Groot pogings om howe se ligte aan te hou

Die hooggeregshof In Pretoria. (Foto: Twitter)

Die departement van justisie en konstitusionele ontwikkeling sê hy doen alles moontlik om te verseker die land se howe bly werk – ten spyte van voortslepende beurtkrag – en “om te verseker dat die ontwrigting van bedrywighede tot die minimum beperk word”.

Chrispin Phiri, woordvoerder van die departement, sê die departement werk saam met die departement van openbare werke en infrastruktuur om 80 kragopwekkers by howe reg oor die land te laat installeer.

Die twee departemente het ook ʼn projek van stapel gestuur om wisselrigters of sonkragstelsels by verskeie howe te laat installeer.

“Die projek is tans in verskillende fases van inwerkingstelling in die verskillende provinsies,” sê Phiri.

Volgens die departement sal afdelings van die hooggeregshof en appèlhof in die meeste provinsies voorkeur bo laer howe geniet.

Agt kragopwekkers sal na verwagting eersdaags by dié howe geïnstalleer word:

  • Die hooggeregshof in Pietermaritzburg;
  • Die arbeidshof en arbeidsappèlhof in Durban;
  • Die hooggeregshof in Pretoria;
  • Die hooggeregshof in Middelburg, Mpumalanga;
  • Die hooggeregshof op Thohoyandou in Limpopo;
  • Die hooggeregshof in Kaapstad;
  • Die arbeidshof en arbeidsappèlhof in Kaapstad; en
  • Die hooggeregshof in Bisho.

“Wisselrigter-batteryrugsteunstelsels (UPS) is aan al die hooggeregshowe se bedieners verskaf om te verseker dat geen data verlore gaan nie,” sê Phiri.

“Nog UPS-eenhede is egter nodig vir die howe se opnemer-tegnologie om te werk.”

Kwytskelding gevra

Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, het reeds in ʼn skrywe aan die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, asook die minister van elektrisiteit, gevra dat howe moontlikheid van beurtkrag kwytgeskeld kan word.

Intussen is noodligte reeds vir hofselle en ander donker dele van hofgeboue aangeskaf en die howe wat reeds kragopwekkers het, sal van diesel voorsien word om hul bedrywighede voort te sit.

“Die personeel in howe gaan voort om die publiek te bedien tydens beurtkrag, maar fokus eerder op administratiewe prosesse wanneer daar nie krag is nie,” sê Phiri.

Lamola sê amptenare probeer hul bes om by die kragsituasie aan te pas.

“Ons doen alles in ons vermoë om by die uitdagings wat beurtkrag veroorsaak, aan te pas. Ons probeer ook alles moontlik doen om geregtigheid te verseker.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

miche ·

Maar Soweto en kie het dan krag, waarvan die meeste nie betaal nie.
Hoe dan nou?

Amelia ·

Sake word te veel uitgestel Waar minister van krag dan nou gedink die loadsheding is verby hahaha sal ook nie gebeur nie sal maar seker vir nog 30jaar loadsheding he soveel geld word spandeer aan kragopwekkers oral ruk eskom reg en kry klaar dis al wat loadsheding gaan stop

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.