Groot planne vir ou skougronde in Pretoria

Pretoria-skougronde soos dit destyds daarna uitgesien het (Foto: @Mollenmashimbye/Twitter)

Die Pretoria-stadsraad het groot planne in gedagte om die ou skougronde in Pretoria te omskep in ʼn handelsentrum met ʼn hotel en konferensie-, kantoor- en residensiële geleenthede.

Kingsley Wakelin, LUR vir korporatiewe en gedeelde dienste by die stadsraad, sê die stadsraad het in Junie 2022 die groen lig gegee dat ʼn oop en mededingende bieproses beskikbaar gemaak kan word vir enige ontwikkelaar wat die skougronde wil huur en die stadsraad se visie vir die eiendom wil realiseer.

“Hierdie huur sal ʼn 50 jaar-termyn wees wat die ontwikkelaars in staat stel om beduidende beleggings in die eiendom te maak tot voordeel van die stad en sy inwoners.”

Om die eiendom meer aantreklik te maak vir ontwikkelaars, is die stadsraad besig met konsolidasie- en hersoningsprosesse om die beste aanbiedings te bekom. Ontwikkelings sal dan plaasvind sodra die ontwikkelaar met die beste aanbod aangekondig is.

“Hierdie ontwikkeling moet bo verdenking wees en te alle tye in die beste belang van inwoners,” sê Wakelin.

Die planne om die skougronde te omskep in ʼn geleentheidsvenue sal die ontwikkelingsmoontlikheid van die eiendom ontsluit en nodige ekonomiese ontwikkeling en werksgeleenthede vir inwoners van Pretoria verseker.

“Die eiendom was tussen 1995 en 2021 onder die bestuur van die Pretoria- sake- en landboukorporasie waar dit ongelukkig in onbruik verval het. Dit het ons genoop om die eiendom terug te neem om dit teen verdere verval te red.”

Privaat sekuriteitsmaatskappye beveilig tans die eiendom nams die stadsraad. Dié maatskappye het egter hul plig versuim en dit het tot vandalisme en rommelstrooiery gelei. “Die stadsraad sal die maatskappye op terme plaas om hul wagte te hersien en veiligheid op te skerp sodat die skougronde ʼn aantreklike en lewensvatbare beleggingsgeleentheid bly.”

Wakelin sê die stadsraad sal ook met opknappingswerk begin om die eiendom vir korttermyn verhuring gereed te kry. “Dit sal die stadsraad help om voordeel te trek uit die eiendom terwyl konsolidasie- en hersoningsprosesse voortduur. Een van die moontlike huurders is die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) wat hul belangstelling aangedui het om dit as ʼn basis vir die algemene verkiesing in 2024 te gebruik en om ʼn deel van die eiendom oor die lang termyn te gebruik vir die 2026-plaaslikeregeringsverkiesing. Ons verwelkom die OVK se aanbod en is daartoe verbind om dit te laat gebeur.”

Die stadsraad nooi alle belangstellend ontwikkelaars om na Group Property uit te reik met enige navrae en om op die uitkyk te wees vir die tender wat binnekort gepubliseer word.

“Ons is vasbeslote om alle ontwikkelingsmoontlikhede in die stad te ontsluit om ekonomiese groei en werksgeleenthede te bevorder om Pretoria ʼn stad te maak wat vir almal werk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Johann ·

Nog ‘n eens pronk fasaliteit het ontaard in ‘n hool. En dit sluit die area om dit in en enige roetes soontoe.

Miskruier ·

Ek stem, kom Limpopo toe vir die dag, kos net soveel maar jy kuier by jou soort, vars lug en sonskyn.

Hennie ·

Dit sal soos baie ander dinge net ‘n mors van geld wees. Niemand wil Pretoria-Wes toe gaan nie, die hele area is vervalle, dit lyk soos Mogadishu. Vra my, ek weet ek het daar grootgeword. Dis vuil en onveilig!

etienne ·

Al betaal hulle my om pta-wes en omgewing te besoek, sal my veiligheid eerste kom……..bly weg

Koos 100 ·

Die privaat sekuriteit kan maar ook gestaak word. Die plek is ‘n hool en vol met plakkers, of beveilig hulle die plakkers?

Anel ·

Dit was so mooi dae en as kind kon ons nie wag vir die jaarlikse skou nie. En toe verval alles. Ek glo nie enige oordentlike ontwikkeling gaan dit onder hierdie regering kan red nie. En dit is so onveilig daar!!!!

Amelia ·

Ja it is ongelukkig waar dit het in hool verander pretoria wes lyl a; soos ashoop en ongelukkig doen niemand iets aan mors jorse nie mense naby skougronde gooi askanne voor hekke by skougronde uit al hoewel dit gereeld daar skoon gemaak geword het in aand skoon ogend lyk maar weer net so Dit is jammer dat ons nie meer n skou het n ie was heerlik maar aan ander kant met loadshedding is dit ook seker nie meer moontli knie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.