getoon het.

“Ons sit met ʼn top- akademiese leerder wat 93% as skoolgebaseerde assesseringsjaarpunt (SBA) behaal het, 83% vir die rekordeksamen en ʼn finale rapportpunt van 77% gehad het.

“Nog ʼn leerder wat onder die skool se top-15 was, het ʼn SBA-jaarpunt van 90% in geografie behaal, 70% in die rekordeksamen en ʼn rapportpunt van 50% gehad.”

Volgens die onderwyser word kinders onregverdig behandel en benadeel.

“Alle geografietoetse en -take was deur die jaar op standaard en deur die departement gemodereer.

“Die kinders het bitter hard gewerk om goeie punte in geografie te behaal en die eindeksamenuitslae was ʼn enorme skok vir ons almal. Ek dink die probleem lê beslis by die memorandum. Hulle merk hopeloos te rigied.”

Die eindeksamen tel boonop 75% van leerders se finale punte, terwyl jaarpunte net ʼn gewig van 25% dra.

Nog ʼn onderwyser by ʼn Gautengse skool vrees dat die vak sal uitsterf indien daar op dié manier te werk gegaan word.

“Wat my ernstig opgeval het, is die aantal onderskeidingsopstuurpunte wat ons gehad het, met slegs twee leerders wat op die ou einde toe wel onderskeidings behaal het. Daar is bykans ʼn 10%-verskil in die gemiddeld van die opstuurpunt teenoor die finale gemiddeld.”

Sy sê dit was verder opvallend dat toppresteerders tussen vyf en sewe onderskeidings vir hul ander vakke behaal het, maar nie vir geografie nie.

Die onderwyser sê haar skool het ernstige gesprekke in dié verband met hul departementele fasiliteerder gehad.

“Meer as dit kan ons tog nie doen nie. Dit maak my woedend as ek weet dat leerders wat hard werk  weens ʼn fout in die stelsel benadeel word.”

ʼn Onderwyser by ʼn tweetalige, multikulturele skool sê dat sy skoon siek gevoel het toe sy die uitslae sien.

“Ek kon my oë nie glo nie. Ek het gevoel ek is die swakste onderwyser op aarde.”

Sy sê daar is al by vergaderings met die departement gesê dat leerders die vrae verkeerd interpreteer en dat hulle nie antwoorde en definisies presies verskaf soos dit in die handboek staan nie.

“Hulle verwag met ander woorde dat leerders ‘afgerig’ moet word.”

Sy meen daar moet ʼn intensiewe en onpartydige ondersoek wees na hoe die vraestel geïnterpreteer is en dat gesoute geografie-onderwysers van verskillende skole die geleentheid moet hê om self die vraestel te modereer.

“Papegaaionderrig” benadeel leerders

Vermeulen sê hy raai skole en onderwysers aan om intussen kennis te neem van die departement se Mind The Gap-dokument en hulself daarvan te vergewis.

Hy glo egter nie dat dit ʼn werkbare oplossing vir die probleem is nie.

“Ons is ten gunste van gehalte-onderrig, eerder as afrigting. Deur kinders af te rig, verswak jy hul intellektuele vermoëns. Dit benadeel ook hul voorbereiding vir tersiêre onderrig.”

Vermeulen sê die enigste oplossing is dat die merkproses gestandaardiseerd en billik moet wees.

“As ʼn vraestel op standaard is, moet kinders die punte verdien vir die werk wat hulle ingesit het. Dan sal jy ʼn natuurlike kurwe sien wat uitslae betref.

“Ons moet hoër denke bevorder met ons onderrig en assessering.”

Skole en onderwysers wat meer inligting oor Mind The Gap wil hê of met SOS in verbinding wil tree, kan ʼn e-pos na [email protected] stuur of die terugvoervorm oor die geografie-uitslae aanlyn voltooi. Die Mind The Gap vir geografie is in Afrikaans beskikbaar.

Maroela Media het ʼn navraag aan die departement gestuur, maar geen terugvoer ontvang nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Marius

Dit is ‘n direkte gevolg van politieke inmenging.

Pietertjie

Geografie? Hulle sou beter gevaar het met aardrykskunde.

Boer

Die groot probleem is die mense wat die toetse merk. My vrou is n Afrikaanse onderwyserres en HOD van hulle skool want matrieks klas gee en die mense wat hoof merkers is en wat goed gekeer word om te merk kan nie eers behoorlik Afrikaans praat nie. Ek wil nie kleur voor gooi nie maar julle kan vir julle self dink wie word bevoordeel om matriek vraestelle te merk. My vrou doen nou al die afgelope 5 jaar aansoek en word afgekeer oor vel kleur.

Wim

In 2018 het dieselfde met Besigheidsstudie gebeur. SOS het dit ook probeer uitsorteer. Daar het dadels van gekom. Dit gaan nou weer gebeur. Dis wat gebeur as die merkers nie Afrikaans magtig is nie.

SwartBees

Hoekom is ek glad nie verbaas nie.?!