Groot hulp ná storms ook Kaapse dierekliniek beskadig

Deur Lara Smith

Die Mdzananda-dierekliniek se instandhoudingspan was die afgelope tyd druk besig met herstelwerk. (Foto: Verskaf)

Hulp het ingestroom vir die Mdzananda-dierekliniek in Khayelitsha in die Wes-Kaap nadat erge storms groot skade aan dié kliniek aangerig het.

Nie net het die publiek hul harte en beursies oopgemaak nie, maar ook die dierewelsynsorganisasie Four Paws.

Volgens die dierekliniek het storms wat vroeër die maand in die provinsie gewoed het, sowat R40 000 se skade aan die kliniek aangerig. Veral heinings en dakke is beskadig, sowel as twee verwarmers wat die kliniek se vierpotige pasiënte warm hou.

Dit het die kliniek genoop om die publiek om hulp te vra.

Marcelle du Plessis, fondsinsamelings- en kommunikasiekoördineerder by Mdzananda, sê die kliniek is egter “stomgeslaan” oor die groot ondersteuning wat hy tot dusver ontvang het.

“Nie net het ons finansiële skenkings ontvang nie, maar ook ʼn groot aantal e-posse en oproepe van mense wat aangebied het om ons te help.”

Heinings en dakke is beskadig asook twee verwarmers wat die kliniek se vierpotige pasiënte warm hou. (Foto: Verskaf)

Du Plessis sê die skenkings is boonop veel meer as die R40 000 wat die kliniek nodig gehad het.

“Die skenkings het ons met die nodige herstelwerk gehelp en alle ekstra geld sal nou gebruik word om beseerde diere te behandel en na die hawelose katte en honde in Khayelitsha om te sien.”

Mdzananda behandel maandeliks ongeveer 1 500 diere. Die meeste hiervan is katte en honde. Dit is ook die enigste kliniek en skuiling van sy soort in die Khayelitsha-omgewing.

Heidi May, algemene bestuurder van Mdzananda, benadruk dat die kliniek ʼn groot rol in die gemeenskap speel, veral omdat inwoners nie altyd self die vermoë het om na hul diere om te sien nie.

Heinings en dakke is beskadig asook twee verwarmers wat die kliniek se vierpotige pasiënte warm hou. (Foto: Verskaf)

“Sonder ons dienste sal honderde beseerde en sieklike diere met pyn saamleef of doodgaan. Die meeste mense met diere in die gemeenskap kan nie altyd private veeartse bekostig nie. Ons voorsien hierdie diens terwyl ons mense ook leer hoe om hul diere te versorg.

“Daar is steeds baie liefdevolle diere-eienaars wat hul troeteldiere vir proaktiewe sorg soos inentings en sterilisasie bring. Hierdie gevalle neem elke dag toe en dit is ’n plesier om dié diere te behandel,” sê May.

Die kliniek se instandhoudingspan was die afgelope tyd druk besig met herstelwerk. Kontrakteurs is aangestel om die dakke te herstel en twee eksterne verwarmers is vervang.

“Ons is baie dankbaar dat geen diere by die skuiling deur die storms beseer of geraak is nie, en ons is innig dankbaar vir die publiek se ondersteuning,” sê Du Plessis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marcha ·

So dankbaar aan almal wat hul tyd en resources beskikbaar stel.

trotsNAMSA ·

Dankie aan almal wat gehelp het om dié wonderbaarlike diere hospitaal te herstel. Aan die dokters en res van personeel, julle in kosbaar voor die HERE.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.