Groot opgewondenheid oor algehele sonsverduistering

sonsverduistering, VSA, kamera, Nasa, ruimte, Sansa

John Bills- toets sy kamera in Cape Vincent, New York, op die vooraand van ’n algehele sonsverduistering wat vanaf sekere gedeeltes van die VSA gesien kan word. (Foto: Stan Honda / AFP)

ʼn Seldsame algehele sonsverduistering wat Maandag oor dele van die VSA en Mexiko gesien kan word, het talle mense gaande. Duisende sonkykers het oor die naweek al begin saamtrek om dié verskynsel te beleef, berig AFP.

Feeste, kyk-partytjies en selfs ʼn massatroue word langs die “roete” beplan wat die verduistering gaan volg.

Die maan sal in Amerikaanse middagtyd voor die son begin inskuif en vir ʼn paar minute sy strale geheel en al verduister. Kykers sal eerste die sonsverduistering kan waarneem wanneer dit oor Mexiko se Stille Oseaan-kus beweeg. Van hier af sal dit noordoos oor 15 state beweeg en dan verder aan na Kanada en die vasteland oor Newfoundland.

Die verduistering sal oor 185 km strek en na verwagting gaan byna 32 miljoen Amerikaners die kans kry om dit eerstehands te sien. Dit is nou as reën en bewolkte weerstoestande nie aardkykers se pret bederf nie. Die verwagte weerstoestande vir veral die suidelike en sentrale dele van die VSA is juis reënweer en oortrokke lug.

“Sonsverduisterings het ʼn spesiale krag,” het Bill Nelson, administrateur van die ruimte-agentskap Nasa gesê. “Hulle raak mense en skep ʼn eerbied by hulle vir die skoonheid van ons heelal.”

Die volgende algehele sonsverduistering wat die VSA sal ondervind, is eers weer in 2044.

In die VSA probeer verskeie ondernemings voordeel trek uit die gebeure met spesiale geleenthede wat gereël word. Verskeie skole langs die sonsverduistering se roete sal vir die geleentheid sluit of leerders mag vroeër huis toe gaan.

Kan SA’ners ook sonsverduistering sien?

Op tuisbodem sal Suid-Afrikaners egter die sonsverduistering slegs aanlyn kan volg.

Dr. Martin Snow, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Nasionale Ruimteagentskap (Sansa) se navorsingseenheid oor ruimte-weerverskynsels, sê Suid-Afrika se volgende algehele sonsverduistering sal eers weer op 6 Julie 2028 wees.

Gedeeltelike sonsverduisterings is amper alledaags, maar dit is skaars dat ʼn algehele sonsverduistering plaasvind en terselfdertyd gebeur waar mense dit kan sien.

“Jy sal soms sien dat ʼn sonsverduistering oor die see gebeur, waar slegs dié wat bereid is om ʼn boot te huur, dit kan besigtig,” verduidelik Snow.

“Die verduisterings, waar die hele maan die son uitblok en die hoeke net reg in lyn, is eintlik baie skaars.”

As die weer in die VSA saamspeel, sal kykers daar ook kan beleef hoe diere tydens so ʼn verduistering optree.

“Dit is surrealisties, die voëls hou amper dadelik op met dit wat hulle doen, want hulle dink natuurlik dis donker en tyd om te gaan slaap.”

Vir diegene wat wel Maandag se verskynsel in die VSA wil volg, is daar verskeie webblaaie wat dit aanlyn sal stroom. Snow beveel Nasa se YouTube-kanaal aan.

Suid-Afrikaners sal egter eers omstreeks 20:00 moet inskakel om die gebeurtenis te volg.

Wetenskaplikes oor die wêreld heen sal ook die verduistering volg, veral omdat dit makliker is om verandering in die oppervlak van die son te sien wat gewoonlik verblindend is.

“Sommige wetenskaplikes volg die verduistering se skaduwee in spesiale vliegtuie vir dié soort navorsing; dit is nie aldag wat ʼn mens die geleentheid kry nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

George ·

Ek onthou toe dis sigbaar was in SA, wat n belewenis. Volgende een 2030 vir ons.

Korrelkop ·

Waars al die profete en waarseers nou? Dog die aarde sou vergaan het… nou moet ek alweer terug werk toe!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.